Om sout en om lig te wees

Bestaan daar iets soos Christelike wetenskap? Moet wetenskap nie so objektief moontlik beoefen word nie? Dit is die vraag wat dikwels oor die wetenskap en die invloed van voorveronderstellings op ons beoefening daarvan gevra word.

Die afgelope eeu is godsdiens toenemend in die privaat deel van die samelewing ingedwing. Gaan kyk maar op dorpe in ons land na die plek van kerke. Waar kerke vroeër in die middel van die dorp gebou is, word kerke meer-en-meer in die buitewyke van die dorpe en in die stil systraatjies gevind. Wat die spreekwoord “uit die oog, uit die hart” dadelik by my laat opkom. Waar die kerk nie meer ‘n sigbare rol in die samelewing speel nie, word die kerk in die privaat sfeer ingedwing. “Daar in die hoekie kan julle kerk wees. Moet ons net die pla nie”. Dit laat die vraag opkom of die kerk nog iets vir die wêreld te sê het, en indien wel, op watter platform? Want die ongelowige wetenskaplike meen dat Christelike wetenskap ‘n ongesonde voorveronderstelling is en in die pad van objektiewe wetenskapsbeoefening staan.

In sy bekende werk, Exegetical Fallacies, wys Don Carson op die aanname in die nuwe hermeneutiek dat wetenskap sonder voorveronderstellings verstaan kan word, en hoe dit ‘n slaggat vir die verstaan van die Bybel kan word. As God nie as voorveronderstelling tot die wetenskap dien nie, sal iets/iemand anders wel sy plek inneem. Want wetenskap kan nie objektief wees sonder enige voorveronderstellings nie.

Ek is onlangs versoek om ‘n aanbieding voor te berei oor Christelike kuns, -kultuur en -wetenskap waarin slegs belangrike grondslae gelê word oor die Christelike beskouing van die wetenskap. In my soeke kom ek toe af op ‘n gedeelte in Eksodus 35 wat ‘n belangrike perspektief gee op die kuns en kultuur in diens van God. . 

Hoe langer godsdiens as voorveronderstelling uit die wetenskap, kuns en kultuur gehou word, hoe langer sal ‘n post-moderne voorveronderstelling oor die objektiwiteit van wetenskap, kuns en kultuur gehandhaaf word. En soos reeds aangedui, is daar nooit iets soos objektiewe wetenskap nie – dit is ‘n mite!

Gaan na https://gdssmit.files.wordpress.com/2016/09/christelike-kuns-kultuur-en-wetenskap-n-blik-op-ex-35.pdf indien jy belangstel om my perspektief op Eksodus 35 in verband met kuns, kultuur en wetenskap te lees.