Alles is genade!

Alles, alles is genade

prof. Gerrit Smit

Lees: Hand. 13:13-52

Augustinus het gesê: wanneer God in die hart van ‘n ongelowige werk om op sy roepstem te reageer, neem Hy die hart van klip weg en gee ‘n hart van vlees.

Calvyn: Hoewel die Here dié wat aan Hom behoort, reeds as sy kinders aangeneem het deur hulle uit te verkies, sien ons nogtans dat hulle so ‘n groot seën nie in besit neem tensy hulle geroep word nie (Inst. III.24.1, 12-15).

Onverdiende barmhartigheid

Lees: Hand. 13:48

Dat God mense tot bekering roep is onverdiende barmhartigheid. Deur die inwendige roeping maak Hy hulle wat tot die ewige lewe verordineer is, voorwerpe van sy barmhartigheid. Na Paulus se preek in die sinagoge in Antiochië het baie van die mense wat hom gehoor het tot bekering gekom. Dit was egter nie Paulus wat die mense tot bekering laat kom nie, maar God wat Paulus as instrument gebruik het om die uitwendige roeping te bring sodat God die inwendige roeping kan bewerk.

Roeping gaan bekering vooraf

Lees: Rom. 8:28-30

Een van die dwalings wat algemeen voorkom leer dat die mens uit sy eie tot bekering kom: die mens gee sy hart vir God. Paulus wys ons hier in Rom. 8 dat dit vir die mens onmoontlik sou wees om tot bekering te kom sonder die roeping en dat die roeping onsuksesvol sou wees as iemand nie vooraf uitverkies is nie. Die verworpenes deel ook in die verkondiging van die Evangelie, maar hulle word nie tot geloof gelei nie. Dit herinner ons aan die woorde van Christus in Joh. 6:44 – Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie”. Wat ‘n wonderwerk dat God steeds sondige mense roep tot bekering.

Om oor na te dink: Kan ‘n lyk uit sy eie opstaan? Deur die sonde is ons wil dood vir God. God alleen kan die dooie wil opwek om te lewe tot sy eer. Wat beteken dit vir u?