Afrikaanse Bybel 90 jaar!

Op Sondag 27 Augustus 1933 is die Afrikaanse Bybel amptelik deur die kerke in gebruik geneem. Ons het op Sondag 23 Augustus 2023 die 90ste herdenking van die Bybel in Afrikaans gevier. Ek is versoek om ‘n oorsig te gee waarom Bybelvertaling vir die kerk belangrik is en hoe die Bybel in Afrikaans tot stand gekom het.

Ek plaas dit ook hier vir wie sou belangstel.

Die Covid inenting en 666


Foto geneem van: goodquestionblog.com

In reaksie op my vorige artikels, is een van die argumente wat ek dikwels teëkom, soortgelyk aan die volgende: “Wat van die waarskuwing in Openbaring 13? Daar staan in vers 16 – 17: “…en hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hul regterhand en op hulle voorhoofde gegee word: sodat niemand kan koop of verkoop nie,…” Is hierdie inenting nie die merk van die dier nie, want mense word reeds verbied om te koop (restaurante, museums, ens)? … Satan gaan mense verlei en hulle gaan die merk gegee word sonder dat hulle weet omdat hulle soos skape agter die massas aanloop.

Continue reading

Inentings: is dit wetenskap of die Bybel wat bepaal?

 

Na aanleiding van die artikel: Om jou in te ent, is ‘n liefdesdaad, het daar op verskillende platforms reaksie gekom. Ek wil graag van die kommentaar verwerk soos onderneem en reageer hier op een van die vrae wat gestel is.

Maar eers: wat ek met my artikel beoog het, was om aan te toon dat alle gelowiges nie teen die inenting is nie, van wie ek een is. Ek het die artikel doelbewus nie dogmaties of hoogs teologies geskryf nie, omdat ek wou skryf vir die tannie en oom wat wonder of hulle ingeënt moet word en ek poog om vanuit ‘n teologiese perspektief leiding te gee. Ek het veral die artikel geskryf omdat van ons lidmate gevra het vir leiding omdat hulle onseker is wat om te doen.

Continue reading

Om jou in te ent, is ‘n liefdesdaad

Daar is tans baie berigte wat die rondte doen oor die Covid-19 inenting: sommige is daarvoor, ander daarteen en elkeen het sy of haar mening daaroor en baie maak of hulle alles weet terwyl ons nie alles weet nie en meestal in die donker soek na die beste antwoord. Sommige kan sommer baie opgewerk raak oor die kwessie en jy durf nie met hulle daaroor debatteer nie! Dit is nogal jammer dat daar nie eenstemmigheid is onder gelowiges oor hierdie saak nie. Die Bybel gee ook nie vir ons ‘n direkte antwoord op die vraag of mens jou moet laat inent of nie? Maar die Bybel gee tog vir ons duidelike beginsels oor die mens se verhouding teenoor die natuur, teenoor ander mense en teenoor God en hoe ons wetenskapsbeoefening moet lyk.

Continue reading

Selfverdediging in die lig van die Skrif

In hierdie sessie met die professie fokus ek op die voorgestelde wysigings aan die Wet op die beheer van Vuurwapens en veral die voorgestelde wysigings aan afdeling 13 van die wet wat beoog dat selfverdediging as motivering vir die besit van ‘n vuurwapen geskrap moet word. Bybelse beginsels word geweeg teen die werklikheid van die situasie in ons land en die vraag of die kerk by hierdie debatte betrokke moet wees, word aan die orde gestel. Die voorgestelde wysigings raak egter aan ander Bybelse beginsels as net dié van selfverdediging en word kortliks aan die orde gestel.

 

Pinksterreeks 2020 – Die onse Vader gebed Deel 2

As gevolg van die COVID-19 inperkings en die feit dat byeenkomste van die kerk nie toegelaat word nie, word die pinksterreeks hierdie jaar opgeneem en aanlyn beskikbaar gestel. Die tema vir die week is: Ons Vader wat in die hemel is leer ons bid oor alles wat ons nodig het. In die tweede deel luister ons vanaand wat is die betekenis van die woorde: Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde…

Luister gerus na hierdie week se pinksterreeks wat ‘n boodskap van troos en bemoediging inhou vir almal van ons.

Seënwense

The Riot and the Dance film uitgestel weens COVID-19

Vroeër is berig dat The Riot and the Dance ‘n eksklusiewe geleentheid is om God se skepping op ‘n unieke manier te beleef. Ongelukkig is die vertoning wat geskeduleer was vir 15 April 2020 in Pretoria gekanselleer tot verdere kennisgewing weens die totale inperking (“lockdown”) wat geld vanaf 26 Maart 2020-16 April 2020.

Eksklusief: Bekendstelling van “The Riot and the dance: Water”

Die Afrikaanse Protestantse Akademie bied met trots aan:

The RIOT AND THE DANCE: WATER

Hierdie dokumentêr is vervaardig deur dr. Gordon Wilson en bied ‘n Christelike perspektief op BBC Earth se evolusionistiese dokumentêre reeks oor die aarde.

Die AP Akademie het die regte gekoop om die film in Suid-Afrika te vertoon. Die glansgeleentheid vind plaas op 15 April 2020. Die film word aangebied in hoë definisie by die Rockwood Teater in Pretoria.

Kom duik saam met dr. Gordon Wilson in GOD se vloeibare wêreld, in hoë definisie en stereo. Die dokumentêr vat ons deur die waters van die aarde, alles geskep deur een Skepper-Kunstenaar.

Die dokumentêr bied ‘n antwoord vir mense wat dink dat die aarde deur ‘n groot knal ontstaan het.

Kaartjies is beperk, so spring gou.

Bespreek u kaartjies deur Quicket 

of besoek die webwerf https://riotandthedancewater.mailchimpsites.com/ vir meer inligting.

Kyk die lokprent hier:

AP Akademie: The Riot and the Dance Water

Die kerk en die regstelsel: verset teen polities-korrektheid.

Adv. Nadene Badenhorst van Freedom of Religion SA was ‘n gasspreker by die APA se teologiese dag op 27 Januarie 2020. Die tema vir die dag was: Mag die kerk in verset kom? Ek het reeds vroeër my tema, naamlik Bybelse modelle van verset geplaas, waarby adv. Badenhorst se tema aangesluit het. Adv. Badenhorst het gefokus op die bediening en verset teen polities-korrektheid. Hieronder volg haar interessante aanbieding.

 

Iemand vir wie ek omgee het betrokke geraak by ‘n kultus of sekte…

Ek kry vanoggend die volgende vraag van iemand wat moedeloos is omdat iemand vir wie hulle baie omgee betrokke geraak het by ‘n sektegroep en nou alle waarhede van die Bybel bevraagteken. Wat moet ons in so ‘n geval doen?

In die eerste plek moet ons ‘n dwaalleer of sekte beskou as ‘n standpunt wat in stryd is met die Bybel. Ons sal dus onsself moet ingrawe in die Bybelse antwoorde op die sake waarin die sekte dwaal om ‘n behoorlike en aanvaarbare antwoord reg te hê.

Maar dit is ook belangrik om te besef dat ‘n mens iemand wat by ‘n sekte betrokke is baie moeilik oortuig van die dwaalleer: sektes is geneig om hulle volgelinge se kennis oor ‘n onderwerp so te indoktrineer en bestaande waarhede so af te breek, dat die volgelinge mettertyd begin glo dat net hulle reg is. En wanneer hulle teenkanting kry, is dit presies wat hulle verwag want, so glo hulle, “dit is die duiwel wat probeer om hierdie ‘waarheid’ met leuens te vul”. Een van die klassieke kenmerke van ‘n sekte is die werkswyse waarin bestaande kennis gewysig moet word, bv. Christelike feesdae word beskou as heidens, of Christelike simbole word as verdag beskou, of Christelike gebruike word bevraagteken, Bybeltekste of -vertalings word verdag gemaak, ‘n persoon beskou homself as die primêre stigter of leier van die groep, en hou daarvan om na homself te verwys as die “stigter”, of “profeet” of “eerste”.

Prakties is daar ‘n paar dinge wat ons moet en nie moet doen nie:

  • Moenie toelaat dat die persone wat by die sekte betrokke is, met jou redeneer oor Bybelse waarhede nie. Neem die Skrif as enigste norm en bewys jou standpunt uit die Skrif.
  • Behou kontak sover moontlik. Dit bly ‘n mens se ouers/kinders/familie, en al is hulle op ‘n dwaalspoor is die reaksie wat hulle verwag, dié van verwerping. Indien hulle verwerp word, versterk dit hulle idee dat hulle die waarheid beet het, want die wêreld is nou teen hulle.
  • Probeer om nie oor kerklike sake te redeneer nie.
  • Indien die gesprek wel oor kerklike sake handel, stel die waarheid van die Bybel op ‘n kalm manier en moenie uitgelok word om kwaad te word nie. Mense wat betrokke is by sektes hou daarvan om ander uit te lok om hulle humeur te verloor.
  • Wees op hoogte van die feite. Maak bv. seker waarom jy glo wat jy glo.
  • Gebruik die gesprekke as ‘n geleentheid om te bevraagteken wat hy/sy glo. Vra bv. logiese vrae, soos: as julle ‘n probleem het met die datum van hierdie fees, en julle dit nie verstaan nie, dink julle die kerk deur die eeue heen was so onkundig? Is dit nie dalk julle wat nie verstaan nie? As Christus alleen die weg en die waarheid is, maak dit saak as die fees op hierdie of daardie manier gevier word? Hoekom? Hoekom nie?
  • Feitlik alle sektegroepe het een-of-ander messias buiten Christus. Probeer om te bepaal wie dit is, en wys op die feit dat alleen Christus die weg is.
  • Baie mense sluit by sektes aan omdat hulle teleurgestel is in die kerk. Sektes trek mense deur hulle omgee en warmte, maar versmoor mense se gesonde verstand met valse gerustheid en twyfel oor die dinge wat hulle tot dusver as waarheid aanvaar het. Die enigste manier om met dwaalleer te werk is om konsekwent die waarheid voor te hou en te glo dat die Gees met die verstand en die hart werk.
  • Hou aan om vir hulle te bid. Die gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Om te vergewe – ook horisontaal

Hoe dikwels hoor ‘n mens nie iemand sê: “ek sal so iemand vergewe, maar wat hy/sy aan my gedoen het, sal ek nooit vergeet nie”? En dit is inderdaad so dat wanneer dit by die onreg kom, het meeste van ons ‘n geheue soos ‘n olifant. Dink net hoe God die dinge wat die mense doen met goeie rede teen hulle behoort te hou. Dink net hoe God ten spyte van ons tekortkominge en nie as gevolg daarvan nie, na ons lewe kyk.  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” – 1 Joh. 1:9. 

Oorsaak van die sonde

Hoekom is die wêreld so vol sonde? Toe die Here die aarde gemaak het, was alles dan só goed en mooi (Gén. 1:31)? Ja, ook die skepping van die mens was goed en mooi. Die boosheid van die mens kom dus nie uit die skepping nie, maar moet op ‘n ander plek gesoek word. Ons hoef nie te wonder waar al die onreg op die aarde vandaan kom nie. Dit kom uit die mens, ja, uit sy hart. Jakobus leer: Moenie dwaal nie (Jak. 1:16) – sonde kom uit jou hart en as dit vertroetel word, mond dit uit in dade. Die mens het deur sy eie sonde die rein skepping kom besoedel. Die Skrif leer ons in 1 Johannes 1:8-10 dat daar vir ons ‘n uitkomkans is – bely die onreg! Wanneer ons ons sonde bely, is Hy getrou en regverdig om dit te vergewe, leer vers 8.

Ook horisontaal

Sondevergifnis kan egter nie van een kant af kom nie. As God jou vergewe, hoeveel te meer behoort ons nie mede-sondaars (mede-mense) te vergewe nie? Hoeveel twis en liefdeloosheid kan daar nie tussen families wees nie? Gaan maak reg, terwyl jy nog tyd het. Hoeveel ongelukkigheid veroorsaak ons nie deur te vinnig te reageer op Facebook nie? Dink bietjie daaroor. Hoeveel moeilikheid het ons nie al veroorsaak deur ‘n whatsapp boodskap nie? Dink voor jy praat impliseer ook: dink voor jy tik en “send” druk. Wat gesê is, is gesê. Jy sal dit nooit weer kan “ont”sê nie.

Die mens moet waak daarteen om die genade van die Here te wil toe-eien en die vergifnis te wil omhels, sonder om die vergifnis horisontaal uit te deel na die medemens. Soos Christus vergeef het, moet julle ook vergeef. As jy dit regkry om te vergewe, het jy die bewys van God se genade in jou lewe (Heidelbergse Kategismus, Sondag 51, vraag 126). God gee sy genade aan die sondaarmens wat sy lewe aan God verskuldig is. Dit gee jou die krag om vanuit die genade te kan leef in vergifnis.

Voorwaarts pelgrims!

Een van die mees bekende Christelike werke van alle tye, naamlik John Bunyan se “The Pilgrim’s Progress” (geskryf in 1678) kom hierdie Paasfees na die groot skerm. Dit is ‘n animasie-film wat geskik is vir oud en jonk. Die werk handel oor die gelowige se stryd hier op aarde as pelgrim oppad na die hemelhuis. Dit is nie alleen een van die eerste verhale in Engels geskryf nie, maar is ook die eerste Christelike verhaal wat geskryf is uit ‘n Protestantse oogpunt en na die stryd om die nou pad te volg, kyk.

Die verhaal vertel van Christian (die naam sê sommer al reeds wie die persoon is) wat reis van sy huis af na ‘n ver land. Christian wil homself verlos van die juk van sy sonde. Langs die pad ontmoet hy verskillende karakters (onder andere moraliteit) wat hom probeer wys maak dat die weg na verlossing langs een van hierdie idees loop. Uiteindelik leer Christian dat die enigste weg na die beloofde land is deur die geloof.

Kyk gerus die lokprent hieronder.

 

Moet almal in Prokrustes se bed kan pas?

Die heidense Grieke het destyds geglo dat Proskrustes ‘n mitologiese figuur was wat mense gevange geneem het en in sy ysterbed laat pas het: as die persoon te lank is, sny hy die persoon die regte lengte en as die persoon te kort is, word jy gerek om in te pas. Dit word in vandag se samelewing te maklik aanvaar dat almal dieselfde oor alles moet dink.


Ek het die voorreg gehad om onlangs by Acton Universiteit in Grand Rapids, Michigan in die VSA ‘n aantal kursusse by te woon. Een van die aanbiedings wat vir my van besondere waarde was, was een deur Michael Matheson Miller. Ek deel graag ‘n samevatting daarvan.

Die vraag wat Michael Miller gevra het tydens die aanbieding oor ‘n Christelike visie op die persoon, was: wat gemaak as jy as Christen die uniekheid van God se skepping aanvaar en nie glo dat almal in een bed hoef te pas nie?

Hierdie vraag is veral belangrik in die huidige konteks in Suid-Afrika, aangesien die meerderheid se standpunte oor rasseverhoudinge, oor wat ‘n huwelik is, oor grondbesit, eiendomsreg en ander etiese sake nie noodwendig rekening hou met God se Woord nie. Wat as die meerderheid oor ‘n saak besluit maar dit is in stryd met die wil van God? Die meerderheid is tog nie altyd reg nie? Dit is dus belangrik om ‘n gesonde beeld te hê van die mens en sy plek in die skepping. Ons fokus hier op vier beginsels wat Michael Miller in sy aanbieding tydens die VSA konferensie beklemtoon het, wat ons in die huidige konteks in ons land in perspektief moet hou.


Die mens kan onderskei tussen reg en verkeerd

CS Lewis verwys na die dilemma van die moderne mens: die moderne mens het die organe van ‘n gesonde samelewing uitgehaal, maar verwag dat die samelewing gesond moet voortlewe. Om gesond te lewe, moet daar ‘n besef van reg en verkeerd in die samelewing wees en moet almal in die samelewing hulle aan die beginsels van wat reg en verkeerd is, verbind. Daar kan egter net een wyse wees om reg en verkeerd te toets. Volgens die Skrif is die mens gebind aan God se Woord en word reg en verkeerd gemeet aan die gehoorsaamheid al dan nie aan dié Woord.

Waarheid kan nie in alle opsigte gemeet word nie. Hoe weet iemand of ek my vrou liefhet? Kan iemand dit meet? Natuurlik nie! ‘n Mens sou kon sien aan die wyse hoe ek optree teenoor my vrou, maar die waarheid kan nie gemeet word met ‘n meetinstrument nie! Ons twyfel egter nie in wat waarheid is nie, aangesien God in sy Woord aan ons die meetsnoer vir waarheid gegee het. Die mens verstaan emosie, geloof, ervaring en kan sin maak uit voorspoed en teëspoed. Ons mag dus nie bepaal wat reg is, deur te aanvaar wat vir ons gemaklik is of selfs wat die meerderheid se opinie oor ‘n saak is nie. Ons moet bepaal wat reg en verkeerd is deur dit te meet aan die Skrif.


Die mens leef uit sy handewerk

Die mens verstaan die sin in die lewe. Diere verstaan wel hoe om iets te maak, maar hulle verstaan nie “hoekom” nie. ‘n Bewer kan ‘n dam bou. Maar bewers bou nie verskillende damme en verhuur dit aan die ander diere van die dam uit nie. Die mens het die vermoë om met sy intelligensie te kan skep en ‘n bestaan uit sy handewerk te kan maak. Om ‘n bestaan te maak uit jou handewerk en daaruit ‘n ekonomie te bou en in stand te hou, is dus wesenskenmerk van menswees. Daarvoor hoef ons nie jammer te sê of oor skaam te wees nie. God het ons so gemaak.

Die mens kan offers bring ter wille van die groter geheel

Teenoor diere het die mens die vermoë om te kan offer. Ons kan ter wille van ‘n saak, gemeenskap, familie of godsdiens opofferinge maak omdat ons die einddoel van die opoffering verstaan en kan sien dat die opoffering uiteindelik help om ‘n gesonde samelewing te bou wat weer vir ons en ons familie voordele inhou.

Die mens is ‘n morele wese

‘n Hond sê nie: “sjoe sy is baie mooi en ek begeer haar, maar ek sal wag tot ons trou” nie. Die mens is egter ‘n morele wese. Omdat ons weet wat reg en verkeerd is, moet ons kan sê: “ek sal wag tot ons trou”. Om dus eenvoudig aan vleeslike begeertes toe te gee, sonder om te wonder of iets reg of verkeerd is, tree ons soos ‘n redelose diere op. Om irrasioneel op te tree, maak jou nie vry nie. As iemand sy kop aanhoudend teen die muur bly stamp, sal ons mos nie sê: Kyk hoe vry is daardie persoon, nie. Vryheid beteken dus gebondenheid. ‘n Vis kan net vry wees wanneer hy in water is. Om ‘n vis uit die water te haal en op droë grond neer te sit en te sê: “Wees vry, vissie, nou is jy nie meer gebind aan die water nie”, maak nie die vis vry nie, maar neem eerder sy lewe. In dieselfde sin word ons deur die Woord van God gebind tot vryheid. Daarmee word bedoel dat die Woord van God vir ons duidelike grense gee waarvolgens ons moet lewe en solank ons binne die grense beweeg, gee Hy ons die vryheid om sy skepping te geniet en te waardeer. Buite die grense is egter nie vryheid nie, maar die dood.


Slot

Ons moet daarteen waak dat die meerderheid se opinie waarheid en leuen, reg en verkeerd, goed en sleg bepaal. Dan word die samelewing ‘n bed van Proskrustes waarin die individu gesny of gerek word om in die meerderheid se figuurlike bed te pas. Reg en verkeerd is duidelik – al is jy in die minderheid!

Die evangelie volgens die Beatles

Die skrywer, Steve Turner, het ‘n boek geskryf waarin hy die geestelike en godsdienstige invloed van die Beatles bespreek. Die Beatles word beskou as die “band that changed the history of music forever”.

Turner bespreek hoe die Beatles die hedendaagse kultuur en lewe op alle terreine beïnvloed het.

In 1966 het John Lennon ‘n herrie veroorsaak toe hy gesê het: die Beatles is meer populêr as Jesus. Op daardie stadium het sy opmerking belaglik geklink. Die Beatles is ‘n pop-groep en Jesus ‘n geestelike leier en die Verlosser van die mensdom. Maar oor die volgende paar jaar het hierdie gewilde groep geestelike leiers geword vir ‘n generasie wat ‘n uittog uit die kerk gemaak het en op soek was na vastigheid in ‘n wêreld waarin al die sekerheid begin verkrummel het. Continue reading

Waarom laat God toe dat mense swaar kry?

Ek het onlangs weer ‘n artikel geskryf oor die vraag: waarom laat ‘n liefdevolle God toe dat selfs gelowiges swaar kry? Die artikel bied ‘n kort teologiese antwoord op die vraag en is bedoel vir persone wat bietjie dieper na die probleem wil kyk as bloot ‘n “maklike” en “vinnige” antwoord op die probleem. Continue reading

Die klippe sal dit uitroep

Toe die Here Jesus destyds op die rug van ‘n donkie in Jerusalem ingekom het, was sommige opgewonde en het lofliedere vir Hom gesing, en ander was vies en het probeer om sy volgelinge stil te maak (Luk. 19:38-39). Jesus se antwoord was dat as die dissipels stilbly, sal die klippe dit uitroep dat Hy die Koning is (vers 40). Continue reading

Hoe wyd is die deursnee van jou lig?

Ek lees vanoggend ‘n opmerking van Douglas Wilson wat ek graag wil deel en so bietjie wil uitbrei. Wilson verwys na ‘n aanhaling van Thomas Chalmers oor die deursnee van duisternis. Hierin maak Chalmers ‘n interessante opmerking wat ek dink ons meer moet oordink as dit voel of duisternis ons wil oorweldig. Chalmers gebruik die volgende beeldspraak: Hoe groter die deursnee van lig, hoe groter word die deursnee van duisternis. Dit is: hoe meer die lig in ‘n vertrek versprei word, hoe verder moet die duisternis wyk en gevolglik, hoe verder is die donkerte se reikwydte. Treffende vergelyking!

Hoe meer Christene hulle lig laat skyn, hoe verder wyk die duisternis en hoe wyer word die deursnee van die donker.

Die Woord herinner ons in 1 Johannes 1:5 “God is lig, en geen duisternis is in Hom nie”. Een gevolg van die feit dat God lig is, is dat Hy alleen volkome waarheid is. En daarom volg vers 6 met die woorde: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie”. Continue reading

Apokaliptisisme maak die kerk lam

Ai ons volkie darem! Die snert wat mense so gretig op sosiale media kan versprei maak my lam…

In sy boek, Bad Religion: How we became a nation of heretics, beskryf Ross Douthat in besonderhede wat gebeur het in die geskiedenis van die VSA met die opkoms van die Christendom, veral die Protestantse Christendom sedert die 18de eeu en hoe die Evangelie mettertyd in die hart en die verstand van die volk gesterf het totdat die nasie – nie ateïste is nie, maar goddeloses – mense met ‘n gevoel vir godsdiens en ‘n soeke na reg en verkeerd, maar ‘n hunkering na eie godsdiens en die reg en verkeerd ten opsigte van jou eie voordeel of dié van die “nasie”. In baie opsigte stem wat Douthat van die situasie in die VSA beskryf, vandag ooreen met die trant van sekularisering van Suid-Afrika, en die skokkende vlak van geestelike- en teologiese onderskeidingsvermoë in die deursnee lidmaat se lewe. Continue reading

Opvolg op gesprek: Daar is meer!

Verlede week het ek verwys na ‘n referaat wat ek gelewer het in verband met die sakramentsbeskouing van die reformasie en spesifiek die besondere belydenisskrifte onder die titel: Daar is meer! Indien u dit gemis het, lees dit hier: Daar is meer!

Tydens dieselfde geleentheid het ek die podium gedeel met prof. Danie Goosen, wat ‘n referaat gelewer het met dieselfde titel, met fokus op die gemeenskapsgedagte as antwoord op die liberale modernisme. Continue reading

Is dit in die drinkwater? Nee, in die hart!

Iemand sê onlangs in ‘n gesprek hy kom uit die dae toe “gay” beteken het jy is bly oor iets (soos Shakespeare en ander bekende skrywers dikwels die woord in Engels gebruik het).

Vandag het dit ‘n gelaaide sosiale term geword vir ‘n saak waaroor kerke eerder na die Bybel as na die samelewing behoort te kyk om antwoorde te soek oor die kwessie. Sou mens ‘n paar jaar gelede kon glo dat selfs Afrikaanse Gereformeerde kerke so bohaai sou maak oor ‘n saak waaroor die Bybel duidelik is en ‘n blinde met ‘n stok kan voel dit gaan meer oor sosiale aanvaarding as oor die beginsels van die Bybel in die debatte oor die saak? Een ding is seker en dit is dat dié kwessie vir kerke toenemend ‘n moeilike strydpunt gaan wees. Continue reading

Die maklike pad of die regte pad?

Sokrates se eer of God s’n?

Dit is 399 v.C. Die plek: Athene, Griekeland.

Die filosoof Sokrates word deur die jong manne van die stad beskuldig dat hy die gode minag en dat hy die jong manne aanmoedig om in opstand teen die stad se leierskap te kom.

Toe hy voor die regter gebring word, het die jong manne allerhande leuens oor Sokrates opgemaak en uiteindelik het die regter hom die doodstraf gegee. Hy moes ‘n mengsel van gif drink. Sy volgelinge onder wie die later baie bekende filosoof Plato, het hom gesmeek om die nag voor sy teregstelling uit die stad Athene te vlug, maar sy antwoord was dat hy dit nie kan doen nie, want hy het sy lewe lank sy volgelinge geleer om gehoorsaam te wees aan die gesag van die owerheid en dat dit in stryd met sy beginsels sou wees om nou te vlug. Die volgende dag het hy voor 500 mense in Athene die gif gedrink as vonnis en so het hy aan sy einde gekom. Continue reading

Die gnostici is springlewendig

Ek het so tyd gelede ‘n baie interessante artikel raakgeloop wat deur Michael Horton geskryf is oor die moderne gnostici.

Hierin lys hy die kenmerke van die dwalinge van die gnostici in die tweede tot vierde eeu na Christus en hulle invloed in die vroeg-Christelike kerk. Vervolgens vra hy die vraag of die gnostici uitgesterf het? Hy kom tot die gevolgtrekking dat die moderne herlewingsbewegings (“revivalism”) ‘n vorm van die tweede-vierde eeuse gnostici is wat in ‘n nuwe baadjie ou dwaalleringe voorstaan. Continue reading

Om sout en om lig te wees

Bestaan daar iets soos Christelike wetenskap? Moet wetenskap nie so objektief moontlik beoefen word nie? Dit is die vraag wat dikwels oor die wetenskap en die invloed van voorveronderstellings op ons beoefening daarvan gevra word.

Die afgelope eeu is godsdiens toenemend in die privaat deel van die samelewing ingedwing. Gaan kyk maar op dorpe in ons land na die plek van kerke. Waar kerke vroeër in die middel van die dorp gebou is, word kerke meer-en-meer in die buitewyke van die dorpe en in die stil systraatjies gevind. Wat die spreekwoord “uit die oog, uit die hart” dadelik by my laat opkom. Waar die kerk nie meer ‘n sigbare rol in die samelewing speel nie, word die kerk in die privaat sfeer ingedwing. “Daar in die hoekie kan julle kerk wees. Moet ons net die pla nie”. Dit laat die vraag opkom of die kerk nog iets vir die wêreld te sê het, en indien wel, op watter platform? Want die ongelowige wetenskaplike meen dat Christelike wetenskap ‘n ongesonde voorveronderstelling is en in die pad van objektiewe wetenskapsbeoefening staan.

In sy bekende werk, Exegetical Fallacies, wys Don Carson op die aanname in die nuwe hermeneutiek dat wetenskap sonder voorveronderstellings verstaan kan word, en hoe dit ‘n slaggat vir die verstaan van die Bybel kan word. As God nie as voorveronderstelling tot die wetenskap dien nie, sal iets/iemand anders wel sy plek inneem. Want wetenskap kan nie objektief wees sonder enige voorveronderstellings nie.

Ek is onlangs versoek om ‘n aanbieding voor te berei oor Christelike kuns, -kultuur en -wetenskap waarin slegs belangrike grondslae gelê word oor die Christelike beskouing van die wetenskap. In my soeke kom ek toe af op ‘n gedeelte in Eksodus 35 wat ‘n belangrike perspektief gee op die kuns en kultuur in diens van God. . 

Hoe langer godsdiens as voorveronderstelling uit die wetenskap, kuns en kultuur gehou word, hoe langer sal ‘n post-moderne voorveronderstelling oor die objektiwiteit van wetenskap, kuns en kultuur gehandhaaf word. En soos reeds aangedui, is daar nooit iets soos objektiewe wetenskap nie – dit is ‘n mite!

Gaan na https://gdssmit.files.wordpress.com/2016/09/christelike-kuns-kultuur-en-wetenskap-n-blik-op-ex-35.pdf indien jy belangstel om my perspektief op Eksodus 35 in verband met kuns, kultuur en wetenskap te lees.