Getalle in die Bybel: Die getal drie
Inleiding
Vanjaar het ek in die Pinkster-reeks gefokus op getalle wat herhaaldelik in die Skrif opduik en hulle simboliese betekenis. Ek het gefokus op drie, ses, sewe, twaalf, veertig en vyftig. Die doel is nie om die Bybel in ‘n kodeboek te verander, asof ons dit moet “ontsyfer” voor ons die Bybel verstaan nie. Getalle in die Skrif funksioneer eerder as wegwysers. Hulle is literêre tekens wat die leser help om die patroon van God se handelinge in die Skrif raak te sien. Ons leer dus die Skrif lees soos dit homself wil laat lees.
Die getal drie
Die getal drie staan voorop, want die hele Pinkster-gebeure rus op iets wat op ‘n derde dag plaasgevind het. Sonder die derde dag sou daar geen vyftigste dag wees nie. Sonder die opstanding sou die uitstorting van die Heilige Gees onnodig wees.
Drie dra in die Bybelse wêreld die betekenis van orde en volledigheid. Dit het ‘n begin, ‘n middel en ‘n einde. Dit is die kleinste getal wat ‘n patroon vorm. Een gebeurtenis kan terloops wees, twee kan nog lukraak wees, maar drie vestig ‘n patroon. Ons verstaan dit almal. Wanneer iets driemaal gebeur in ‘n verhaal, weet die leser dat iets beslissends op pad is.
Die Skrif vertoon hierdie patroon op vele vlakke. Die Hebreeuse Bybel word self in drie dele ingedeel: Tora (Wet), Profete en Geskrifte. Die geslagsregisters in die Bybel werk byvoorbeeld ook met drietalle.
Die bekendste voorbeeld is seker die geslagsregister van Jesus in die Evangelie van Mattheus?
Matteus 1:17 sê: “Al die geslagte dan van Abraham tot Dawid was veertien geslagte, en van Dawid tot die wegvoering na Babel veertien geslagte, en van die wegvoering na Babel tot Christus veertien geslagte.”
Hier kry ons drie groepe:
Abraham tot Dawid
Dawid tot die Babiloniese ballingskap
Ballingskap tot Christus
Mattheus verduidelik dat dit ’n drievoudige struktuur van 14–14–14 is.
Waarom doen Mattheus dit?
Eerstens om dit te kan onthou. Mense onthou patrone makliker as losstaande punte. In ’n mondelinge kultuur was patrone baie belangrik. Drietalle en simmetriese groepe maak ’n teks makliker om te memoriseer. Tweedens het dit teologiese betekenis. Die drie tydperke wys:
die opkoms van Israel,
die verval en oordeel van Israel,
en uiteindelik die koms van die Messias.
Die geskiedenis beweeg dus in drie groot bewegings na Christus toe. Soos ’n musikale crescendo. Wat verder opval rondom die gebruik van die getal is: Adam en Eva het drie seuns wat in die verhaal genoem word. Noag het drie seuns waaruit die nasies kom. Die aartsvaders is drie: Abraham, Isak en Jakob. Verder kom die getal drie op vele ander plekke in die Bybel voor: By Sinai sê die HERE vir Moses dat Hy op die derde dag sal neerdaal, en op die derde dag bewe die berg en spreek God die Tien Woorde uit (Eks. 19:11, 16).
Die opvallendste verskyning van drie in die Skrif is die derde dag. Dit is ‘n soort teologiese ritme.
Toe Abraham na Moria opgaan om Isak te offer, lees ons in Genesis 22:4: “Op die derde dag het Abraham sy oë opgeslaan en die plek van ver af gesien”. Drie dae van stilte, drie dae waarop ‘n vader saam met sy seun loop met die mes in sy sak. Op die derde dag verskyn die plek waar hy moes offer en op dieselfde dag word Isak teruggegee asof uit die dood.
Jona word in die vis ingesluk en die teks sê: “En Jona was drie dae en drie nagte in die ingewande van die vis” (Jona 2:1). Wat ‘n graf moes wees, word die plek waaruit hy uitgespoeg en teruggegee word aan die land van die lewendes.
Ester staan voor ‘n raadsbesluit wat sou lei tot haar en haar volk se dood. Sy vra Mordegai en die Jode om drie dae lank saam met haar te vas. “En op die derde dag het Ester koninklike klere aangetrek en in die binneste voorhof van die koning se paleis gaan staan” (Ester 5:1). Op die derde dag verander die loop van die geskiedenis en word die volk gespaar.
Hosea vat hierdie hele patroon van drie profeties saam in Hosea 6:1-2: “Kom, laat ons na die HERE terugkeer, want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind. Hy sal ons ná twee dae lewend maak, op die derde dag ons laat opstaan, sodat ons voor sy aangesig kan lewe.” Hier word die derde dag nie meer ‘n los voorval nie, maar ‘n belofte. Die HERE verklaar dat sy verlossing volgens ‘n vaste ritme werk. Dood, en daarna twee dae van wagtyd, en dan, op die derde dag, lewe.
Die getal drie funksioneer dikwels in die Bybel as ’n getal van goddelike volheid, bevestiging en verlossing. Dit beteken nie dat elke voorkoms van drie op ‘n mistieke manier geïnterpreteer moet word nie, maar die Bybel gebruik dit herhaaldelik op maniere wat met God se reddende handelinge verbind word. Hierdie patrone bou saam ’n Bybelse verwagting dat die “derde dag” die oomblik van Goddelike verlossing en herstel word.
Die getal drie hou ook verband met bevestiging.
Daarom sien mens dikwels drietal-strukture in die Bybel:
geloof, hoop en liefde,
dood, begrafnis en opstanding.
Selfs die tabernakel en tempel het die patroon van drieledigheid gevolg:
voorhof,
heilige,
allerheiligste.
Dit wys die beweging nader aan God se teenwoordigheid, wat uiteindelik in Christus vervul word.
Die hoogste uitdrukking hiervan is die Drie-eenheid self. Die Vader stuur die Seun, die Seun bring verlossing, en die Heilige Gees pas dit toe. Die hele teologie van God se verlossing dra ’n drievoudige patroon.
Kort gestel: drie word in die Bybel dikwels die ritme van redding. Na wagtyd kom die derde dag. Na oordeel kom herstel. Na die graf kom opstanding.
Die derde dag wys na Christus
Hierdie patroon gaan nie oor die getal nie. Dit loop uit op ‘n Persoon. Die hele “derde dag” tradisie in die Ou Testament word in Christus vervul. Hy self het dit so verstaan. Toe die skrifgeleerdes ‘n teken vra, sê Jesus in Mattheus 12:40: “Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.”
Paulus stel die saak so in 1 Korintiërs 15:3-4: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte.” Let op die laaste woorde: “…volgens die Skrifte”. Paulus skryf nie net dat Jesus opgestaan het op die derde dag nie. Hy sê dat dit so móés gebeur het, want die hele Ou Testament was reeds besig om hierdie ritme aan te kondig. Abraham se derde dag, Jona se derde dag, Ester se derde dag, Hosea se derde dag, alles loop op Hom uit. Die derde dag is by God die dag waarop verlossing in die geskiedenis intree.
Slot
Die patroon van die Skrif sê vir die gelowige dat donkerte by God ‘n perk het. Wie worstel met iets wat soos ‘n graf voel, moet onthou dat die God van die Skrif sy eie ritme het. Deur God se genade is die donker meestal net ‘n kort tydjie, en die derde dag verwys na die verwagting van hoop.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
