Die gee van tiendes in Gereformeerde perspektief
Die gee van tiendes in Gereformeerde perspektief
Prof. Gerrit Smit
Die onderwerp van tiendes is vir baie gelowiges ’n saak van geloofsoortuiging en finansiële verantwoordelikheid. Sommige gelowiges gee nie graag tiendes nie, en soek allerhande verskonings om die verantwoordelikheid af te skuif.
Binne die Gereformeerde tradisie word die gee van tiendes nie beskou as ’n verpligting nie, maar eerder as ’n beginsel wat onderhewig is aan dankbaarheid vir die evangelie van Christus. In hierdie artikel word ondersoek ingestel na die Ou-Testamentiese oorsprong van tiendes, die Nuwe-Testamentiese perspektief, en hoe dit binne Gereformeerde denke prakties toegepas word.
1. Tiendes in die Ou Testament
Die praktyk van tiendes het sy oorsprong in die Ou Testament, waar dit veral in die Mosaïese wet prominent was. Die volk Israel is beveel om ’n tiende van hul landbou-opbrengs en vee aan die Leviete te gee, omdat die Leviete geen erfdeel in die land gehad het nie en aan die tempeldiens gewy was (Numeri 18:21-24). Daar was egter verskeie tiendes: een vir die Leviete, een vir feeste (Deuteronomium 14:22-27), en een elke derde jaar vir die armes (Deuteronomium 14:28-29). Hierdie sisteem was dus meer kompleks as net die gee van 10% van ’n individu se inkomste en het in meeste gevalle 20-30% van die individu se inkomte gevra.
Die gee van tiendes het ‘n belangrike funksie vervul in die geskiedenis van Israel: dit het voorsiening gemaak vir die bediening van die Woord, die onderhouding van die tempel, die onderhouding van die priesters en Leviete se lewensonderhoud en die versorging van die armes.
2. Die Nuwe Testament
In die Nuwe Testament vind ons ’n duidelike skuif weg van die voorskriftelike nakoming van tiendes na ’n beginsel-gebaseerde benadering tot gee soos wat in die hart voorgeneem word. Christus self verwys na tiendes in Mattheus 23:23 toe Hy die Fariseërs teregwys omdat hulle wel hul tiendes gee, maar die gewigtiger sake van die wet verontagsaam, naamlik geregtigheid, barmhartigheid en geloof. Die punt is nie dat die gee van tiendes verkeerd is nie, maar dat dit nie op sigself voldoende is nie.
Paulus gee meer riglyne aan die kerk oor hoe gelowiges behoort te gee. In 1 Korinthiërs 16:2 sê hy: “Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is…”. In 2 Korintiërs 9:7 skryf hy: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” Hierdie teksgedeeltes beklemtoon vrygewigheid, blymoedigheid en doelbewustheid, eerder as ’n vaste persentasie.
3. Die Gereformeerde beskouing
Binne die Gereformeerde tradisie is daar ’n duidelike erkenning van die vervulling van die wet in Christus. Die tiendestelsel van die Ou Testament word gesien as deel van die seremoniële wette van Israel, wat nie direk op die Nuwe-Testamentiese kerk van toepassing is nie. Die Heidelbergse Kategismus leer byvoorbeeld dat ons goeie werke moet doen nie om God se guns te verdien nie, maar uit dankbaarheid (Sondag 32-33). Die gee van tiendes is dus ’n daad van dankbaarheid en gehoorsaamheid binne die raamwerk van die evangelie.
Hoewel die tiende nie as ’n bindende wet voorgehou word nie, word dit aanbeveel as ’n nuttige riglyn vir gelowiges sodat die werk van die Here gedoen kan word. Baie Gereformeerde predikante en kerke moedig die gee van tiendes aan as ’n belangrike manier om die kerk se bediening volhoubaar te ondersteun. Die belangrikste is nie hoeveel gegee word nie, maar dat dit met ’n vrygewige, gewillige en Godvererende gesindheid geskied.
4. Praktiese beginsels
Daar is ’n paar kernbeginsels wat die Gereformeerde teologie uit die Skrif aflei wat die gee van tiendes betref:
• Reëlmaat: Christene behoort gereeld te gee, gewoonlik saam met die eredienste op die rusdag (1 Kor. 16:2).
• Proporsioneel: Die gee moet in verhouding wees tot wat iemand het; dit is nie ‘n vaste bedrag vir almal nie.
• Vrywilligheid: Dit moet nie uit dwang of vrees geskied nie, maar uit liefde en blymoedigheid.
• Doelgerigtheid: Gawes moet dien tot opbou van die gemeente, diens van barmhartigheid en die uitbreiding van God se koninkryk.
Om tiendes vir die kerk te gee, word dus gesien as ’n vorm van rentmeesterskap: God is die eienaar van alles, en ons is slegs bestuurders van dit wat Hy aan ons toevertrou het.
5. Samevatting
Die gee van tiendes is in die Gereformeerde perspektief ‘n praktyk wat, wanneer dit reg verstaan en toegepas word, ‘n hulpmiddel kan wees om geloof, rentmeesterskap en koninkrykswerk te bevorder. Die hart van die saak lê egter nie in ’n presiese persentasie nie, maar in die ingesteldheid van die gewer.
In ’n wêreld wat dikwels deur materialisme en eiebelang oorheers word, bly die Bybelse roeping tot vrygewige en dankbare gee van gawes ter ondersteuning van ander ’n profetiese getuienis. Die kerk behoort hul lidmate op te voed en aan te moedig om met wysheid, liefde en verantwoordelikheid te gee—nie om seëninge te verdien nie, maar omdat ons reeds alles in Christus ontvang het.