Enkele vertalingsprobleme in die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling bespreek

prof. Gerrit Smit

Na aanleiding van ‘n skrywe wat ek onlangs ontvang het in verband met, wat die skrywer beweer “vertalingsfoute” in die 2020 Afrikaanse  Bybelvertaling is, bespreek ek ‘n aantal vertalingsprobleme in die 2020-vertaling.

Alle verwysings kom uit die 2020 vertaling met hoofletters (2020 HL).

 

Ps. 45:7-8 (2020 HL)

“U troon, o Goddelike wese, is vir altyd en altyd, die septer van u heerskappy is ‘n regverdige septer. U het •geregtigheid lief en U haat goddeloosheid. Daarom, o Goddelike wese, het u God U met olie van vreugde gesalf – meer as u metgeselle”.

Die vertaling van אֱ֭לֹהִים in Psalm 45:7-8 as “o Goddelike wese” is na my mening nie ‘n goeie vertaling nie en dit is ‘n saak wat die kerke vorentoe sal/kan bespreek wanneer, of indien, die 2020-vertaling ter sprake kom vir oorweging. ‘n Beter vertaling sou wees om van “God” of “Here” gebruik te maak, wat beide die persoonlike aanspreekvorm en die Bybelse selfopenbaring van God respekteer. Die stelling wat sommige maak, naamlik dat die vers nie rekening hou met Christus nie, word nietemin in hierdie vertaling weerlê, deurdat “U” hier in die 2020 HL met hoofletters vertaal word.

 

Miga 5:1 (2020 HL)

“Maar jy, Betlehem-Efrata, al is jy gering in die streke van Juda, uit jou sal daar vir My iemand kom om ‘n Heerser te wees in Israel. Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer.

Die frase: וּמֹוצָאֹתָ֥יו מִקֶּ֖דֶם מִימֵ֥י עֹולָֽם moet letterlik vertaal word as: “Hy is afkomstig vanuit die Ooste, vanuit die ou (ewige) dae”. Die vertaalopdrag van die Bybel Direkte Vertaling (2020) was om ‘n letterlike vertaling van die grondteks te maak. Die vertaling van die frase as: “Sy oorsprong is uit die verre verlede, uit die dae van weleer” is reeds ‘n poging om die Christelike tradisie rondom die vertaling in ag te neem en wyk dus wel van die grondteks af ter wille van die kerklike leser, maar is ‘n moontlike vertaling.

 

1 Tim. 3:16 (2020 HL)

“…Hy is geopenbaar in ‘n menslike liggaam…”.

Die 1953-vertaling het die woord “vlees” teenoor die 2020-vertaling se “menslike liggaam”. Dit is sinonieme.

 

Johannes 1:14 (2020 HL)

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid”.

Hier word toegegee oor die vertaling van die “unieke Seun van die Vader” dat dit nie ‘n goeie vertaling is, in ag geneem die kerklike tradisie en die leer oor Christus se pre-eksistensie nie. Christus is meer as die unieke Seun, Hy is die Enigste Seun van die Vader. Die kerke behoort hierdie in ag te neem wanneer die 2020-vertaling ter sprake kom. Dieselfde geld die vertaling van Johannes 3:16 in die 2020-vertaling.

 

Johannes 6:69 (2020 HL)

“En ons glo en weet dat U die Heilige van God is.”

Die Textus Receptus (Elsevier) lees: και ημεις πεπιστευκαμεν και εγνωκαμεν οτι συ ει ο χριστος ο υιος του θεου του ζωντος (“En ons het geglo en geweet dat U die Christus is, die Seun van die lewende God”) teenoor die grondteks van die 2020-vertaling wat lees: καὶ ἡμεῖς πεπιστεύκαμεν καὶ ἐγνώκαμεν ὅτι σὺ εἶ ⸂ὁ ἅγιος τοῦ θεοῦ⸃ (“En ons glo en weet dat U die Heilige van God is.”). Ons het hier met ‘n tekskritiese verskil te doen. Die 2020-vertaling het wel die grondteks korrek vertaal, wat eerder verskille in die grondteks aantoon as ‘n fout.

 

Johannes 9:35 (2020 HL)

Jesus het gehoor dat hulle hom uitgeban het, en toe Hy hom raakloop, het Hy gevra: “Glo jy in die Seun van die Mens?”

Die Griekse grondteks lees: σὺ πιστεύεις εἰς τὸν υἱὸν τοῦ ⸀ἀνθρώπου; (“Glo jy in die Seun van die Mens?”). Die vertaling van die teks in die 2020-vertaling is in ooreenstemming met die grondteks. Vergelyk die opmerking hier bo oor tekskritiese verskille.


1 Joh. 5:7-8

“Want daar is drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en hierdie drie is dit eens”.

Hierdie is die bekende Comma Johanneum, waaroor al boeke vol geskryf is. In kort kom dit hierop neer: hierdie frase kom slegs in die Latynse Vulgaat, wat vir eeue die grondteks van die Rooms Katolieke kerk was, voor. Die enigste Griekse manuskrip wat die weergawe soos in die 1953-vertaling voorkom, bevat, dateer uit die 16de eeu nadat Desiderius Erasmus dit nie in sy eerste uitgawe van die Griekse Nuwe Testament ingesluit het nie, en op aandrang van die Rooms Katolieke kerk wat gemeen het sy teks verskil van die Vulgaat wat hulle as gesaghebbende teks aanvaar, het hy die teks vanaf sy tweede uitgawe onder protes ingesluit. As die gereformeerde beginsel van Skrif-met-Skrif vergelyk toegepas word, is daar geen twyfel oor die belydenis oor die Drie-Eenheid in die getuienis van honderde ander verse nie. Die teks van die 2020-vertaling is hier gebaseer op betroubare Griekse teksgetuienis.

Ek heg hier onder ‘n skermgreep uit Desiderius Erasmus se eie kommentaar op 1 Joh. 5:7-8 aan:

Hier bo skryf Erasmus in sy kommentaar op die eerste uitgawe van die Griekse Nuwe Testament (1516) die volgende:

In graeco codice tantum hoc reperio de testimonio triplici: ὅτι τρεῖς εἰσιν οἱ μαρτυροῦντες, τὸ πνεῦμα καὶ τὸ ὕδωρ καὶ τὸ αἷμα, id est: quoniam tres sunt qui testificantur, Spiritus, aqua et sanguis.

In die Griekse kodeks vind ek net hierdie oor die drievoudige getuienis: ‘ὅτι τρεῖς εἰσιν οἱ μαρτυροῦντες, τὸ πνεῦμα καὶ τὸ ὕδωρ καὶ τὸ αἷμα, dit wil sê, ‘daar is drie wat getuig: die Gees, die water en die bloed’.

Die 2020 vertaling het die grondteks korrek vertaal.


Kolossense 1:14 (2020 HL)

“… deur wie ons bevryding, die vergifnis van sondes ontvang het”.

Die Griekse grondteks lees:  ἐν ᾧ ⸀ἔχομεν τὴν ἀπολύτρωσιν⸆, τὴν ἄφεσιν τῶν ἁμαρτιῶν· Die 2020-vertaling het die Griekse grondteks korrek vertaal.

 

Habakuk 2:4

“Kyk, hy wat nie opreg is nie, kwyn weg – maar die regverdige – deur sy betroubaarheid sal hy lewe”.

Omdat die vers in die Nuwe Testament aangehaal word in die bekende Romeine 1:17, sal dit vreemd op die oor val soos vertaal in Habakuk 2:4. Hierdie teks word ook in die Nuwe Testament aangehaal en deur vergelyking is die bedoeling van die vertaling meer duidelik. In die 2020-vertaling word Rom. 1:17 soos volg vertaal: “…soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.” ‘n Beter vertaling sou wees: “deur die geloof”.