Wat beteken: die waarheid sal jou vry maak?

deur: Prof. Gerrit Smit

“En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” – Joh. 8:32.

Het u ook al die opmerking gehoor: “Ek skinder nie – ek vertel bloot die feite”? Mense wat vandag in die publieke oog is soos politici, akteurs en sportmanne word dikwels deur die media “verhoor” na aanleiding van een of ander misdryf. Die misdryf word dan gewoonlik in die openbaar genoem, hieroor word gepubliseer en almal hou die uiteinde daarvan fyn dop. En mense meen: dis mos reg so, want die hoogste bome vang die meeste wind. Dis egter ook ‘n feit dat daar in ons dag ‘n fanatiese soeke na sensasie is. Dis nie net die tydskrifte en koerante wat fanaties hierna soek nie, maar gewoonlik kom dit sommer in ons sitkamer voor as ons kuier, op die stoep by die kerk as ons almal saam tee drink, of Saterdag as ons wyk pannekoek verkoop.

Een saak staan vas: die Bybel is vol opdragte om mekaar te vermaan, om te tug en om nie stil te bly as daar onreg gepleeg word nie. Ongelukkig word hierdie Bybel-dele dikwels gebruik soos dit mense pas en word die gebod om lief te hê nie vanselfsprekend hierby saamgelees nie. Die “gewone man op straat”, hoe anti-sosiaal hy ook al mag wees, en hoe dit teen die etiek van die samelewing en die Skrif mag indruis, kom in die meerderheid gevalle skotvry van hierdie kritieke oog. Sy sake is verborge of privaat, tensy dit op een of ander manier op die lappe kom. Maar die dominee en die kerkraad en die mense wat leiding neem in die gemeentelike aktiwiteite is gewoonlik die mense wat in die gemeente se oog is en wie se foute ons baie maklik raaksien en dan praat ons daaroor agter die hand.

Dikwels redeneer ons dat mense goed doen om ander se vuil wasgoed in die openbaar te was, want die Here Jesus het dan self gesê: die waarheid sal jou vry maak. Is die woorde van Jesus op mense se sonde gemik en kry ons die opdrag om die waarheid te ontbloot, sodat ons mekaar kan help om sogenaamd vry te wees, sonder die las van die geheime?

Kom ons kyk kortliks hierna: Die woord “waarheid” kom 22 keer in die Johannes-evangelie voor en verwys in meeste van die gevalle óf na Christus self óf na die Evangelie van Christus. Christus noem Homself die weg, die waarheid en die lewe (Joh. 14:6) – ‘n uitdrukking wat dwarsdeur die evangelie van Johannes gebruik word. Op die vraag: Wie is U dan? (Joh. 8:25) wys Jesus die hoorders op die waarheid van sy woorde toe Hy vir hulle gesê het dat Hy van die Vader af gestuur is (Joh. 8:26). Hierdie waarheidsperspektief van Jesus word in die volgende verse verduidelik. Jesus is hier steeds besig om die Jode te leer oor sy Goddelike sending. Sy gesprek het reeds in Johannes 7:10 begin. Die Jode het met Jesus verskil oor sy uitspraak dat hulle nie die kinders van Abraham is nie, omdat hulle nie die werke van Abraham doen nie. Hieroor wou hulle Hom doodmaak. Te midde van hierdie twisgesprek, kom sommige van die hoorders tot bekering (Joh. 8:30). Dis met hierdie gelowiges (of dissipels) wat Jesus praat as Hy vir hulle sê: die waarheid sal julle vry maak. Dit wys op die kennis van die waarheid van die evangelie van Christus wat die mens vry maak van die slawebande van die sonde. Dis die onderwerp waaroor Jesus dwarsdeur die hoofstuk met die Jode praat: oor vryheid en slawerny en die feit dat die wet van Moses nie in staat is om vry te maak nie, maar die evangeliewaarheid.

Die post-moderne mens is op soek na waarheid en geregtigheid. In sig self ‘n edele motief. Maar as die waarheid beteken om feite bloot te lê, ongeag die eer van die persoon, die eer van die groep of die naam van die instelling (soos die kerk) mag die wêreld die waarheidsperspektief dalk eerbaar vertolk, maar die liefdesperspektief ly dikwels skade.

Ons hoef dus nie stil te bly as ons onreg en sonde sien nie. Daar is egter in die post-modernisme klem op die ontbloting van die waarheid ter wille van die sensasie en nie om heel te maak en om wonde te bind nie. Ons woorde moet nie wonde veroorsaak nie, maar genees. Dis die groot gebod – om God en mekaar lief te hê. Dan beteken dit dat ek vrymoedigheid neem om in die geheim met my broeder/suster oor hul sonde te praat, omdat ek besef ek is self ook maar ‘n begenadigde sondaar. Maar dit beteken ook dat ek nie die vers “die waarheid sal julle vry maak” kan gebruik om lustig skinderpraatjies te versprei nie.

© Kopiereg voorbehou.