Paasfees: Hasies en eiers of ’n rowwe houtkruis?

deur prof. Gerrit Smit

Elke jaar met die aanbreek van die Paastyd vul winkels hul rakke met sjokoladehase, gekleurde eiers, en vrolike versierings. Kinders sien uit na die sogenaamde “paaseier-soektog”, en gesinne beplan lekker kuiergeleenthede. Daar is egter ’n groter vraag wat Christene moet vra: is dít Paasfees? Wat vier ons regtig met hierdie fees? En hoe het ons gekom van ’n graf wat oopgebreek is op ’n Sondagoggend tot ’n paashaas wat eiers bring?

Om hierop te antwoord, moet ons die geskiedenis van die Christelike Paasfees ondersoek en die kulturele ontwikkeling en vermenging tot die moderne viering evalueer, en uiteindelik weer stilraak by die kern van die evangelie – die opstanding van Jesus Christus, die Seun van God.

 

Die wortels van Paasfees in die vroeë kerk

Die oorsprong van Paasfees is gewortel in die Joodse Pesach, die fees wat herdenk hoe God die volk Israel verlos het uit Egipte volgens Exodus 12. Christus self is gekruisig tydens die Paasfees, en die vroeë kerk het vroeg reeds begin om hierdie gebeurtenis jaarliks te herdenk – nie net as ’n herdenking van Christus se dood nie, maar veral van sy opstanding.

In die eerste drie eeue van die kerk se bestaan was daar geen aparte Goeie Vrydag-vieringe nie. Die hele Paasgebeure – Christus se lyding, dood én opstanding – is as een eenheid op die Sondag gevier. Sommige Christene, veral in Klein-Asië, het die fees gevier op 14 Nisan (die datum van die Joodse Pasga), ongeag op watter dag van die week dit val. Ander, soos in Rome, het Paasfees altyd op ’n Sondag gevier – die dag waarop Christus uit die dood opgestaan het​.

Die Sinode van Nicea in 325 n.C. het besluit op ’n eenvormige datum vir Paasfees: die eerste Sondag ná die eerste volmaan ná die lente-ewening in die noordelike halfrond. Dit was ’n belangrike liturgiese besluit wat Paasfees bevestig het as die belangrikste fees in die Christelike kalender.

Teen die 4de eeu het Goeie Vrydag begin posvat as ’n afsonderlike dag van rou, sonder die viering van die nagmaal, en met ’n fokus op die lyding en dood van Christus. Die liturgiese praktyke rondom Paasfees het toenemend gestruktureer geraak – met die instelling van die oordenking van die 7 lydensweke voor Paasfees (met ’n vasperiode van 40 dae) en die Heilige Triduum (Donderdag tot Saterdag van Paasfees), wat die diepte van Christus se lyding en die vreugde van sy opstanding liturgies herdenk het.

 

Die sentrale fokus: die opstanding van Jesus Christus

In baie moderne kerke word dikwels klem gelê op die kruis as die hart van die evangelie – en dit is uiteraard van kardinale belang. Maar volgens die vroegste preke van die apostels in Handelinge en die vroeë kerkvaders, was dit nie die kruis nie, maar die opstanding wat die kern van die evangelie gevorm het. Die kruis was vir hulle simbool van die wêreld se misdaad, maar die opstanding was teken van God se oorwinning. Petrus en die ander apostels verkondig voortdurend: God het Hom opgewek – hiervan is ons getuies (Handelinge 2:32; 3:15; 5:30)​.

Waarom hierdie klemverskuiwing? In die Ou Testament is sonde nie die grootste probleem om te oorkom nie – daarvoor was daar offers, versoeningsdae en priesters. Die grootste probleem was die dood. Dit is waarom gelowiges soos Hiskia in trane uitgebars het toe hulle sterwend was – want in hulle verstaan het die dood die punt van finale skeiding van God beteken. In Jesaja 38 kla Hiskia dat hy nooit weer die Here sal sien nie – want die doderyk was vir hulle ’n plek sonder lofprysing, ver van God.

Maar toe breek Paassondag aan – en alles verander. Christus het opgestaan. Hy het die dood self oorwin. Daarom kan Paulus later skryf: “Vir my is die lewe Christus, en die sterwe wins” (Flp 1:21). Die opstanding het die een saak verander wat geen mens kon verander nie: die dood se houvas op die mensdom. Die leë graf is dus nie ’n bysaak nie – dit is die begin van die evangelie. Christus het ons sonde op Hom geneem en vir ewig versoening gedoen, maar meer nog – Hy het die dood oorwin.

 

Die vreemde intog van hasies en eiers

Die vroeë kerk het nooit eiers geverf nie en daar was geen hasies wat eiers gebring het nie. Hierdie elemente het hul oorsprong in heidense kulture en volksgebruike, veral in Europa.

Eiers: simbool van nuwe lewe

In antieke heidense lentevieringe is eiers gesien as simbole van vrugbaarheid en herlewing. In die Germaanse en Keltiese wêreld is die lente in hierdie tyd van die jaar in die Noordelike halfrond gevier met rituele wat die terugkeer van lewe na die aarde gesimboliseer het. Eiers het ‘n belangrike rol gespeel in hierdie rituele, as tekens van nuwe lewe.

In die Christelike tradisie het eiers eers later ’n simboliese rol begin speel. Tydens die oordenking van Lydenstyd het sommige Christene dikwels afstand gedoen van eiers en suiwelprodukte omdat dit herinner het aan die wyse waarop die heidene die tyd vier. Ná die vastyd het hulle dan eiers gebruik as deel van die Paasfeesviering – en dit het mettertyd ook ‘n geestelike simboliek begin dra.

Na alle waarskynlikheid het die vermenging van die viering van Paasfees met hase en eiers uit hierdie tyd gekom. Sommige Christene het die dop wat oopbreek, gesien as ‘n simbool van die graf wat oopgebreek is toe Jesus opgestaan het. In die Oosterse Ortodokse Kerk is eiers selfs rooi gekleur om die bloed van Christus te simboliseer​. Hierdie vermenging van Paasfees se boodskap met die Germaanse simbole was egter nie deur alle Christene nagevolg nie.

Hase: simbool van vrugbaarheid

Hase is bekend vir hul vinnige voortplanting en was daarom in verskeie heidense kulture ‘n simbool van vrugbaarheid. Volgens die 8ste-eeuse monnik Bede is die Engelse naam vir Paasfees, “Easter”, moontlik afgelei van die naam van ’n vrugbaarheidsgodin, Eostre. In haar lentevierings was die haas ’n belangrike figuur.

Die sogenaamde “Paashaas” het ontstaan in Duitse fabels in die 1600s. Volgens hierdie tradisie het ‘n haas vir kinders eiers gebring. Duitse en Nederlandse immigrante het na alle waarskynlik hierdie gebruik na Amerika gebring in die 1700s, en dit het uiteindelik ontwikkel tot die moderne gebruik van paaseiers in mandjies, en paaseier-soektogte​.

 

Moet Christene hierdie simbole gebruik?

Daar is talle pogings onder ons mense om sekere simbole en tradisies taboe te verklaar. Ons moet waak daarteen om met die skyn van godvresenheid, ’n raak nie, smaak nie, roer nie aan nie houding in te neem wat leringe van mense is (vgl. Kol. 2:21-22) en in die proses ons kinders weg te stoot van die kerk en sy leer eerder as om nader te trek.

Maar, hoewel sekere van hierdie simbole onskuldig mag voorkom – en selfs met goeie bedoelings gebruik kan word – bly die vraag: hoekom? As dit oorspronklik niks met Christus of sy opstanding te doen gehad het nie, en dalk selfs in direkte verband staan met heidense gebruike, moet ons as Christene baie versigtig wees om nie heilige waarhede met kulturele simboliek te vervang nie.

Dit is nie die taak van die kerk om volkstradisies te demoniseer nie, maar dit is die roeping van gelowiges om die evangelie sentraal te hou. Wanneer ’n kind leer dat die Paashaas eiers bring, maar nie hoor dat Christus opgestaan het nie, dan is iets skeef in ons teologie en fout met die opvoeding van ons kinders. Wanneer ’n gesin ’n hele Paassondag spandeer aan sjokolade en speletjies op die strand, maar nie by die Bybel of gebed uitkom nie, het ons die ware betekenis van Paasfees verloor.

Die vroeë kerk het gevas, gebid, gerou oor die kruis, en toe gejubel oor die leë graf. Dit is hierdie patroon van geloof, liturgie en vreugde wat Christene vandag behoort te herwin.

 

Die kruis, die graf, en die lewe

Die ware Paasfees is nie te vind in ’n winkelrak of ’n paaseier-soektog nie. Dit word gevind in die stilte van ’n tuin waar ’n klip weggerol is. In die skrik van vroue wat ’n leë graf vind (Markus 16). In die woorde van ‘n engel: “Hy is nie hier nie – Hy het opgestaan.”

Christus het nie gekom om ons net beter mense te maak nie – Hy het gekom om die dood self te oorwin. En dit is presies wat Hy gedoen het. Sy opstanding is nie ’n mite of ’n simboliese verhaal nie – dit is ware geskiedenis. En dit is goeie nuus: ons hoef nie meer bang te wees vir die dood nie. Niks kan ons skei van die liefde van God nie – nie eers die graf nie (Rom 8:38–39).

Paasfees beteken dus dat lewe sterker is as die dood, dat lig sterker is as duisternis, en dat Christus se oorwinning onstuitbaar is. Dit is die kern van die evangelie – en dit is wat ons moet vier.

 

Slot: Keer terug na die leë graf

Ek glo nie daar is iets mee verkeerd om ’n kind ’n lekker sjokolade-eier te gee nie. Maar ons moet nooit toelaat dat die paaseier die kruis verdring nie. Ons moet ons kinders leer dat die fees van Paasfees nie oor speletjies gaan nie, maar oor verlossing. Nie oor ’n haas nie, maar oor ’n gekruisigde en opgestane Heiland.

Die wêreld sal altyd probeer om Christelike feeste te verslind met kommersialisme. Maar ons hoef nie daaraan deel te neem nie. Paasfees is ons geleentheid om met diepe dankbaarheid en vreugde te verklaar: Hy leef! En omdat Hy leef, leef ons ook.