Hoe kies die Roomse kerk ‘n pous?

Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Wanneer ‘n pous in die Rooms-Katolieke kerk sterf, volg daar ‘n proses wat deur die eeue heen dieselfde gebly het en deel van die Tradisie van die Roomse kerk is.

Die proses om die afgestorwe pous te begrawe en ‘n nuwe pous te kies, kan soms baie lank neem, maar meestal ongeveer ‘n maand. Die langste tydperk wat dit geneem het om ‘n volgende pous te verkies, was met die dood van Klemens IV op 29 November 1268. Sy opvolger, Gregorius X is eers op 1 September 1271 aangewys, twee jaar en 9 maande later, hoofsaaklik weens politieke spanning tussen Frankryk, Italië en Spanje in daardie tyd.

Die proses van die verkiesing van die pous bestaan uit verskeie fases:

1.   Die aankondiging van die pous se dood

Sodra die pous sterf, bevestig die Vatikaan amptelik die dood. Die tydperk tussen die pous se dood en die verkiesing van ‘n nuwe pous staan bekend as Sede vacante (die leë stoel). Gedurende hierdie tyd word geen nuwe kerklike besluite geneem nie.

2.   Die begrafnis
Die liggaam van die pous word voorberei en in die St. Peters-katedraal in Rome gehou, gewoonlik vir ‘n tydperk van ongeveer drie tot vyf dae. Rooms-Katolieke pelgrims stroom gewoonlik in hierdie tyd na Rome om die liggaam van die pous te sien. Hierna volg die begrafnis.

3. Voorbereiding vir die “konklaaf”

Die woord “konklaaf” verwys na die vergadering van kardinale wat bymekaarkom om te stem vir die nuwe pous. Die woord “konklaaf” beteken letterlik “met ‘n sleutel toegesluit”, wat verwys na die geheimhouding van die stemmingsproses. Al die kardinale kom na Rome en sonder hulself af in die Sistynse kapel en verkies die nuwe pous deur middel van geheime stemming.

Volgens die reëls van die Roomse kerk hoef die volgende pous nie noodwendig ‘n kardinaal te wees nie. In beginsel kan enige gedoopte manlike Katoliek, as pous verkies word. Tog is dit ‘n praktyk wat sedert die 14de eeu konsekwent gevolg word om die pous uit die geledere van bestaande kardinale te kies, op die volgende voorwaardes:

    • Die gekose persoon moet manlik wees.

    • Hy moet ‘n Rooms-Katolieke lidmaat wees.

    • Hy moet in staat wees om tot biskop georden te word, indien hy nog nie reeds een is nie.

Die stemming word twee keer ‘n dag herhaal totdat een kardinaal minstens twee derdes van die stemme ontvang. Kardinale jonger as 80 jaar is stemgeregtig, en hul getal mag nie meer as 120 wees nie. Kardinale ouer as 80 jaar mag advies gee, maar hulle mag nie stem nie.

4. Wit rook en swart rook
Ná elke stemming word die uitslag aan die skare wat buite die Vatikaanstad wag, bekend gemaak. Indien daar nog nie ‘n volstrekte meerderheid is nie, word swart rook by die skoorsteen uitgelaat, wat aandui dat geen besluit nog geneem is nie. Wanneer ’n nuwe pous verkies is, word wit rook vrygestel. Hierna stel ‘n senior kardinaal die nuwe pous bekend aan die skare wat buite die balkon van die Vatikaanstad wag. Die nuwe pous verskyn daarna voor die skare, en gee sy eerste boodskap as nuwe pous aan die skare.


5. Bybelse beoordeling van die plek en rol van die pous

5.1   Onfeilbaarheid van die pous
Die rol van die pous, soos dit in die Rooms-Katolieke kerk verstaan word, staan in kontras met die Skrifgetuienis en die belydenis van die Reformasie. Volgens die Roomse tradisie word die pous beskou as die aardse hoof van die kerk. Hulle glo dat die pous die opvolger van Petrus is en dat hy as opperste herder beheer oor die hele kerk het. Daarby glo hulle dat die pous, wanneer hy oor geloof en sedes uitsprake maak, nie foute kan maak nie, en dus in hierdie opsig onfeilbaar is, aangesien hy die “aardse verteenwoordiger van Christus” is.

5.2 Christus alleen die Hoof van die Kerk

Volgens die Nuwe Testament word Jesus Christus alleen as die Hoof van die Kerk beskou. Efesiërs 1:22–23 leer: “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul…” (vgl. ook Kol. 1:18). Hierdie verse wys duidelik dat Christus alleen die Hoof van die kerk is, en geen mens of Sinode of komitee of dominee hulself daardie titel kan toe-eien nie. Die Bybel laat geen ruimte vir die aanstelling van ’n aardse plaasvervanger wat Christus se posisie as Hoof inneem nie.

Daarby leer die Skrif dat Christus sy Kerk regeer deur sy Woord en Gees, nie deur menslike gesagstrukture nie. Daar is wel ruimte vir gesagstrukture in die Kerk, maar dan word sulke strukture beskou as in diens van Christus en onderdanig aan die Woord met geen gesag op sig self, behalwe dit wat die Skrif toelaat nie. Die Heilige Gees is juis aan die Kerk gegee om haar in alle waarheid te lei (Johannes 16:13), nie ’n mens nie.

Die gereformeerde belydenisse verwerp uitdruklik die pous se gesag en hoofskap oor die kerk. Die Westminster Belydenis (1646) stel in hoofstuk 25.6: “Daar is geen ander Hoof van die Kerk as die Here Jesus Christus nie. Die pous van Rome kan in geen opsig die Hoof van die Kerk wees nie…”. Die pouslike aansprake op gesag, opvolging en onfeilbaarheid vervang die plek van Christus en die gesag van die Woord. In die lig van die 5 solas van die reformasie, kan die aanstelling van ‘n pous nie as ’n Bybels-geregverdigde gebruik beskou word nie. Die kerk moet bly bely: “Ons het geen ander Hoof as Jesus Christus nie.”

5.3   ‘n Waarskuwing vir elkeen wat dink die kerk behoort aan hulle

Die Bybel verwerp nie slegs die pous-gedagte as ’n onskriftuurlike oordrag van Christus se unieke hoofskap nie, maar rig ook ’n ernstige waarskuwing aan enige mens wat probeer om die plek van Christus in sy kerk of gemeente in te neem. In Kolossense 2:18–19 word gewaarsku teen mense wat in valse nederigheid en eie openbarings roem, maar “nie vashou aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam deur die gewrigte en verbindinge ondersteuning ontvang en saamgebind word en so met goddelike groei groot word”. Christus alleen is die Bron van lewe, orde en gesag in die Kerk. Die oortuiging dat enige mens – hetsy pous, predikant, pastoor, oudste, profeet of kerkleier – die Kerk as hoof kan regeer, is nie net ’n miskenning van Christus se eer nie, maar ’n gevaarlike vorm van geestelike hoogmoed wat die liggaam van Christus van sy ware Hoof losmaak. Die Skrif is dus nie stil of neutraal oor hierdie saak nie: dit waarsku duidelik teen elke gesagsfiguur wat hulself bo Christus verhef in die gemeente.