Die Teologie van die Koninkryk van God in 1 en 2 Petrus

Die Teologie van die Koninkryk van God in die

briewe van Petrus

Prof. Gerrit Smit

1 Petrus

Petrus stel die Christene in skerpe teenstelling teenoor die wêreld. Hulle is vreemdelinge (dus van ‘n ander koninkryk) en bywoners, want hulle is die volk van God. Hulle is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is. Hulle word soos lewende stene opgebou tot ‘n geestelike huis waarin hulle ‘n heilige priesterdom is wat geestelike offers bring. Die offers is deur Jesus moontlik gemaak om vir God welgevallig te wees. Die koninkryk is ‘n werklikheid want dit is gebou op Christus die uitverkore hoeksteen. Die saligheid wat Christus bewerk, is alreeds deel van die gelowiges en val saam met die openbaarmaking van Christus.

Die einddoel van die geloof, naamlik die saligheid waarop gehoop word, is nou alreeds die deel van die gelowiges omdat die krag van God hulle daartoe in staat stel. Dit is die nuwe lewe (= ewige lewe) wat Christus aan die gelowiges skenk. Daarom dat Petrus die hoop beklemtoon. Die hoop is ‘n verwagting gerig op ‘n hemelse erfenis (verlossing van hulle siele en ewige heerlikheid). Hierdie verwagting moet die hoop huidiglik aan die brand hou. Die eindgebeure is die verskyning van die Opperherder. Hy sal sy heerlikheid as kroon skenk aan die wat getrou bevind is in die uitvoering van hul taak en roeping. Die openbaring van Christus is reeds aan die gebeur, maar sal aan die einde ‘n besondere karakter aanneem.

 

2 Petrus

Die gelowiges word hierinner daaraan dat hulle ‘n uitverkore groep mense is omdat hulle geloof ontvang het. Hulle kan en behoort toegewyd aan die Here te lewe omdat hulle goddelike krag het wat hulle hiertoe in staat stel. Dit bring dieper kennis van Jesus Christus en so kan hulle uitgeken word as lede van die koninkryk van Christus. Die Dag van die Here kom gewis en seker en hierdie verwagting moet lewend bly in die gelowige. Die belewing van die verlossende genade van die Here moet aanspoor tot groter toewyding terwyl daar nog tyd en geleentheid is. Omdat niemand weet wanneer die Here sal ingryp deur die Voleinding te laat plaasvind nie, is dit noodsaaklik om altyd gereed te wees.