Is Christus uit die 2020 vertaling uitvertaal?
Is Christus uit die 2020 vertaling uitvertaal?
prof. Gerrit Smit
Wat die Bybel: Direkte vertaling (BDV) betref (2020 Afrikaanse vertaling), is daar kerke wat verkies het om te hou by die register van die Ou Testament soos in die 1983-vertaling weergegee wat die Hebreeuse woorde vir Seun (verwysende na die Messias) vertaal met kleinletters. Die AP Kerk het reeds in 2011 begin om saam met die Bybelgenootskap van SA te werk aan ‘n ander vertaling van die teks wat wel die Hoofletters in die Ou Testament bevat. Die hele Ou Testament is deurgewerk saam met die BSA om seker te maak ons mis geen Hoofletter van die Ou Testament wat na Christus verwys nie. In die ander weergawe van die 2020 vertaling word wel voetnotas gegee vir tekste wat op Christus van toepassing is (vergelyk bv. een van die belangrike tekste oor Christus in Jesaja 53 word voetnotas gevind wat bely dat dit na Christus verwys). Ons kan egter nie hiermee alleen tevrede wees nie en verkies ‘n volledige Ou Testament MET Hoofletters. Maar dat beweer word dat die 2020 vertaling Christus uitvertaal het, is vals.
Op ‘n vergadering gehou in 2012 van al die deelnemende kerke (15 kerke) is die volgende verklaring oor die valse boodskap wat die rondte doen oor die BDV uitgereik:
Die vergadering
- vind dit baie jammer dat pogings aangewend word om die Bybel: ‘n Direkte Vertaling (BDV) verdag te maak en by voorbaat in diskrediet te bring op grond van die manier waarop tekste in die Ou Testament, wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word, weergegee word en distansieer hom van al sodanige pogings;
- bely onomwonde, saam met die hele vertaalspan en die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA), die Godheid van Christus en sy verlossingswerk;
- betuig sy dank teenoor die BSA vir die besluit dat ’n tweede uitgawe van die vertaling (soos versoek deur sommige kerkgenootskappe) goedgekeur word waar hoofletters gebruik sal word in Ou-Testamentiese tekste wat in die Nuwe Testament as Messiaans aangedui word;
- versoek kerkgenootskappe om hul lidmate bewus te maak van die BDV en die webblad www.bybeldirektevertaling.co.za onder hulle aandag te bring;
- verseker die vertaalspanne en redaksionele komitees van hul voorbidding vir die vertaling van die BDV.
- bedank die BSA vir die wyse waarop hulle die saak met betrekking tot die verdagmaking van die BDV hanteer.