Kinders by die Nagmaal?

Geskryf deur prof. Gerrit Smit

Behoort jong kinders Nagmaal te gebruik?

Deur die eeue heen was daar breë konsensus binne die Gereformeerde kerke dat jong kinders nie tot die gebruik van die Nagmaal toegelaat behoort te word nie. Hierdie standpunt spruit uit eeue oue teologiese en opvoedkundige oorwegings, gegrond in die Skrif en bevestig deur die ervaring van die kerk.

Die Nagmaal, volgens die Skrif en Gereformeerde belydenis, is ‘n heilige handeling wat bewuste selfondersoek, ware berou oor sonde, en ‘n geloofsbewuste aanvaarding van Christus se versoeningswerk vereis. 1 Korintiërs 11 stel duidelike vereistes: deelnemers moet hulself ondersoek en kennis toon van die gebruik van die tekens van brood en wyn. Sonder hierdie bewustelike deelneming word die Nagmaal nie tot versterking nie, maar tot oordeel gebruik¹.

 

Opvoedkundige navorsing

Opvoedkundige navorsing het bevestig dat kinders eers rondom die ouderdom van tien jaar ‘n begin maak om ‘n ware sondebesef te ontwikkel². Voor hierdie stadium besit ‘n kind nie die vermoë om die verskriklikheid van sy sonde en vervloeking daarvan werklik te begryp nie. Sy godsdienstige denke is nog oppervlakkig, sy begrip van geestelike waarhede nog onvolwasse, en sy neiging om op eie verdienste te steun, is nog diep gewortel. Selfs in die daaropvolgende jeugjare bly ‘n sekere egosentrisme dikwels ‘n hindernis vir die jong geloofslewe.

 

Calvyn se mening

Calvyn waarsku teen die roekelose toelating van kinders tot die Nagmaal deur dit te vergelyk met die aanbied van gif onder die dekmantel van lewendmakende voedsel:

“Waarom sou ons dan vir ons teer kindertjies gif aanbied as lewendmakende voedsel, as hulle nog nie die geloof besit waardeur Christus reg ontvang kan word nie?“³

As die Nagmaal ‘n bewuste versterking van die geloof en ‘n fees van genade is vir dié wat verstaan en hulle eie sonde besef hoe kan ons dan kinders, wat nog nie hierdie geestelike volwassenheid bereik het nie, daaraan laat deelneem?

 

Waarom ons nie kinders moet toelaat tot die Nagmaal nie

Die blote verklaring van ‘n kind dat hy in God glo of Hom liefhet, hoe opreg ook al, voldoen nie aan die diepte van selfondersoek en geloofskennis wat die Skrif van nagmaalsgebruikers vereis nie. ‘n Vae begrip of kinderlike entoesiasme kan nie die ernstige verantwoordelikheid van die Nagmaal dra nie.

Hierdie besef lê ten grondslag van die praktyk in die meerderheid gereformeerde kerke, waar verbondskinders eers die volle Verbondsonderrig of katkisasie moet deurloop en belydenis van geloof moet aflê. Gedurende hierdie jare word hulle deeglik onderrig in die inhoud van die geloof en die betekenis van die sakramente. Eers nadat hulle, teen die einde van hul skoolloopbaan, belydenis van geloof aflê, en daarmee openlik en verantwoordelik hul eie oortuiging voor die gemeente bely, word hulle toegelaat om aan die Nagmaal deel te neem⁴.

Deur hierdie proses word verseker dat alle deelnemers aan die Nagmaal hul geloof verstaan, bewus en verantwoordelik daarop reageer, en in gemeenskap met die kerk van Christus die brood en wyn gebruik tot versterking van hulle geloof en tot eer van God.

Die toelating van kinders tot die Nagmaal, sonder hierdie verantwoordelike belydenis en geestelike volwassenheid, sou nie net die ernstige betekenis van die Nagmaal ondermyn nie, maar ook die kinders self benadeel deur hulle bloot te stel aan ‘n handeling waarvoor hulle nog nie werklik geestelik voorberei is nie en waarvan hulle nie die inhoud verstaan nie.

Die argument wat dikwels gebruik word, dat kinders gedoop word al verstaan hulle nie die sakrament nie, en daarom net so wel die Nagmaal kan gebruik, kan in die geval van die Nagmaal nie gebruik word nie, want nêrens in die Bybel word genoem dat iemand ‘n oordeel oor hulself kan bring deur die doop te ontvang nie, maar dit word wel van die Nagmaal in die gemelde gedeelte in 1 Korinthiërs 11 gesê.

Daarom, in ooreenstemming met Skriftuurlike vereistes, die belydenis van die kerk, en gesonde opvoedkundige insigte, moet jong kinders nie die Nagmaal gebruik totdat hulle deur Bybelonderrig, selfondersoek en geloofsbelydenis daartoe voorberei is nie.


Voetnotas

  1. Vgl. 1 Korintiërs 11:27–29: “Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here.”
  2. Vgl. J. Piaget, The Moral Judgment of the Child (London: Routledge & Kegan Paul, 1932), 196–197.
  3. Johannes Calvyn, Institusie van die Christelike Godsdiens, Boek IV, Hoofstuk 16, Paragraaf 30.
  4. Afrikaanse Protestantse Kerk, Kerkorde en Bepalings, Artikel 61, oor die toelating tot die Nagmaal na belydenis van geloof.