Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (2): Ester
Geesvervulde dapperheid in ’n wêreld sonder God
deur prof. Gerrit Smit
Ester se verhaal staan soos ’n vlam van hoop in heidense wêreld. Sy tree nie op in ‘n tyd van wonderwerke of profetiese visioene nie. Inteendeel, die boek wat haar naam dra, noem nie eers die Naam van God nie. Maar juis hierin lê die krag van die getuienis van die boek Ester. Ester wys vir ons dat die Heilige Gees nie net werk in dramatiese openbarings nie, maar ook in die stil vasberadenheid van ’n vrou wat gehoorsaam is in tye van krisis.
In ’n tyd toe die Joodse volk onder die Persiese heerskappy geleef het, sonder profete en ver van hulle tempel in Jerusalem, word Ester onverwags koningin van Persië. Dit was nie deur haar eie ambisie nie, maar deur God se voorsienigheid. Want Hy het altyd ‘n plan waarom Hy mense plaas op sekere plekke en op sekere tye. Die wêreld waarin Ester leef, voel soos ons eie: godsdienstig afgedwaal, moreel onseker, vol politieke spanning. Dis juis in só ’n wêreld dat Pinkster ons herinner: die Gees is nie stil nie, selfs al hoor ons nie ’n stem uit die hemel nie. Soos met Ester, werk die Gees agter die skerms, besig om gewone mense op buitengewone plekke te plaas en moed te gee vir tye soos hierdie. In Ester 4:14 sê Mordegai vir Ester: “…En wie weet of jy nie juis vir ’n tyd soos hierdie tot koninklike waardigheid gekom het nie?” . Toe Mordegai haar roep tot aksie, het Ester voor ’n keuse gestaan: die veiligheid van die paleis en haar posisie as die koningin van Persië, en dan ignoreer sy die nood van haar volk, óf kies sy ‘n pad van gevaarlike gehoorsaamheid ter wille van die behoud van haar mense, maar dan waag sy die dood. Sy kies die tweede, maar eers ná vas en gebed. Die woorde “As ek omkom, dan kom ek om” (Ester 4:16) is nie fatalisties nie; dit is die taal van iemand wat totaal oorgegee is aan God se wil. Ester leer ons dat God se Gees mense stuur vir “’n tyd soos hierdie”, ook al voel dit of Hy stil is.
Hierdie oorgawe is juis wat Pinkster bring – ’n Gees wat nie net troos nie, maar toerus om die waarheid te leef, selfs al beteken dit soms gevaar vir jou eie lewe in diens van God. Ester se geloof is Geesgedrewe geloof, wat vol vertroue is, maar nie onverskillig nie. Sy is moedig, maar nie roekeloos nie. Ten spyte van die afwesigheid van God se Naam, wás Hy aanwesig, want daar is nie ‘n tyd in die geskiedenis wat Hy sy hand van bewaring en versorging wegtrek van sy kinders nie. Daar is géén manier dat God sy kinders alleen los nie.
Pinkster gaan nie net oor openbare prediking of sendingreise nie. Dit gaan oor Geesvervulde gehoorsaamheid. Dit roep gelowiges op om in die voorbeeld van Ester, in plekke van invloed, ook in krisistye, nie stil te bly nie, maar te vertrou dat God deur sy Gees vir ons die krag gee om op te staan vir die waarheid al maak dit ons ongewild of skep gevaar. Ester leer ons dat dit juis in politieke strukture, in kulturele gesprekke en in gesinsverhoudings is waar die Gees mense roep om op te staan. Nie altyd met ’n mikrofoon op ‘n verhoog nie, maar soms op minder opsigtelike maniere: met ’n getuienis in die hof, ’n besluit by jou werk, of ’n gebed in die stilte van jou huis.
Ester is nie ’n randfiguur in die Bybel nie. Sy is instrumenteel in die behoud van die Joodse volk, waardeur die Messias, Jesus Christus, later sou kom. Sy staan nie opgeteken in die geslagsregister van Jesus nie, maar sonder haar gehoorsaamheid kon die geskiedenis van Israel ’n ander wending geneem het. Die boek Ester getuig dat die Gees sy kinders toerus vir dapper optrede. Vroue is nie net ontvangers van die verlossing nie, maar vroue is ook draers daarvan. Al God se kinders, manne en vroue, is geseënd om in hierdie tyd en op die plek waar jy jou tans bevind deur God geplaas te wees om ‘n direkte invloed op jou kinders en hulle julle huise uit te oefen, maar selfs ook op jou vriende en kollegas, die kerk en die samelewing.
Die roepstem van Pinkster is nie beperk tot die Ou-Testamentiese of eerste-eeuse kerk nie. Soos Ester, leef ons in tye van onsekerheid, in ’n wêreld wat soms maak asof God stil is of selfs weg is. Maar juis in só ’n tyd is God se Gees besig om mense toe te rus. Mag die Gees jou oë oopmaak om die roeping raak te sien waarvoor God jou hier geplaas het. Mag jy hoor wat Mordegai gesê het: En wie weet of jy nie juis vir ’n tyd soos hierdie tot koninklike waardigheid gekom het nie? (Ester 4:14). En mag jy die stem van God hoor wat jou roep, dalk nie om groot dinge te doen en koninkryke te verander soos Ester nie, maar om gehoorsaam te wees aan sy Woord in tye van krisis.
*Hierdie artikel is gebaseer op deel 2 van die Pinskterreeks van 5 dele in die AP Kerk Wonderboom (Junie 2025)met die tema: “Besondere vroue in die kerkgeskiedenis en hulle boodskap tydens Pinkster”. Deel 2 se tema was: “Die Gees rus toe vir ‘n tyd soos hierdie”.