Is Sela en Amen dieselfde?
Nee, Sela is nie Amen nie
deur prof. GDS Smit
Ek het al gehoor dat mense reken dat “Sela” die Ou-Testamentiese weergawe van die woord “Amen” in die Nuwe Testament is. In hierdie artikel bespreek ek die redes waarom Sela en Amen nie dieselfde is nie.
Die woordjie Sela is een van die bekendste, maar terselfdertyd een van die mees misverstaande woorde in die Ou Testament. Dit kom veral in die Psalms voor. Dit word dikwels verstaan asof dit eenvoudig beteken: “Amen”, “so is dit”, of “laat dit so wees”. Die gedagte is dan dat die Ou-Testamentiese gemeente na ’n uitspraak van die psalmdigter met “Sela” sou reageer, soos wat Christene vandag “Amen” sê.
Daar is egter goeie taalkundige en eksegetiese redes waarom Sela en Amen nie sinonieme is nie. סֶלָה (selāh) en אָמֵן (ʾāmēn) is twee verskillende Hebreeuse woorde met verskillende betekenisse en verskillende funksies in die Hebreeuse Bybel. Sela behoort in die eerste plek slegs by gedigte en liedere in die Ou Testament (behalwe Habakuk). Die Psalms is poësie, daarom was dit gebruik as ’n musikale of liturgiese lied in die Ou Testament, terwyl Amen ’n woord van bevestiging, instemming en geloofsverklaring is. Die Psalms hoort ook in die Ou Testament onder die geskrifte, wat dit onderskei van die Wet en die Profete.
Wat is Sela?
Die Hebreeuse woord is סֶלָה, gewoonlik getranslitereer as selāh of Sela in ons vertalings. Dit kom ongeveer 71 keer in die Psalms voor en net drie keer in Habakuk 3.
Die presiese Ou-Testamentiese betekenis van die woord is onseker. Dit is juis waarom die meeste moderne vertalings die woord eenvoudig translitereer en as “Sela” behou. Sommige vertalers verstaan die woord met iets soos “verhef” of “ophef”, maar dit is waarskynlik nie korrek nie, aangesien daar ‘n ander woord in Hebreeus daarvoor is.
In die tyd van die Ou Testament was die Psalms in die Joodse tempel en sinagoges gesing, soos wat ons vandag in die kerk berymde Psalms kry. Mens kan dikwels in die Psalms in die eerste vers lees wat die wysie was waarop die Psalm gesing sou wees (bv. Op die wysie van Lelies, soos in Psalm 45). Wanneer die voorsanger die lied gesing het, was daar leestekens wat vir die gemeente wys waar die lied sou pouseer, om asem te skep, veral sodat die gemeente die vorige vers vir ‘n oomblik kan bepeins, waarna die lied hervat word. Presies hoe die wysies geklink het, weet ons ongelukkig nie. Dit het deur die loop van jare verlore gegaan. Die Sela was hier die leesteken wat gebruik was om die asemteken in Hebreeus aan te dui, aangesien antieke Hebreeus geen leestekens bevat nie. Sela is dus bes moontlik gebruik soos wat ons vandag ‘n “punt” in ons taal sou gebruik. Nie alle Psalms gebruik die woord Sela so nie, en daarom kan mens aflei dat die Psalms wat wel die Sela so gebruik, ‘n hoofgedagte wat die Sela voorafgaan, wil beklemtoon.
Die Griekse vertaling van die Hebreeuse Ou Testament (die Septuagint) is hier besonder interessant. Die Griekse vertaling gebruik meestal διάψαλμα (diápsalma) vir סלה. Die woord dui op iets soos ’n musikale tussenspel of verandering in die musikale uitvoering. Volgens die Griekse vertaling blyk dit dat die sang by die woordjie Sela onderbreek sou word en dat daar eers ‘n kort musikale tussenspel sou wees met die musiekinstrumente wat in die sinagoges algemeen gebruik was. Dit bewys nie dat die oorspronklike Hebreeuse woord Sela presies “tussenspel” beteken het nie, maar dit toon wel hoe ’n vroeë Joodse vertaaltradisie die funksie daarvan verstaan het.
Daarom kan ons met redelike sekerheid sê Sela word so verstaan in die Ou Testament.
Sela funksioneer anders as Amen
Die belangrikste onderskeid word sigbaar wanneer ons na die woord Amen kyk.
אָמֵן (ʾāmēn) is verwant aan die Hebreeuse stamvorm אמן, waarvan die semantiese veld verband hou met “vastigheid”, “betroubaarheid”, “bevestiging” en “geloofsverklaring”. Die Engelse vertalings vertaal dikwels die woord אָמֵן as “verily” of “truly”, met die verdere betekenis “so be it”.
Amen is dus ’n bevestiging van iets wat waar of seker is.
Wanneer iemand iets sê en ’n ander persoon antwoord:
אָמֵן, אָמֵן
“Amen, amen”
word die uitspraak bevestig of aanvaar.
Ons sien byvoorbeeld hierdie patroon in Deuteronomium 27. Moses spreek die verbondsvloeke uit, en die volk antwoord telkens: אָמֵן (amen)
Hier is Amen duidelik ’n antwoord op God se verbond of ‘n lofprysing oor God se trou. Jesus gebruik ook dikwels die woord “amen”, veral in die bergrede en in sy preke.
Die Psalms wys die verskil
Een van die belangrikste argumente teen die verwarring van Sela asof dit net Amen beteken, kry ons in die Psalms.
Psalm 41:14 eindig byvoorbeeld met “amen”:
“Geloofd sy die HERE, die God van Israel, van ewigheid tot in ewigheid! Amen, ja Amen.”
Die betekenis is hier bevestigend: die lofprysing word deur die liturgiese “Amen” bevestig as waar en seker.
Daar is nog talle sulke voorbeelde van Psalms wat die woord “amen” gebruik.
Hierteenoor kry ons byvoorbeeld in Psalm 3:5
“Luid roep ek die Here aan, en Hy verhoor my van sy heilige berg. Sela..”
Die woord Sela is hier nie ’n antwoord soos Amen nie. Dit staan ná die uitspraak en funksioneer as ’n merkteken binne die musikale struktuur van die psalm.
Samevatting
Vanuit bogenoemde voorbeelde, kan ons dus bevestig Sela is nie dieselfde as Amen nie. Sela dui ‘n pouse aan. Amen is die woord wat in die Bybel gebruik word, om te bevestig dat iets waar of seker is.
