Getalle in die Bybel: Die getal drie
Inleiding
Vanjaar het ek in die Pinkster-reeks gefokus op getalle wat herhaaldelik in die Skrif opduik en hulle simboliese betekenis. Ek het gefokus op drie, ses, sewe, twaalf, veertig en vyftig. Die doel is nie om die Bybel in ‘n kodeboek te verander, asof ons dit moet “ontsyfer” voor ons die Bybel verstaan nie. Getalle in die Skrif funksioneer eerder as wegwysers. Hulle is literêre tekens wat die leser help om die patroon van God se handelinge in die Skrif raak te sien. Ons leer dus die Skrif lees soos dit homself wil laat lees.
Die getal drie
Die getal drie staan voorop, want die hele Pinkster-gebeure rus op iets wat op ‘n derde dag plaasgevind het. Sonder die derde dag sou daar geen vyftigste dag wees nie. Sonder die opstanding sou die uitstorting van die Heilige Gees onnodig wees.
Drie dra in die Bybelse wêreld die betekenis van orde en volledigheid. Dit het ‘n begin, ‘n middel en ‘n einde. Dit is die kleinste getal wat ‘n patroon vorm. Een gebeurtenis kan terloops wees, twee kan nog lukraak wees, maar drie vestig ‘n patroon. Ons verstaan dit almal. Wanneer iets driemaal gebeur in ‘n verhaal, weet die leser dat iets beslissends op pad is.


Die leer van die wegraping soos dit in baie populêre charismatiese- en dispensasionele kringe verstaan word, naamlik dat Christus geheimsinnig kom om die gelowiges van die aarde weg te neem (weg te raap) voor of tydens ’n toekomstige groot verdrukking, is nie ’n suiwer Bybelse of gereformeerde beskouing nie. Dit berus eerder op ’n spesifieke eskatologiese raamwerk wat eers in die 19de eeu na vore gekom het deur John Nelson Darby en later populêr geword het deur die Scofield Reference Bible.
