Jy is self verantwoordelik

Die mens bly self verantwoordelik

prof. Gerrit Smit

Lees: 1 Sam. 2:12-26

Eli se seuns het baie beslis geweet wat God se Wet van hulle eis. Hulle het self diens gedoen in die tempel, inteendeel hulle was priesters gewees wat die offers aan die Here namens die volk moes offer. Hoe is dit moontlik dat hulle in die amp van priester kon staan en God nie ken nie? En kan hulle of hulle vader Eli verantwoordelik gehou word as ons in vers 25 lees dat die Here hulle wou ombring?

Calvyn: Wanneer van die seuns van Eli vertel word dat hulle nie na sy heilsame vermanings geluister het nie omdat dit die Here se wil was om hulle om die lewe te bring, word nie ontken dat hulle hardkoppigheid  juis uit hulle goddeloosheid gespruit het nie.

Goddeloos sonder hoop

Lees: 1 Sam. 2:13-15; 22-25

Die Here word deur hulle so min geag dat Hofni en Pínehas die gewoonte gehad het om nog voor die vleis aan die Here geoffer word, vir hulself ‘n deel te neem (vers 13-15), selfs al beteken dit dat hulle dit met geweld moet afneem (vers 16). Die gevolg was dat die tempel waar die volk moes heengaan om met God te versoen, ‘n veragtelike plek vir die volk geword het (vers 17). Hofni en Pínehas was deugniete wat die Here nie geken het nie. Die Here was mos in staat om hulle harte te versag om op die vermanings van hulle vader ag te gee, maar hul goddeloosheid wek die toorn van die Here so op, dat Hy van plan was om hulle om die lewe te bring (vers 25). Die lewe van die mens is vir God smaakloos totdat die Heilige Gees daaraan smaak gee. As die Heilige Gees egter nie die hart verander nie, kom die toorn van God oor almal wat in hulle sonde volhard. God is nie verantwoordelik vir die lot van hierdie twee seuns nie. Elkeen bly self daarvoor verantwoordelik. God sien die sonde egter nie oor nie. Omdat Hy regverdig is, sal Hy dit straf.

Om oor na te dink: Gelowige ouers kan nie verantwoordelik gehou word as hulle kinders as volwassenes die rug op die Here draai nie. Dit ontneem ouers egter nie die verantwoordelik om te bly vermaan nie.