Oordenkings oor God Drie-Enig

Oordenkings oor God en die verstaan van die Drie-eenheid.

Deur: Prof. Gerrit Smit


ONS AANBID DIE ENIGE WARE GOD            

Lees: Deut. 4:30-40

“…daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die Here God is … daar is geen ander nie”. – Deut. 4:39

Nadat Israel uit die slawehuis van Egipte uitgelei is, praat die Here met hulle oor sy soewereiniteit. Hy ís die enige ware God, ongeag wat hulle onder invloed van die heidense Egiptenaars sou leer oor die bestaan van ander gode. Hy herinner Israel dikwels aan die wonderwerke wat Hy aan hulle gedoen het (vgl. vers 33-35). Die waaragtigheid van God word bevestig deur sy werke. Sy werke moes Israel telkemale aanspoor tot onvoorwaardelike geloof in Hom. Hulle moes nie twyfel dat Hy God is nie. Ook nie dat Hy in beheer van die wêreld is nie. God is in die hemel én op die aarde, leer vers 39. Niks kan sy regering ontwyk nie. Niks gebeur sonder Hom nie. Niks bestaan sonder Hom nie. Hierdie verskering gee Israel die troos God is met hulle op die lewenspad. Hy is ‘n God wat vir hulle omgee, want Hy is ‘n barmhartige God, Hy sal hulle nie verlaat nie en hulle nie laat verlore gaan nie (vers 31). Die Here wil ook vandag hierdie belofte aan u bevestig: Ek los jou nie alleen nie. Ons noem God mos nie verniet Immanuel nie: dit is God met ons. Hy gee die bevestiging deur sy Seun: “Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.” (Joh. 14:18). En te danke aan sy Gees het ons verder die belofte: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” (Joh. 14:27).

Gebed: Here, ten spyte van al die aanslae wat die kerk beleef is dit wonderlik om te weet dat U die Enige Ware God is. AMEN


GOD OPENBAAR HOM AAN ONS                     

Lees: Rom. 1:18-2

“…alhoewel hulle God geken het, (het hulle) Hom nie as God verheerlik of gedank nie” – Rom. 1:21

Ons leef in opwindende tye. Die mens se vermoë om dinge tot stand te bring, laat ons dikwels met verbasing na jou asem snak. Ons kan maar dink aan die vordering van die mens op die gebied van die tegnologie, mediese wetenskap, kennis van die aarde, die mikrobiologie en die nano-tegnologie. Tog is ons verstand te klein om God te verstaan, as Hy Hom nie aan ons sou openbaar nie. In Romeine 1 sê Paulus dat die heidene nie ‘n verskoning het om God nie te ken nie. Hulle moes Hom ken, omdat Hy kenbaar is ook deur sy skepping. In plaas daarvan dat hulle God verheerlik op grond van sy skepping, verheerlik hulle die skepping as god. Daarom is hulle uiters dom (vers 22-23), en sal God hulle straf (in vers 18 – die toorn van God is op hierdie mense). God praat met ons op twee maniere: oor die algemeen deur die skoonheid van die natuur en op ‘n besondere manier deur die Skrif. Die Nederlandse Geloofsbelydenis meld in artikel 2 dat God se openbaring genoegsaam is om die mense te oortuig van hulle sonde, en om dié wat meen dat hulle nie geleentheid gehad het om God te ken nie, van alle verontskuldiging ontneem. Ons hét die Bybel, en deur die Bybel leer ons God ken: dat Hy sy Seun gestuur het om ons te verlos. Dus, alhoewel daar mense is wat ons deesdae wysmaak om nie in die Bybel te glo as onfeilbare openbaring van God nie, moet ons leer uit die voorbeeld wat Romeine 1 gee, naamlik: mense wat nie die openbaring van God aanvaar nie, is mense wat nie deel aan sy Koninkryk het nie.

Gebed: Here, ons staan dikwels verstom oor die wysheid van die mens. Tog is baie van hulle dwaas deur nie in U te glo nie. AMEN.


ONS HET HOM DEUR SY SEUN LEER KEN  

Lees: Heb. 1:1-14

“…Hy (het) in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun…” – Heb. 1:1

In die Bybel lees ons van talle kere waardeur die Here Hom as God aan die mense openbaar het. Ons lees van verskillende wonderdade en talle geleenthede waar Hy aan mense verskyn het. Hy het verder op ‘n besondere manier met die mense in die ou tyd gepraat deur sy profete (Heb. 1:1). God het dus baie mense deur die eeue heen gebruik om ander van Hom te vertel. Nou sê vers 1 dat Hy in “hierdie laaste dae  tot ons gespreek (het) deur die Seun”. Die profete moes sê: “So sê die Here”, maar Christus kon sê: “Ek sê vir julle…” (vgl. Matt. 5:20, 28, 32 en ander plekke), omdat Hy in die Vader is, en self God is (Joh. 14:10-11). Christus kon sê: “Hy wat My gesien het, het die Vader gesien” (Joh. 14:9) en daarom kan die Hebreërs-skrywer getuig: God praat met ons deur sy Seun. Die Bybel handel oor God se besondere pad met Israel, en hoe hulle dikwels val en weer opgetel moet word, totdat hulle so verdorwe raak dat hulle God se eie Seun aan die kruis laat sterf. Nou maak God ‘n nuwe begin met almal wat in die Naam van Jesus glo. Hoe wonderlik is dit om te weet: God sorg vir my: nie omdat ek ‘n Israeliet is, of omdat ek ‘n spesifieke taal praat, of ‘n spesifieke velkleur het, of aan ‘n spesifieke kerk behoort nie, maar omdat Hy my sondelas raakgesien het, en my in Christus sy kind maak.  Glo jy dié getuienis? Glo jy dat Hy vir jou na die aarde gekom het? Gaan vertel iemand!

Gebed: Here, hoe wonderlik om te weet U het Uself deur Jesus Christus kom openbaar as die liefdevolle God wat sondaars soek en red. Dankie vir U openbaring aan my. AMEN.


HOE WEET EK GOD BESTAAN REGTIG?     

Lees: Heb. 11:1-7; 32-40

“Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is…” – Heb. 11:3

In ‘n wêreld waar “sien is glo” koning kraai, is dit nogal moeilik om oortuigend te klink as jy oor God se bestaan met ongelowiges moet praat, of as jy hulle oor God hoor praat. Hoe bewys mens dat Hy bestaan as jy Hom nooit self gesien het nie? “Hoe weet julle God bestaan regtig?” Dis die vraag wat die ongelowige heiden dikwels vra. En ongelukkig is die antwoord nie so eenvoudig nie, behalwe om te sê: “Ek glo dit!” Die rasionalisme wil bewyse hê vir God se bestaan. Die feit van die saak is dat ons nie wetenskaplik kán bewys dat God bestaan nie, maar die realiteit is dat die wetenskap net so min sy bestaan kan ontken: hierdie einste wetenskap het ons tot die besef gebring hoe groot die heelal eintlik is: ‘n ligjaar is miljoene der miljoene kilometer in afstand – die son is duisende ligjare van ons af, en die Here is ook daar! Die sterre wat ons elke aand sien, is sommige groter as die aarde en miljoene kilometers ver. Dit is net in ons sterrestelsel.

Daar word gemeen dat daar nog 150000 sterrestelsels met planete is waarvan ons niks weet nie. Klink dit nie vir u ook te groot om maar toevallig te wees nie? Hebreërs 11:1 sê: “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is…” Daarom sê die skrywer verder: die manne en vroue wat met die Here gewandel het, het dikwels nie die beloftes aan hulle gemaak, sien realiseer nie, maar hulle het daaraan bly glo. Dis geloof: om te glo, al kan ek God nie sien of verklaar nie. Hoe weet ons God bestaan regtig? Ons glo dit!

Gebed: Here, deur die geloof wil ek bely dat U alles gemaak het. Dankie dat U ook vir my sorg. AMEN.


DIE ONTKENNING VAN GOD   

Lees: Ps. 53:1-7

“Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie!” – Psalm 53:2

Die groot gevaar vir die voortbestaan van die kerk as instituut lê nie in die mense wat meen dat daar nie ‘n God is nie (ateïste), maar in die mense wat meen dat ons nie eintlik seker is of daar ‘n God is of nie (agnostisiste). Hulle hou ‘n gevaar vir die kerk in, omdat hulle graag in ‘n woordestryd betrokke wil wees oor hulle standpunt. Die ateïs sal dikwels nie met gelowiges ‘n stryd aanknoop oor die bestaan van God nie, want hulle glo dit doodeenvoudig nie. Die agnostisis is die tipiese verwêreldse Westerling, wat dink dat geld, besittings en genot die hoogste prys in die lewe is. Hulle taktiek is om gelowiges te probeer oorrompel met hulle oënskynlike wêreldwysheid. Sulkes meen dat daar geen gemeenskap en geen verwantskap tussen God en sy skepsels is nie.  Hulle meen ons moet nie ons tyd op aarde mors deur ‘n God te aanbid wat dalk nie bestaan nie. Die post-moderne filosofie staan op die teorie dat menslike kennis subjektief en relatief is. “Glo jy dat daar ‘n God is? Ek eerbiedig jou standpunt, maar dis jóú standpunt – jy’t nie bewyse daarvoor nie”. Psalm 53 noem sulkes dwase mense. ‘n Dwaas is iemand wat nie insig in God se werke het nie. In die Bybel word dwaasheid dikwels gesien as die ontkenning van God se bestaan en sy heerskappy oor die mens se lewe. Christus het immers gekom as die wysheid van die wêreld, sodat ons nooit hoef te wonder of God is, en of Hy sorg nie. Hy is immers Immanuel – God met ons. God wil nie hê dat ons twyfel nie. Bid sy Gees om jou die onderskeidingsvermoë te gee om dwaalleer die nek in te slaan.

Gebed: Here, ek kry dikwels te doen met mense wat openlik verkondig dat U nie bestaan nie. Leer my hoe om sulke mense te hanteer. Amen.


DIE ONBEGRYPLIKHEID VAN GOD

Lees: Rom. 11:33-36

“Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë!” – Rom. 11:33b

Nadat die apostel Paulus met die Romeine gepraat het oor die toekoms van Israel, wat meen dat hulle die kinders van Abraham is, en daarom ‘n oop pad het na die hemel, kom die lofsang in verse 33-36 oor die onverstaanbaarheid van God se verlossingsplan aan die beurt. Hoe moeilik is dit nie om die diepte van God se genade te probeer begryp nie? Die vraag na die kenbaarheid van God se genade het al dikwels in teologiese werke aan die orde gekom. In die vorige gedeeltes het ons al geleer dat God wil hê ons moet Hom ken. Om dié rede openbaar Hy Homself aan die mens deur sy Woord en deur sy skepping. Hy wil dus hê dat ons oor die ondeurgrondelikheid van sy genadewerk moet nadink. Dit moet ons bring tot lofliedere oor die Enige Ware God se liefde vir ons deur sy Seun. Dwarsdeur die Bybel, dwarsdeur ons eie geskiedenis hier in Suid-Afrika kom die onbegryplikheid van God se bemoeienis met klein sondaarmensies telkens na die oppervlak. Met die uitdrukking oor die ondeurgrondelikheid van sy oordele word klem gelê op die gedagte dat ons God se Raadsplan nooit hier op aarde ten volle kan snap nie. Dis vir ons genoeg om te berus in die versekering: Hy regeer. Dié gedeelte in Romeine 11 wil ons op ons knieë dwing in aanbidding van die liefdevolle God.  O, wat ‘n vreugde om te weet: “uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid”. Wil jy nie ook vandag saam met Paulus nadink oor God se wonderdade in jou lewe nie? Jy sal tot die besef kom: sy genade is vir jou genoeg!

Gebed: O, almagtige God, hoe onbegryplik is u liefde vir my, sondaarmens. Dit dwing my op my knieë om U te dank. AMEN.


GOD WIL DAT ONS HOM VERTROU

 Lees: Jes. 12:1-6

“Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie…” – Jes. 12:2

Hoe verskriklik sou dit nie wees as die Here vir ons moes sê: “Ek het julle geplant soos ‘n edel wingerdstok, julle versorg en beskerm, maar julle het die rug op My gedraai, en daarom gaan Ek julle vernietig” nie? Dis die boodskap wat die Here deur die profeet Jesaja aan die volk Israel stuur (vgl. Jes. 5:1-7). In die vorige hoofstukke moes Israel hoor dat hulle onder die Babiloniese Ryk gaan val en weggevoer word in ballingskap. Tog beloof God midde-in die oordeelsaankondiging van hoofstuk 1-10 dat die Messias sal kom om die volk van hulle ongeloof te verlos (Jesaja 11). In dié dag sal Israel sing tot eer van die Here (12:2b). Sien u die genade van die Here? Terwyl Israel verdien dat die Here sy rug op hulle keer, maak Hy steeds bemoeienis met hulle met die belofte dat Hy selfs in dié tyd van nood weer tot Israel se hulp sal kom en dat Hy hulle nie alleen los nie. Hy maak die belofte dat Hy hulle steeds sal verlos en vorentoe bewaar. Dis waarom Israel kan sê: God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie (12:2a). God wil dat ons Hom vertrou. Dis so maklik om te twyfel of God nog vir jou omgee, veral as dinge in jou lewe skeefloop en daar allerlei beproewinge oor jou pad kom. God herbevestig telkens weer die belofte wat Hy by jou doop aan jou gemaak het: Ek sal vir jou ‘n God wees, wees jy vir My ‘n kind. Laat ons dan ook saam met Israel die belydenis uitspreek: “God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie”.

Gebed: Here, dankie dat ek weet U los mý ook nooit alleen nie. U het die Messias, Jesus Christus gestuur om nie Israel alleen tot heil te wees nie, maar ook vir my. AMEN.


GOD SE GENADE VIR ALMAL?

Lees: Matt. 5:43-48

“…Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies…” – Matt. 5:45b

God sorg vir alles op aarde. As Hy vir een oomblik sou besluit om sy hand van die skepping te onttrek en net vir sy kinders te sorg, sou die skepping in duie stort, want selfs die asem wat die mens inasem is genadegawes uit God se hand. Om dié rede wys Jesus hier in die bergprediking daarop dat ons goed moet doen aan alle mense, omdat God goed is vir alle mense. Die feit dat dit reën oor goeies en slegtes, en die son opgaan oor goeies en slegtes (Matt. 5:45) noem ons God se algemene genade. In die tyd van Jesus het die Jode die standpunt gehad dat hulle net die mense groet wat húlle groet, en die mense liefhet wat húlle liefhet. Die Jode het veral die Samaritane en die tollenaars gehaat omdat die Jode gedink het dié mense is te sleg om in God se genade te kan deel. Teenoor hierdie: Oog vir ‘n oog en tand vir ‘n tand. Doen iets aan my en ek doen dit terug standpunt van die Jode, kom roep Christus sy volgelinge op om in sy voetspore te volg: as Hy sy vyande vergewe, eis Hy dit van ons. Juis omdat Hy ons oortredinge vergewe het aan die kruis op Golgota eis Hy van ons wederliefde. Maar die feit dat God alle mense genadig is deur in die algemeen vir hulle te sorg, beteken natuurlik nie dat alle mense God liefhet, en dankbaar is vir God se sorg nie. Dus, alhoewel God vir alle mense sorg, het u en ek steeds die verantwoordelikheid om dié wat ver van God af leef, te vermaan en ‘n voorbeeld vir hulle te stel.

Gebed: Here, help my om nie te dink ek is beter as ander mense nie. Gee my daarom die vrymoedigheid om met my vyande oor U te praat. AMEN.


GOD SE BESONDERE GENADE VIR SY KINDERS

 Lees: Joh. 3:1-21

“Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie…” – Joh. 3:18

Soms gebeur dit dat ons mense raakloop wat die woorde: Jesus het jou lief links en regs vir mense sê. Die vraag is egter of ons met eerlikheid kan sê dat God regtig álle mense met wie ons paaie kruis liefhet? Aan die een kant is dit waar dat God vir alle mense sorg (sien gister se dagstukkie), maar om te sê dat Christus vir alle mense gesterf het, is nie ‘n Bybelse standpunt nie. Christus het wel aan die kruis gesterf vir dié wat in Hom glo. Dis waaroor Nikodemus met Christus wou praat: wat moet ek doen om gered te word was die vraag. Christus antwoord die vraag deur te wys daarop dat dit nie van die mens afhang nie, maar van God (Joh. 3:8) en toon dan dat dié wat glo die ewige lewe het. Jesus het na die aarde gekom sodat ons lewe in oorvloed kan hê. Drie maal in hierdie gedeelte word daarop gewys dat hierdie lewe nie deur die wet nie, maar deur die genade aan die mens toekom. In die teksgedeelte sê Jesus dat hulle wat glo, nie deur God veroordeel word nie. Hier is dus van God se besondere genade sprake. Christus leer ons hier dat dit nie gaan oor die dinge wat jy doen nie, maar die dinge wat jy glo. Baie mense sal vir die Here kan sê: ek het vir die kerk gewerk, ek was getrou by die Bybelstudie van ons gemeente, maar die belangrike is of jy glo in Jesus, die Seun van die lewende God. Bely dat Christus vir jou aan die kruis gesterf het, en jy sal lewe, want Christus sê: hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie.

Gebed: Here, ek bely dat ek in U glo. Leer my om gehoorsaam te wees. AMEN.


GOD SE NAAM IS HEILIG

Lees: Matt. 5:33-37; HK So. 37

“…laat julle woord wees: Ja ja, nee nee. Wat meer as dit is, is uit die Bose.” – Matt. 5:37

Die eed en die gebruik van God se Naam word in die Kategismus Sondag 37 met mekaar in verband gebring. Dit gaan dus in die wese van ‘n eed om die aanroep van God se Naam as getuie vir die waarheid en in die verbreking van die eed oor die ydellike gebruik van die lewende God se Naam. God se Naam is heilig. Dit beteken dat dit anders is as enige ander Naam en daarom met respek gebruik moet word. In die bergprediking van Jesus kry ons ‘n nuwe perspektief op die aflê van die eed. In elk van die ses voorbeelde in Matt. 5:17-48 haal Jesus telkens eers die Joodse godsdienstige leiers se interpretasies van sekere aspekte van die wet aan, waarna Hy dan die ware betekenis daarvan kom aanbied. In die voorbeeld van Matt. 5:33–37 vermaan Jesus ons om nie allerlei beloftes af te lê om ons woord te staaf nie. Die Jode het dit gereeld gedoen. Omdat hulle bang was om God se naam direk te gebruik, het hulle by die hemel, die aarde, Jerusalem, en noem maar op, gesweer wanneer hulle iets gewigtigs kwytgeraak het. Jesus sê dat ons in ons alledaagse lewe gewoon maar “ja” moet sê en dan “ja” moet gaan doen (en omgekeerd). Ons maak so baie haastige beloftes, ons sê maklik dinge soos: “Ek dink die heel week al aan jou,” of: “Weet jy, ek wou jou nou net kom besoek” sonder dat ons dit regtig bedoel. Miskien moet ons maar weer ’n slag by Jesus gaan leer hoe belangrik ons opregte “ja” en ons “nee” vir Hom is. Onthou, ‘n eed het te doen met God se Naam, daarom moet ons opreg wees in ons woorde en dade teenoor ons naaste.

Gebed: Here, ek wil nie U Naam ydellik gebruik nie, want ek weet U Naam is heilig. Lei my deur U Gees dat my ja ja is, en my nee nee. AMEN.


HY OPENBAAR HOM AS ‘N DRIE-ENIGE GOD

Lees: 2 Kor 13:1-13

“…Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal!” – 2 Kor. 13:13

Paulus groet die gemeente in Korinte met die vrede van God. Hierdie seëngroet is ‘n belydenis én ‘n gebed. Paulus bemoedig die gemeente met die woorde dat God by hulle teenwoordig is, maar bid tegelykertyd dat God se vrede met hulle sal wees. Ons het hier te doen met ‘n pertinente uitspraak oor die Drie-Eenheid van God. Dit is duidelik dat die eenheid van God anders is as die eenheid van die mens. Die mens is siel en liggaam en dit maak hom beperk: dit is nie moontlik vir die mens om op meer as een plek op ‘n slag te wees nie. Maar God kan in die hemel wees, en op die aarde. God kan tegelykertyd by hulle wees wat blydskap beleef en hulle wat hartseer beleef. Paulus is ook net vlees en bloed en moes dikwels aan gemeentes in sy afwesigheid per brief kommunikeer om hulle te vermaan, te leer en te bemoedig. Paulus kan nie altyd by die gemeente in Korinte wees nie, maar God kan. Om hierdie rede groet Paulus die gemeente met die seën van die Drie-Enige God. God is altyd by hulle. Christus is die bringer van God se genade na hierdie aarde, daarom dat Paulus hier van Christus se genade melding maak. Die Vader is die regeerder oor alle dinge en in liefde versorg Hy sy skepping. Die Heilige Gees is die Trooster wat ons harte nuut maak om God te bely. Hierdie Trinitariese belydenis gee ons hoop, troos en bemoediging. Terselfdertyd praat dit met ons oor God se alomteenoowrdigheid, geregtigheid, oordeel en straf. As u weer die genade-uitspraak van 2 Kor. 13:13 hoor, onthou die Drie-Enige God sê hierdeur vir jou: Ek is altyd by jou teenwoordig!

Gebed: Dankie Here dat ek kan weet U is anders as mense, U is altyd teenwoordig by my. AMEN.


GOD IS EWIG

Lees: Gen. 1:1-2:3

“In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” – Gen. 1:1

Genesis 1 moet verstaan word as ‘n preek. Dit is nie alleen ‘n verslag oor hoe die hemel en die aarde geskep is nie. Dit is ten diepste ‘n verslag oor God se ewigheid. God word nie hier aan ons voorgestel nie: daar word net melding gemaak van sy werke. Hy het nie ‘n begin en ‘n einde soos die skepping nie. Hierdie belydenis gee ons ‘n besondere troos, juis omdat ons lewens gekenmerk word deur ‘n stryd teen die chaos. Die aanslag van die duiwel, versoekings van elke dag, die aanslag teen die kerk, teen ons geloof, teen ons huwelike, teen ons waardes en norme, laat ons dikwels uit die oog verloor dat ons God ewig is en heers oor alles. Dit is ‘n troos om vandag te weet: Hy is in beheer en Hy was nog van altyd af. Hy het die chaos in orde verander daar by die skepping, en Hy doen dit steeds elke dag. En ook in hierdie dag is daardie Hand wat alles gemaak het, die Hand wat ons bewaar en versorg. Genesis 1 kom herinner ons aan die verhouding wat ons met die lewende God het. Die hoogtepunt van hierdie verhouding was toe Hy in die persoon van sy Seun, Jesus Christus, na ons aarde gekom het.  Hierdie gebeurtenis het dit vir ons moontlik gemaak om die God wat die heelal geskep het persoonlik te ken en met Hom gemeenskap te hê. God het dit alles – wat ons is, sien en beleef – geskep.  Die boek Genesis begin met: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”  En met hierdie woorde maak God ‘n begin met die mens wat uitloop tot volle ontplooiing van sy Raadsplan by die wederkoms van Christus.

Gebed: Here, ek bely dat U ewig is, maar vergeet so maklik in tye van nood dat U ewigheid vir my beteken dat U alles onder U beheer het – ook my lewe. AMEN.


GOD IS HEILIG

 Lees: Lev. 19:1-4; 11-19

“…Ek, die Here julle God, is heilig.” Lev. 19:2b

Israel word dikwels in die Ou Testament deur God gemaan om in hul daaglikse omgang met mekaar altyd in gedagte te hou dat hulle anders is en anders moet leef as die heidense volke rondom hulle. God het immers ‘n besondere band met hulle deur sy verbondsbeloftes aan die voorvaders. Dis ook waarna die woord “heilig” verwys: om anders te wees of om jouself af te sonder. God sê dus eintlik hier dat Israel anders moet wees, anders moet leef en anders teenoor mekaar moet optree as wat die heidene sou doen. Die kern in hierdie hoofstuk, word treffend vasgevang in die herhaalde verklaring: “Ek is die Here julle God”.

Die vorm “Ek is die Here jou God” beklemtoon die besondere verhouding wat kragtens die verbond tussen God en sy volk bestaan. Hierdie besef moet hulle hele lewenshouding bepaal. Hulle moet weet dat hulle met alles wat hulle is en het, leef in die lig van God se heilige teenwoordigheid. Daarom ook die dringende en allesinsluitende vermaning: “Wees heilig, want Ek die Here julle God is heilig.” Geen aspek van die lewe kan aan die heilige teenwoordigheid van God onttrek word nie, want God is heilig – Hy is anders, daarom moet hulle anders wees. Terwyl dit kenmerkend van die mens is om vir die “heilige” grense te trek, met ander woorde ’n plek aan te wys, is dit kenmerkend van die heiligheid van God dat dit op die hele mens en die totale werklikheid wil beslag lê. Dit was ook die boodskap van ons Here Jesus Christus. Hy het vir ons kom ly, sodat ons kan sien wat dit in die praktyk beteken om anders te wees. Deur sy Heilige Gees maak hy ons ook heilig.

Gebed: Here, ek bely saam met ander gelowiges ‘n heilige, algemene, Christelike kerk. Leer my om heilig te wees, want U is heilig. AMEN.


GOD IS LIEFDE

Lees: Mal. 1:1-5

“Ek het julle liefgehad, sê die Here.” Mal. 1:2

Hierdie boek se agtergrond is die moeilike jare daar in 515 v.C. Dit is na die oorblyfsel van die volk se terugkeer uit ballingskap en na die voltooiing van die tempel. Ons weet uit verskeie bronne dat dit besonder moeilike jare was. Ek het julle liefgehad. Dit is die groot liefdesverklaring van God aan die mense in hierdie tyd. Hoe het u ons lief? vra Israel in antwoord op die liefdesverklaring van God. Dit het vir hulle gevoel of alles teen hulle was, selfs God. Die werk was baie hard. Die plaaslike volke was hulle vyandiggesind. Die natuur was teen hulle gedraai met mis-oeste as gevolg van sprinkane, droogtes, en wat nog meer. Waar is u liefde? vra hulle. En met ‘n pragtige herinnering uit die geskiedenis van Israel deur die verhaal van Jakob en Esau, herinner God hulle hoe Hy nog altyd vir hulle gesorg het.

Hoe het God nie al vir ons gesorg nie?! Dink maar aan ons eie geskiedenis hier aan die suidpunt van Afrika. Dink maar hoe dikwels ons in ons persoonlike lewens worstel met vrae oor misdaad, ekonomiese agteruitgang en die dood. Maar ook vir ons kom gee God sy liefdesverklaring: Hy gee sy eie Seun om onskuldig te ly vir ons wat skuldig is. Op hierdie liefdesbetuiging van God moet ons nie so gou wees om te vra: Hoe het u ons lief nie? Ons moet eerder buig in aanbidding en dankbaarheid dat die lewende God – die Grote Almagtige God ons liefhet. Ons moet bid dat sy liefde ons toevou en sy Gees ons lei, sodat ons anders kan begin lewe. Met groter toewyding en geloof, sodat sy heerlike Naam geëer kan word selfs in ons nood en beproewing.

Gebed: Here, dankie dat U my so liefhet dat U my ook U kind gemaak het. AMEN.


GOD SE RAAD IS ONVERANDERLIK

 Lees: Heb. 6:1-20

“Daarom het God, omdat Hy…die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ’n eed gewaarborg.” – Heb. 6:17

Hier in die brief aan die Hebreërs word melding gemaak van die onveranderlikheid van die raad van God. Hier word eers aan ons vertel wat God gedoen het en dan word daar ook vermeld vir wie God dit gedoen het. Deur die beloftes aan die mensdom met ‘n eed te waarborg, wys God dat die belofte wat Hy gemaak het aan die voorgangers van die ou verbond,  steeds alles vasstaan, en dat Hy nie van sy plan afgesien het om vir Hom ‘n volk te versamel nie. Die verskil is egter dat God se volk nou nie meer gebind word aan, en beperk word tot spesifieke taal- en kultuurgrense soos wat die Jode van ouds geglo het nie, maar dat God vir Hom ‘n volk bymekaarmaak vanuit al die gehoorsames wat in Christus glo. Dis sy nuwe verbondsvolk van die Nuwe Testament. Hy toon aan dat sy raad vasstaan en dus nie onderhewig is aan verandering nie. Deur dit met ‘n eed te bevestig, staan dit vas as ‘n belofte aan die nageslag. God het hierdie eed geneem vir dié wat erfgename is van die beloftes. Dit is duidelik dat God hier deur sy Seun met die mens in ‘n nuwe verhouding wil kom staan, maar dié verhouding word gebou op die ou beloftes dat Hy vir ons ‘n God sal wees en dat ons sy kinders moet wees, en die appél doen dat ons sy wil moet gehoorsaam. Daarom maak dié gedeelte melding van die “erfgename” wat die beloftes van God erf. Dit verwys na die gelowiges wat die nuwe bedeling in Christus erf, naamlik die herstel van die verhouding met God en die deurgang na die ewige lewe. Laat ons weer opnuut besef dat God altyd dieselfde bly, en sy Raad nie verander nie. Hy sê nie verniet dat Christus gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is nie (Heb. 13:8).

Gebed: Dankie dat U my die troos gee dat U in beheer van alles is omdat alles in U Raad is. AMEN.


GOD IS ALOMTEENWOORDIG

Lees: Psalm 139:1-24

“Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! – Psalm 139:8

Die Bybel leer ons om aan God te dink nie alleen in terme van sy oneindige verhewenheid nie, maar vertel ons ook van sy nabye teenwoordigheid. Dit is dat Hy betrokke is by die skepping en in besonder by die mens. Hoe mooi word dit nie in Psalm 139 uitgespel nie? Sy alomteenwoordigheid beteken dat daar geen plek is waar ’n mens nie met God te doen kry nie. Daarmee word by die mens tuisgebring dat hy nooit van God kan wegvlug nie. Hy het altyd met God te doen al sou hy hom ook waar bevind, in die hoogste hemele of in die doderyk (vers 8). Daar is egter verskillende maniere waarop God se teenwoordigheid ervaar word. In die eerste plek bestaan sy teenwoordigheid daarin dat Hy alles in stand hou en in die geskiedenis van die wêreld met die mens aan die werk is. Die teenwoordigheid van God word ook op ’n meer persoonlike vlak geopenbaar, dit is, in die verhouding tussen God en mens. Hy kom tot die mens in besonder deur die werking van die Heilige Gees in ons hart (Jak. 4:8). Langs hierdie weg weet ons dat God met ons is. Hierdie teenwoordigheid word nie by almal en by alle tye ewe duidelik ervaar nie. Namate mens nader aan God leef en tot Hom in gebed nader, word jy ook meer bewus van sy liefdevolle teenwoordigheid. Hoe meer jy dus besig met God se dinge, hoe meer word jy bewus van God in jou lewe. Daar is niks te groot of te klein waarvan Hy nie weet en waarmee Hy nie te doen het nie. Bring dus vandag jou bekommernis na Hom, want Hy is die alomteenwoordige God.

Gebed: Vader, ek vind vandag my krag in die wete: U is alomteenwoordig. AMEN.


NIKS GEBEUR BUITE GOD SE RAAD NIE

 Lees: 1 Kon. 22:1-40

“…kyk, die Here het ’n leuengees in die mond van al hierdie profete van u gegee” – 1 Kon. 22:23.

Hoe moet ons dit verstaan dat die Here ‘n leuengees in die mond van die profete gee? Die antwoord lê daarin dat vir die Christen daar nie so iets soos ‘n noodlot is wat aan elke mens sy lotgevalle uitdeel nie. Nee, die Skrif weet niks van sulke dinge nie, maar leer ons alleen dit, dat God oor ons lot beskik. God het dus die leuengees beskik om die sonde aan die kaak te stel. Die Bybel leer ons dat Hy teenspoed en dat Hy voorspoed gee, soos Hy weet wat vir ons die beste is, en dat ons op Hom alleen moet vertrou. Oor die gedeelte in 1 Konings 22 en die moeilike vraag of God dan die sonde toelaat en of Hy dit wil, het Calvyn geskryf: “Dit was God se wil dat die ontroue koning Agab mislei moes word (1 Kon. 22:22). Daarvoor bied die duiwel sy hulp aan”. Die feit dat Agab deur God gestraf word, kom nie daarop neer dat God bloot die onreg toelaat nie, maar dat Hy dit wil. Nog voorbeelde hiervan kom in die Bybel voor: die Jode het die voorneme gehad om Christus dood te maak. God beskik dat die Jode se wil geskied deur Pilatus. Daarna erken die kerk dat Gód se wil in der waarheid geskied het, en nie Pilatus of die Jode s’n nie (Hand. 4:27-28). So het Petrus verkondig dat Christus volgens die bepaalde raadsplan van God oorgelewer is om om die lewe gebring te word (Hand. 2:23). Wat dus hier vir ons geleer word is dat God die onreg ook binne sy Raad wil, want niks gebeur buite sy Raad nie, maar dat Hy dit toelaat ook ter wille van die mense wat die straf op hulle sonde sal dra weens hulle eie ongehoorsaamheid.

Gebed: Here, dankie dat ek kan bely dat niks buite U Raad geskied nie. Gee my geduld in die nood, omdat ek weet dat U ook die goeie daaruit beskik. AMEN.


GOD VOORSIEN ONOPHOUDELIK VIR SY KINDERS

Lees: Psalm 24:1-10

“…Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan…” – Psalm 24:1

Ons sien God se sorg in elke dag se gesondheid, lewenskrag, voedsel, klere en dergelike dinge. Ons noem dit die voorsienigheid van God. God se voorsienigheid sluit twee betekenisse in, naamlik om vooruit iets te sien wat gaan gebeur, en om voorsiening te maak vir wat gaan gebeur. Ons as mense kan nie vooruit sien wat gaan gebeur nie. ‘n Vader kan nie sien wat met sy kind gaan gebeur as hy ‘n groot man geword het nie. Maar hy probeer voorsiening maak so ver as moontlik deur die kind te laat voorberei vir ‘n professie. Maar in dit alles is sy voorsienigheid – as ons dit so mag noem – baie onvolmaak en gebrekkig. Maar by God, in sy voorsienigheid, is daar geen gebrek of onvolmaaktheid of teleurstelling nie. Want wat vir sy kinders in die toekoms lê, is nie vir Hom verborge nie; nee, alles is in sy ewige Raad besluit, want die hele skepping is syne en Hy sorg daarvoor soos ‘n vader vir sy kinders sorg (vers 1). Daarom besing Dawid die sorg van die Here in hierdie pragtige lied deur te wys op die heiligheid van God (vers 3), en dat Hy ‘n erekoning is (vers 8). God se sorg het natuurlik nie daar by die skepping geëindig, of opgehou aan die einde van die gebeure in die Bybel beskryf nie, maar dit gaan aan, van geslag tot geslag, en tot vandag. Sien jy ook God se sorg in die klein dingetjies in jou lewe? Sien jy Hom ook in die groot dinge? Dink net hoe jy vir jou en my sorg! Dan kan ons saam met Dawid uitjubel: Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan.

Gebed: Here, dankie dat ek nie oor die toekoms bekommerd hoef te wees nie, omdat ek weet U is ook in beheer daarvan. AMEN.


VRA NA GOD SE WIL

Lees: Rom. 12:1-8

“…sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” –  Rom. 12:2

Soos dit in Romeine 12:1 en 2 aan ons gestel word, is die onderskeiding van God se wil die gevolg van ’n bepaalde gesindheid en gelowige lewensverhouding. Dit volg op die oorgawe van ’n mens aan God. In hierdie toewyding aan God is die belangrikste van alles dat ’n mens vanuit die hart van jou bestaan met God en met sy dinge besig sal wees. Die Here sê vir ons in hierdie gedeelte: laat jou verander deur jou denke te vernuwe deur die Gees. God se wil vir ons soos dit hier uit Romeine blyk, is dat ons sy liefde ter wille van Christus omhels, en dat ons die vrug van ons lewens as ‘n lewende offer aan Hom gee. En nêrens anders leer ons sy wil ken, as deur sy geopenbaarde Woord, Jesus Christus en vanuit sy Skrifwoord, die Bybel nie.

Om na God se wil te vra met die gesindheid van “laat U wil geskied” vra dikwels die neerlê en verbryseling van ons eie wil. Dit vra dat ek my eie wil kruisig en in selfverloëning vra: Here, wat wil U hê moet ek doen? Dit vra van ons geduld om op die Here te wag. Dit is wat die vernuwing van die gemoed in vers 2 beteken. Ons kan nie vir ’n oomblik aan God se liefde vir ons twyfel wanneer ons na aan Jesus lewe nie – al lyk dit soms hoe donker rondom ons. Dit kan nooit weer so donker word soos toe Jesus aan die kruis sy lewe vir ons gegee het nie. Soekend na God se volmaakte wil, kan ons ons liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer.

Gebed: Here, dankie dat ek kan weet wat U wil is. Laat U wil in my lewe geskied. AMEN.


VERKIES UIT GENADE

 Lees: Ef. 1:3-14

“…soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld…” – Ef. 1:4

Efesiërs 1:3-14 is ‘n loflied wat handel oor die genade van God Drie-enig. Sy genade is te sien in sy daad van uitverkiesing. Hierin leer Paulus duidelik dat dit gebeur sonder ons toedoen, sonder ons dade. Vers 11 vestig ons aandag op die verlossingsdade van Christus: dit is deur Christus dat ons ook ‘n erfdeel van God geword het. Die Woord stel dit duidelik dat ons voor die grondlegging van die wêreld tot verlossing verordineer is. Dit wys op God se genadige uitverkiesing wat die gelowiges deelagtig word deur die geloof in en belydenis van die versoening van Christus. Die uitdrukking in Christus het die bedoeling van ter wille van Christus en onder die gesag van Christus. Alleen deur sy bloed is ons tot erfdeel van God gemaak. ‘n Erfdeel is jy nie deur eie toedoen of verdienste nie. Drie maal herhaal Paulus dat dit nie deur eie toedoen of verdienste is nie, maar tot lof van sy heerlikheid – vers 6,12,14 (met ander woorde: sodat God verheerlik word). Daarom moet ons God prys deur ons dade. Hier vind ons die grondslag van ons roeping op aarde: om die lof van sy heerlikheid te besing. Die Arminianis glo dat Christus aan die kruis gesterf het, maar dat ons nog ietsie moet doen om gered te word. Hulle gebruik ‘n beeld waar God die reddingsboei na die mens uitgooi, maar dit hang van die mens af of hy dit gryp of nie. Hierdie siening is natuurlik nie net vreemd aan die Gereformeerde leer nie, maar kom nie in die Skrif voor nie. Paulus stel dit duidelik. God het ons verordineer, sonder verdienste, en ons word die versoening deelagtig alleen deur Christus!

Gebed: Here, baie dankie dat ek vandag die versekering kry: ek is uitverkies deur genade. AMEN.


DIE KENBRON VAN DIE SONDE

 Lees: Rom. 3:9-20

“…deur die wet is die kennis van sonde.” – Rom. 3:20

Eers as die Heilige Gees die mens se hart kom verander, kan mens opreg na God se wil soek. Om God se wil te soek, behels dat ons moet kan vra: wat wil die Here in my lewe doen? Alle mense is sondig. Daar is niemand wat God uit homself soek nie (vers 11) en daar is niemand wat God ten volle kan gehoorsaam nie. Daarom is dit belangrik dat jy moet kan vra: wat is daar in my lewe wat tussen my en God staan? Dis waar die wet van God inkom. Die Woord leer hier in Romeine 3 dat die wet vir ons die kennis van die sonde kom leer (vers 20). Om tot ‘n ware berou oor die sonde te kom, moet ons tog eers weet wat sonde is, en hoe om van die sonde ontslae te raak. Eers as jy weet dis sonde teen God om te haat, kan jy berou kry as jy haat, nie waar nie? Die wet is dus die kenbron van die sonde. En as ek weet wat die wet van my eis, weet ek waar om redding te soek. Ons besef tog allerweë dat my beste bedoelings alewig deur die sonde besoedel word. Daarom moet ons ook verder weet dat die nakoming van die wet nie tot saligheid kan lei nie. Vers 20 leer dit tereg. Waarom is dit dan belangrik om die wet van God te ken? Want as ons nie die wet geken het nie, het ons nie geweet wat God van ons eis nie. Omdat ons die wet ken, besef ons al meer ons eie tekortkomings en kan ons ons toevlug neem tot ons enigste Verlosser, Jesus Christus.

Gebed: Here, skryf U wet op my hart, dat ek U wil kan ken. AMEN.


MY ROEPING IS ‘N WONDERWERK VAN DIE HEILIGE GEES

Lees: Eseg. 37:1-14

“En Ek sal my Gees in julle gee, dat julle lewendig kan word…” Eseg. 37:14

Israel word op hulle geestelike doodsheid gewys deur die profesie van die profeet Esegiël. Wat ‘n pragtige beeld om ons eie geestelike doodsheid mee te vergelyk! Hierdeur wys God ons ook op ons neiging om weg te beur van God af. En nou, laat God ons maar voortploeter in ons eie wil? Nee, Hy kom verander ons. Dis die boodskap van Esegiël aan die ballinge jare gelede. Kyk, God is besig om met julle te werk, en uit die doodsbeendere van geestelike louheid wek Hy weer lewe. Dis die wonderwerk van God se genade. En nou, die vraag: het jy die Heilige Gees? Dié vraag is belangriker as enige onderwerp waarmee jy in jou hele lewe te doen sal kry. Want hierdie vraag het te doen met die kern van ons Godsdiens – dis die middelpunt van kerkwees. Hy wat die Heilige Gees het, het die ewige lewe. Hy wat nie die Heilige Gees het nie – al is hy hoe eng godsdienstig, al leef hy hoe korrek, al is sy lewe hoe moreel en rein – het nie die ewige lewe nie, want hy skiet tekort in die noodsaaklikste deel van redding – die inwoning van die Heilige Gees. Watter troos het jy dan vandag? Juis dat die Heilige Gees ‘n wonderwerk in jou lewe kom bewerk het sodat jy wat geestelik dood was, kan lewe. Hy leef in hulle wat bely dat Jesus die Christus is. As die Heilige Gees in jou hart brand, dan begin daar onmiddellik ‘n lus in die hart kom om vir die Here te werk. Dan is ons nie droë bene in die vallei van die dood nie, maar lewende mense besiel met die krag van die Heilige Gees.

Gebed: Here, dankie dat u die wonderwerk van die inwoning van die Gees in my lewe bewerk het. AMEN.


GOD HET MY LEWE VERANDER

 Lees: Sag. 3:1-10

“…Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere”. – Sag. 3:4

In Sagaria 3 (die vierde gesig) sien ons die hoëpriester Josua voor die engel van die Here staan. Die engel tree op as regter. Aan die regterhand staan die Satan. Die Satan se aanklag is gegrond. Josua is skuldig!. Die aanklag word nie genoem nie. Moontlik is hy onrein vanweë sy verblyf in die ballingskap. Die priesters het ook in ‘n slegte lig gekom weens dit wat hulle gedoen het voor die ballingskap, soos Hofni en Pinehas wat nie deur hulle vader Eli tereggewys is nie. Wat is God se antwoord hierop? Hy sê : “Ek gaan jou straf Satan”. Ons lees hier dat God die aanklaer gaan straf, en dan vergewe Hy die volk én Josua. Die boodskap is duidelik: God vergewe sonder enige verdienste van hulle kant. Josua word beskryf as ‘n stuk brandhout wat uit die vuur geruk is. Die Here sê vandag van jou: jy is soos brandhout uit die vuur geruk. Staan jy met vuil klere voor God? En jy wéét dat jy skuldig is. Die Here sê oor jou: Trek vir hom/haar skoon klere aan. Dit help nie om dit te probeer goedpraat of allerlei verskonings aan te voer nie. Jy en ek is tot die dood toe skuldig. Maar nogtans het God ons lewe kom verander deur sy Seun aan die kruis te gee. Nou kan daar ook ‘n noue band wees tussen jou en God en kan jy onbeperkte toegang tot God hê. Jy kry ook ‘n opdrag. Nie om soos in Sagaria se tyd die tempel te gaan bou nie – maar om nou te bou aan die Koninkryk van God. En dan sal jy en almal wat met jou te doen kry, wéét: Hierdie mens is soos brandhout wat uit die vuur geruk is.

Gebed: Here, ook ek staan voor U: vuil, skuldig en veroordeel. Tog het U my gered! Ek dank U. AMEN.


UIT GELOOF GERED 

Lees: Luk. 9:37-45

“En ek het u dissipels gebid om hom uit te drywe, en hulle kon nie”. – Luk. 9:40

Met ‘n groot skare wat Jesus inwag as hy van die berg afkom die môre na die verheerliking, roep ‘n man uit in hartgebrokenheid tot die Here ter wille van sy enigste seun, wat deur ‘n duiwelse gees beset is. Die dissipels het reeds gesien hulle kan hom nie gesond maak nie, nou bring hulle hom na die Meester, want hulle weet Hy kan. Die magteloosheid van die mens oor siekte en dood is ‘n onderwerp wat menige skrywers en digters in menige tale aangegryp het. Die mens het nie die vermoë om oor siekte en dood en rampspoed te heers nie. Net God het mag oor die wette van die natuur. In die genesing van die maansieke kind het ons ten diepste dan te doen met ‘n belydenis dat Christus self God is. Die dissipels getuig van Hom. Ooggetuies het in die Bybel geskryf wat gebeur het, onafhanklik van mekaar en hulle getuienis stem ooreen. Die Heilige Gees bevestig dit in ons harte. Vandag is daar ongelowige mense wat skepties is oor die wonderwerke wat in die Bybel beskryf word, soos hierdie een, as sou dit nie kon gebeur nie. Met baie slim formulerings word gemeen dat die dissipels se teleurstelling in die kruisiging van Christus uitgeloop het daarop dat hulle al hierdie groot dinge van Christus uitgedink het wat nie waar is nie. As ons hulle sou navolg, tas ons die wese van die Evangelie aan. Maar die Bybel lieg nie; God lieg nie. Daar is net waarheid in wat Hy doen. Die Bybel bevestig: God kan gesond maak. As Christus kan gesond maak is dit ‘n blote bewys teenoor die onvermoë van die dissipels: Christus is God. Glo dit, en jy sal self die redding smaak.

Gebed: Almagtige Here, ek bely dat U waarlik God is. AMEN.


GOD ROEP STEEDS TOT BEKERING

Lees: Jer. 29:4-14

“… julle sal My soek, en vind as julle na My vra met julle hele hart.” – Jer. 29: 13.

Die Here vestig ons aandag op die omstandighede van Jeremia se volk baie jare gelede. Die profeet skryf ‘n brief aan die ballinge wat weggevoer is na Babilonië en onder vreemde oorheersing soek na die sin in die lewe, en in hulle godsdiens. In hierdie gedeelte wys die profeet sy volk tereg, maar spreek hy hoop uit van ‘n heerlike toekoms. Daarom roep die Here op: verootmoedig julle, dis nog nie te laat nie! Genadetyd is steeds daar. In vers 11 sê die Here Hy wil ‘n toekoms vir sy kinders gee, maar hulle moet besef dat alles van Hom af kom, en dat hulle in dankbaarheid vir Hom moet liefwees, want dit is wat hulle vergeet het. Dit blyk vanuit die Nuwe Testament dat die Vader juis sy Seun gestuur het, sodat die gelowiges nie verlore sal gaan nie, maar die wete het – Ek is nie alleen nie, my God is my helper. Wanneer ons besef: net die Here kan help, dan moet ons dit ook uit dankbaarheid uitleef! Vers 12 beveel: roep My aan, Ek sal na julle luister. Maar dan vers 13: moet julle dit met die hele hart bedoel, en die gevolg is seker: vers 14 –  Ek sal julle terugbring. Vandag roep die Here steeds deur sy Woord tot verantwoording, dit vra dat ons voor die Here neersak en bely dat ons Hom vergeet, en daarom besef dat ons straf verdien. Maar ons kom smeek om genade. Soek die eer van die Here weer in jou kerkgang, in jou gesin, in jou binnekamer, want ons God is beskikbaar, Hy is nie daar ver iewers daar bo en niemand weet waar nie, Hy is “God met ons”.

Gebed: Dankie Here dat U Uself aaan my openbaar as ‘n liefdevolle God wat na my soek. So weet ek hoe om na U wil te vra. AMEN.


CHRISTUS BRING VERLOSSING

Lees: Heb. 9:1-14

 “Maar Christus … (het met) sy eie bloed,‘n ewige verlossing teweeggebring.” – Heb. 9:11-12

Versoening beteken “om een te maak”, “om reg te maak wat stukkend was”, om “‘n gebroke verhouding te herstel”. In die ou verbond is die priesterdiens deur God ingestel om namens die volk versoening te doen vir hulle sondes (Lev. 8), maar nog steeds kon geen mens, ook nie die volk se priesters, voor God sondeloos wees nie. Die hoëpriester moes ook self eers vir sy eie sonde versoening bring, daarna vir die volk se onwetende sondes. Die ou verbond was gesetel in ‘n aardse heiligdom, in ‘n aardse tempeldiens, en alhoewel dit glorie gehad het, was dit van verbygaande aard. Die hemelse heiligdom is volmaak (vers 11) en kan nie tot niet gaan nie. Christus word hier uitgebeeld as ‘n volmaakte hoëpriester wat namens ons in die heiligdom ingegegaan het en ons met God versoen het. Christus het ons met die Vader versoen deur die stukkende verhouding wat die gevolg van die sondeval is, sodanig te herstel dat ons nie meer vyande nie, maar kinders van God genoem word. Dit word die nuwe verbond genoem. Versoening was nodig omdat God die sonde haat en dit straf, en ons onmagtig is om onsself te bevry van die dood wat ons verdien.  Die tekortkoming van die ou verbond was dat dit nie blywende versoening kon bewerk nie, dit moes jaar na jaar herhaal word. Maar in die nuwe verbond het Christus een maal vir ons sonde geboet, en nou het ons die versekering: ons sonde word vergewe. As ons soek na God, omdat ons nood groot is; hier is Hy, teenwoordig deur sy Gees. As ons besef ons het hulp nodig; ons Redder is hier om ons uitkoms te gee. Die nuwe verbond is feestelik en vrymakend.

Gebed: Dankie Heer dat U my met God versoen. AMEN.


DOOD VIR DIE SONDE, LEWEND VIR CHRISTUS?

Lees: Rom. 6:1-14

 “…dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here.” – Rom. 6:11

In Rome het daar kort na die ontstaan van die gemeente ‘n ernstige dwaalleer kop uitgesteek. As gevolg van die verskriklike losbandigheid van die heidene in die stad, het sommige gelowiges in die gemeente onder die druk geswig en self in die sonde geval. Hulle het hulself getroos dat dit nie eintlik so erg was nie. Die liggaam, het hulle gesê, behoort aan die aarde. Maak nie saak hoe ons leef nie, ons sal in elk geval in die hemel kom. In die eerste vers van hoofstuk 6 spreek Paulus hierdie opvatting aan met die vraag: “Kan ons nou maar aanhou sonde doen, en redeneer dat God se genade in elk geval die sonde vergewe?” Die antwoord is: Nee, beslis nie. Die gelowiges het deel aan Christus se verlossing, maar dit mag ons nie onverskillig maak nie. In vers 3 en 4 sê hy: As ons in Christus se naam gedoop is, dan is dit asof ons saam met Hom begrawe is, en net soos wat Hy uit die dood opgestaan het en lewe, so lewe ons ook. Dit beteken dat Christus vir ons sonde gesterf het en dat ons dankbaar moet wees. As ons harte vol is van die dankbaarheid teenoor die Here omdat Hy ons verlos het, kan ons nie anders as om dit uit te leef nie. As u die Here waarlik liefhet, sal u nie anders wil as om erns te maak met jou dankbaarheid teenoor Hom nie. Ons kan nie net met die mond bely dat ons die Here liefhet nie; dit moet in ons dade uitmond. Kan jy getuig dat jy vir die sonde dood is, en lewe vir Christus? Dis ‘n noodsaaklike proses van geestelike groei wat die Bybel heiligmaking noem.

Gebed: Here, leer my om vir u te lewe en nie vir die wêreld nie. AMEN.


VOLHARDING

Lees: 1 Kor. 9:15-27

“Ek hardloop dan soos een wat nie onseker is nie…” – 1 Kor. 9:26

In een van ons kerk se besondere belydenisskrifte, die Dordtse Leerreëls, hoofstuk 5 paragraaf 15 bely ons dat dit vir die gelowige noodskaalik is om deur beproewing, vervolging, die haat van die wêreld en selfs die aanslae van Satan self, te volhard in die geloof en in die belydenis van Christus. Dis in wese wat die apostel Paulus hier aan die gemeente in Korinte skryf. Hy vergelyk die gelowige se geestelike lewe met dié van die atleet, wat op ‘n baan hardloop om aan die einde as wenner uit die stryd van geloofsvolharding te kan tree. Maar anders as die wêreldse atleet, hardloop die gelowige om ‘n prys te ontvang wat nie verlep na ‘n dag of twee, soos die verwelklike lourierkrans van destyds nie (vers 25). Hulle hardloop om die ewige lewe te ontvang. Die atleet wat voor die wenstreep tou opgooi, het verloor al het hy hoe hard geoefen, of sy liggaam hoe hard gedryf. Net dié wat die wenstreep haal, het gewen. Elkeen wat die wenstreep haal aan die einde van sy lewe met Christus aan sy kant, het die ewige prys verkry. Dis egter nie onder alle omstandighede maklik om te volhard nie; as jy alleen by die skool moet opstaan vir die waarheid, op by die werk, of op die sportveld, en mense jou dikwels aflag, belaglik maak of selfs ignoreer, lyk dit of dit dalk nie die moeite werd is om hierdie wedloop te voltooi nie. Hardloop jy ook so op die geloofspad dat jy seker is jy sal aan die einde van jou lewenspad wen. Weet dan dat die belofte vas en seker is: die stryd is reeds deur Christus gewen, jou beloning is dus ononderhandelbaar.

Gebed: Ek dank U Here dat U my krag gee om in die geloof te volhard. AMEN.


VERHEERLIKING

 Lees: Luk. 23:33-49

“…vandag sal jy saam met My in die Paradys wees”. – Luk. 23:43

As daar een ding is wat Jesus daar aan die kruis toe Hy hierdie man vergewe het, wou hê ons almal moet verstaan, is dit: vir God is die mens iets werd.  Juis daarom het Jesus Christus mense met soveel deernis behandel.  Die onreine melaatse vra om genees te word, hy ontvang genesing.  Die blinde wat ‘n las van homself maak en skree om hulp, aan hom gee Jesus wat hy vra. So ook die man aan die kruis.  As iemand al ooit verdien het om te sterf as gevolg van sy roekelose lewe, was dit seker hierdie man.  As iemand geklassifiseer kan word as ‘n nikswerd, hier is hy langs ons Here Jesus gekruisig. Miskien is dit juis die rede waarom Jesus hierdie man as voorbeeld gebruik om aan ons te wys dat Hy vir mense omgee. God kom wys wat genade werklik beteken: jy verdien dit nie, maar Hy gee. Hier vind die man die lewe op sy sterfbed. Daarmee beloof Christus aan hom ‘n plek in die Paradys (vers 43). Wat ‘n troos wanneer ons hier op aarde van dag tot dag swoeg en sweet om ons brood te verdien om te weet, ook ek gaan die Paradys in. Verheerliking wag op hulle wat volhard tot die einde toe. God sê in Openbaring 3:10 vir die gelowige: Ek sal jou ‘n kroon van die lewe gee. Laat hierdie belofte ons die toekoms in dra. Want dis nie ‘n leë belofte nie. So seker as wat daardie man aan die sy van Jesus kon weet dat Hy die lewe gevind het, so seker wag die heerlikheid ook op elkeen wat in Hom glo.

Gebed: Here, ek dank U dat ek ook eendag die heerlikheid van die Paradys sal smaak. AMEN.


‘N NUWE LEWE VRA ‘N NUWE BEGIN

 Lees: Kol. 2:20-3:4

“Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie”. – Kol. 3:2

Die Woord roep ons hier op om ter wille van Christus die ou dinge af te lê, en op te staan in die nuwe mens wat ooreenkomstig die beeld van Christus vernuut is.  Hierdie afsterwe van jouself is ‘n pynlike proses. Veral omdat jy self daarvoor verantwoordelik is.  Hierdie dood is ‘n seer dood.  Want dit vra van jou om diep binne jouself te kyk. En dan nie volgens jou eie maatstawwe nie, maar volgens dit wat God van sy kinders verwag.  Hierdie dood vra van jou ‘n verandering, ‘n verandering wat ook nie maar net eenmaal gemaak word nie, maar elke oomblik, elke dag van die lewe. Paulus beskryf hierdie dood soos volg : jy gaan graf toe met die ou mens, die ou mens se klere wat haat, nyd, slegte begeertes, gierigheid, jaloesie, leuens, liefdeloosheid genoem word.  Daardie klere trek jy uit deur die Gees wat in jou werk, en jy beklee jouself met meelewendheid, nederigheid, sagmoedigheid, verdraagsaamheid, geduld, vergifnis en liefde.  Jy sterf dus iets af, en staan op in ‘n ander gedaante. Met die gevolg?  Deel van jou lewe word dankbaarheid en vrede.  Wanneer dit gebeur, sê Kolossense, dan het die boodskap van Jesus Christus in sy volle rykdom in jou begin bly, in jou lewe tuisgemaak, en dan word jy elke dag meer en meer vernuwe na die beeld van Christus.  Dit, natuurlik, as jy saam met God hierdie pad stap.  Elke dag.  Elke oomblik van jou lewe. Dan word ons nuut.  Dan word die wêreld nuut.  Jesus was dood, Hy het opgestaan en lewe.  Ons lewe, sterf, en lewe weer, maar lewe nou nuut.  En dit is moontlik, omdat Jesus Christus nie in die graf gebly het nie, maar lewe.  Wat vir ons nuwe lewe moontlik maak.

Gebed: Dankie Here vir ‘n nuwe lewe. Gee my elke dag ‘n nuwe begin. AMEN.


WARE VRYHEID DEUR CHRISTUS

 Lees: Joh 8:31-38

“…die waarheid sal julle vrymaak.” – Joh. 8:32

In die tyd van Jesus se aardse lewe het die Jode gedink godsdiens bestaan uit ‘n klomp moets en moenies: “Jy mag nie dit doen nie en jy mag nie dat doen nie”. En wanneer Jesus dan met hulle oor vryheid praat, is hulle dadelik op hulle agterpote deur te sê dat hulle nie vryheid nodig het nie, want hulle is kinders van Abraham, hulle is die uitverkore volk van God, hulle het immers God se wet. Hoe verkeerd was hulle nie! Die Jode se sekerheid, hulle vryheid was gebou op valse fondamente. Dit was gebou op uiterlike dinge: op tradisie, op mensgemaakte reëls, op valse sekerhede. Jesus wys daarop dat ons nie op valse fondamente moet bou, soos om te dink dat jou kultuur, volk, geld, of status jou gaan red nie. Net Christus kan hierdie ware vryheid skenk. Hy leer dat Godsdiens nie vir ons ‘n las moet wees nie, maar juis ons moet vrymaak. Ons is net regtig vry as ons die verlossing van Christus ken, en as ons besef God se genade is vir ons genoeg. Jesus roep jou om jou slawekettings af te gooi. Hy roep jou tot ware vryheid: vry om Hom te aanbid, vry om bly te kan wees, vry om te kan vergewe. Jesus het ook vir jou aan die kruis uitgeroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”, sodat jy nooit weer verlate hoef te wees nie, sodat jy in vryheid die ewige lewe tegemoet kan gaan. Joh 8:36 sê: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.” Almal wat hierdie vryheid in Christus soek, het hul eie wil om te begrawe sodat hulle in waarheid en vryheid voor die aangesig van God kan lewe.

Gebed: Dankie Here dat U waarlik vry maak. AMEN.