Twee soorte roepings

Twee soorte roepings

prof. Gerrit Smit

Lees: Mt. 22:1-14

God roep uitverkorenes en nie-uitverkorene mense, maar slegs die wat uitverkies is antwoord op die roepstem.

Calvyn: Daar is ‘n algemene roeping…die tweede is die besondere roeping. Hy maak soms nogtans ook diegene deelgenote waarin Hy slegs tydelik verlig. Daarna verlaat Hy hulle vanweë hulle ondankbaarheid en slaan hulle met groter blindheid (Inst. III.24.8, 4-5; 9,12).

Die uitwendige roeping

Lees: Mt. 22:5-6

Dit is nie nuus dat daar mense is wat gekonfronteer word met die Koninkryk van God, maar wat nie daarop reageer nie. In hierdie gelykenis word dit duidelik gestel dat daar sommige is wat ‘n mens sou verwag die bruilof moes bywoon, maar dat hulle te besig geraak het met hulle alledaagse lewe om tyd af te staan vir die uitnodiging van die Koning (vers 5-6). Hulle kon hulself nie agterna verontskuldig nie, want hulle was wel deur die diensknegte geroep na die bruilof. God tree soos ‘n goeie gasheer op. Hy gaan by die tafels langs en groet die gaste. As Hy een kry wat nie bruilofsklere aan het nie, sal Hy nie duld dat hulle met hulle vuil klere sy feesmaal ontsier nie. Daar is diegene wat tydelik verlig word en onder die uitverkorenes probeer insluip. Dis hulle wat die skyn van Godsaligheid het, maar God nie liefhet nie.

Die inwendige roeping

Lees: Mt. 22:14

Daar is ook die inwendige roeping wat God in die reël die gelowiges waardig ag. Dit gebeur wanneer die Heilige Gees die uitnodiging om na die bruilof te kom aanvul met die begeerte om te kom. Dis wanneer die gepredikte woord wortel skiet in die hart van die mens. Dan ontvang hy/sy feesklere. Dis nie op grond van hulle eie toedoen nie, maar die genade van die Gasheer. Die uitnodiging staan: Kom na die feesmaal, voor iemand anders gehoorsaam en jy uitgesluit word.

Om oor na te dink: Wie is bereid om die uitnodiging na die genooides te bring?