Die liturgiese karakter van werkersdag in die sosialistiese revolusie

deur prof. GDS (Gerrit) Smit

Inleiding
Werkersdag, of Arbeidersdag, soos dit in baie lande bekend staan, word jaarliks op 1 Mei gevier. In Suid-Afrika en wêreldwyd het dié dag ‘n simboliese betekenis as ‘n huldeblyk aan die stryd van arbeidersbewegings deur die geskiedenis heen. Tog lê daar agter hierdie dag ‘n sterk ideologiese oorsprong wat sy wortels het in sosialistiese denke. Hoewel die dag nie ‘n Christelike karakter het nie, het die kerk wel ‘n profetiese roeping om ook op dié markplein van idees God se Woord te laat hoor. In hierdie artikel bespreek ek die herkoms van die dag, en wys op die huidige liturgiese karakter van werkersdag in die sosialistiese revolusie.


Die oorsprong van 1 Mei: Die Haymarket-gebeure (1886)

Die viering van 1 Mei as Werkersdag spruit uit die gebeure rondom die sogenaamde Haymarket-gebeure wat op 4 Mei 1886 in Chicago, VSA, plaasgevind het. Arbeiders het destyds geprotesteer vir ‘n agt-uur-werksdag — wat ‘n eis van sosialistiese en arbeidersbewegings wêreldwyd geword het. Tydens een van die protesbyeenkomste het ‘n onbekende persoon ‘n granaat na die polisie gegooi, wat sewe polisiemanne gedood het, en tot ‘n gewelddadige botsing tussen die skare en die polisie gelei het. Die gebeure het in baie sosialistiese kringe ‘n martelaarsverhaal geword van die “struggle” teen kapitalisme. In 1889 is besluit om 1 Mei as internasionale dag van werkersolidariteit aan te wys. Hierdie besluit was uitdruklik ideologies gemotiveerd: dit het gepoog om die internasionale werkersklas te verenig teen “kapitalistiese onderdrukking”. Die dag moes nie net herdenk nie, maar mense moes ook mobiliseer — om die klasbewussyn te bevorder en revolusionêre weerstand daarteen aan te wakker.

 

Die invloed van Karl Marx
Werkersdag kan nie losgemaak word van die invloed van Karl Marx se teorieë oor klasstryd, vervreemding en revolusie nie. Volgens Marx was die werkersklas (proletariaat) die draers van vooruitgang en die enigste groep wat die kapitalistiese sisteem kon omverwerp. 1 Mei het mettertyd ‘n liturgiese karakter in sosialistiese denke aangeneem: ‘n dag van openbare betuiging van die werkersklas se rol as verlosser van die wêreld uit die greep van kapitalisme om Marx se idee van die Utopia sonder klasseverskille te bevorder.

In die twintigste eeu het die viering van 1 Mei juis sy grootste ondersteuning in sosialistiese state soos die destydse Sowjetunie gekry. Massaparades, militêre vertoon en politieke toesprake het die dag gekenmerk. Werkersdag het nie net gegaan oor arbeidersregte nie, maar ook oor politieke lojaliteit aan die sosialistiese staat. Dit het ‘n ideologiese fees geword wat die oorwinning van sosialisme oor kapitalisme moes simboliseer.

Hoewel Suid-Afrika nie 1 Mei as ‘n openbare vakansiedag voor 1994 gevier het nie, het die sosialistiese revolusie ná 1994, Suid-Afrika beetgepak, veral onder invloed van vakbonde, wat daartoe gelei het dat die dag in Suid-Afrika ‘n simbool van politieke teenstand geword het. In 1994, na die totstandkoming van die nuwe regering, is 1 Mei amptelik as nasionale vakansiedag erken.


Die liturgiese karakter van werkersdag in die sosialistiese revolusie

Alhoewel Werkersdag op 1 Mei nie binne ‘n kerklike raamwerk ontstaan het of verstaan mag word nie, het dit, soos reeds genoem, van vroeg af liturgiese eienskappe aangeneem — nie in die godsdienstige sin soos ons dit vanuit ‘n kerklike agtergrond sou verstaan nie. Soos wat die kerk mettertyd in die sekulêre wêreld plek moet maak vir die viering van die “burgerlike godsdiens”, het dit ook in die sosialisme ‘n eie karakter gekry. Soos in kerklike liturgieë, is daar vaste rituele, ‘n herhaling van tekste (die herhaling van politieke “slogans” en die oorhandiging van manifeste), simbole (rooi berets, die hamer en sekel), en ‘n narratief van lyding en verwagte oorwinning – alles binne politieke konteks.


Die simboliek van sekulêre tyd en ruimte

In baie sosialistiese lande, word 1 Mei gelykgestel aan ‘n feesdag van vernuwing van die oproep tot weerstand teen die klasse. Die massas word opgeroep om saam te kom in openbare ruimtes soos pleine en stadions om na die toesprake van die leiers te luister (amper asof hulle na ‘n preek kom luister), wat gewoonlik handel oor die “onreg” van die verlede wat reggestel moet word. Dit kan volgens hulle net gebeur as daar ‘n sosiale revolusie plaasvind wat die ou dinge omverwerp en nuwes in hulle plek kom stel. Hierdie hantering van tyd en ruimte weerspieël ‘n rituele klimaat — in dié geval, die herbevestiging van klassesolidariteit en toewyding aan die rewolusionêre ideaal. Sosialistiese leiers soos Lenin, Marx en Mao is met verloop van tyd as soort “profete” beskou, waarvan aanhalings gereeld herhaal en in toesprake gebruik word, wat verder bydra tot die sekulêre liturgiese karakter van die dag. Liedere funksioneer by hierdie byeenkomste byna soos kerkliedere: hulle vorm die kollektiewe geheue, bring die gemeenskap tot eenheid en druk ‘n gesamentlike oortuiging uit.

Werkersdag bring jaarliks die sentrale “soteriologie” (verlossingsideologie) van sosialisme na vore: redding kom nie deur God nie, maar deur die eenheid en mag van georganiseerde arbeid. Die “sonde” is die uitbuiting van arbeid onder kapitalisme, en sluit die foute van die verlede deur kolonisering in. Die “weg tot redding” is klassestryd, en die “verlossing” is die opkoms van ‘n werkersstaat. Hierdie narratief word oor-en-oor herbevestig met dieselfde ritme as wat godsdienstige feeste hul geloofswaarhede bevestig. In meeste demokratiese samelewings het die liturgiese karakter van Werkersdag vervaag, maar spore daarvan bly sigbaar. Vakbonde hou steeds optogte, toesprake word gehou, en daar is ‘n simboliese herbevestiging van arbeidersregte.


Rituele sonder God, maar nie sonder geloof nie

Die sosialistiese viering van Werkersdag is ‘n voorbeeld van hoe sekulêre ideologieë hul eie liturgiese vorme skep. Waar godsdiens tradisioneel sin gegee het aan tyd, arbeid en die verstaan van menslike lyding, neem sosialisme dié rol oor vir die sekulêre werkersklas. Werkersdag het so ontwikkel tot ‘n revolusionêre dag wat nie net arbeid vier nie, maar dit vier in diens van die utopiese droom van ‘n klasvrye samelewing van vryheid, gelykheid en broederskap.

Vir Christene is dit belangrik om die onderskeid te tref tussen die regmatige erkenning van werk as ‘n opdrag van God en die Bybel se positiewe boodskap oor arbeid en rentmeesterskap teenoor die ideologiese sekularisering van werk as ‘n onderwerp van menseregte in diens van ‘n materialistiese wêreldbeskouing.

Werkersdag is dikwels ‘n dag sonder God, maar nie sonder geloof nie — nie die geloof in ‘n Skepper nie, maar eerder ‘n geloof in die mag van die mens, in die onafwendbare opkoms van die werkersklas, en in die skepping van ‘n utopiese wêreldorde van gelykheid deur sosiale revolusie. Hierdie soort geloof is eskatologies van aard, maar sonder ‘n hemelse bestemming; dit is ‘n verlossingsverwagting waarin arbeid en politieke stryd die plek inneem van genade, aanbidding en openbaring.