Die gebruik van die “rooi koei”

Die gebruik van die rooi koei

Prof. Gerrit Smit

In Israel was daar vir baie jare die gebruik van die Rooi Koei. Wat was dit? En wat het dit behels?

Inleiding

Offers het ‘n belangrike rol gespeel in die lewe van die antieke volke. Die mense van die Bybel was dus geen uitsondering nie. Offers het ‘n besonder belangrike rol gespeel by reinheidsgebruike: nadat ‘n vrou geboorte gegee het moes sy ‘n offer bring om haar van haar onreinheid te reinig (Lev 12:1-8), mans en vroue moes vir hul sondes verskillende offers bring (Lev 15:14-15; 29-30).

Die gebruik van die rooi koei

In die Bybelse tyd het al die volke rondom Israel offers gebring. Hierdie volke se offers het ‘n tweeledige doel gehad:

1) Dit was gesien as ‘n maaltyd aan die gode

2) Dit was ‘n ritueel wat die verhouding tussen die mens en die gode herstel het.

Israel se offergebruike het in besonder verskil van die volke van die antieke tyd in die sin dat Israel nie die offers gesien het as ‘n maaltyd aan die gode nie. Hulle het wel offers gebring om die verhouding tussen God en die mens te herstel.

Wanneer offers gebring is moes al die metaalimplemente met “offerwater” gewas het (Num 31:16-31). Dit was nie gewone water nie, want gewone water was as onrein beskou. Om hierdie water voor te berei gee het Israel ‘n spesifieke gebruik gehad: die gebruik van die rooi koei. ‘n Rooi koei, sonder gebrek, wat nog nooit ‘n juk getrek het nie moes geslag word buite die stad (die laer). Indien ‘n rooi koei nie beskikbaar was nie het dit voorgekom dat Israel ‘n koei sonder gebrek geneem het, en die koei rooi geverf het met ‘n aftreksel van rooi sederhout. Die hele karkas is verbrand. Terwyl die karkas brand het die priester sederhout, hisop en speserye in die vuur gegooi. As die karkas klaar gebrand het is die as bymakaar gemaak en in ‘n heilige houer gebêre om daarmee “rein water” of “offerwater” voor te berei. Hierdie as is gemeng met lopende water en het ‘n rooi kleur gehad. Rooi was simbolies vir lewe gewees.

Betekenis?

God het in die midde van die volk gewoon in die tabernakel wat in die middel van die kamp gestaan het. Hy het van die volk verwag om dit in ag te neem en op ’n manier te leef wat daarvan getuig dat hulle saam met Hom lewe. Dit is wat bedoel word met om “rein te wees”. Hulle moes hulle nie besoedel met praktyke wat hulle onaanvaarbaar maak vir God nie.

Selfs al durf hulle nie naby die tabernakel kom nie, bestaan die gevaar dat hulle deur onreinheid die heiligdom van die Here kan ontwy (Num 19:13,20, vgl ook 5:1–4) en dit vir Hom onaanvaarbaar maak om daar te bly. Om dit te voorkom, het die Here vaste reëls gegee oor hoe die volk van sulke onreinheid ontslae kan raak. Een van die dinge wat iemand onrein gemaak het was die dood en dooie liggame. Die agtergrond van hierdie afkeur van die dood is moontlik die godsdienstige gebruike wat daar in die heidense godsdienste rondom die dood bestaan het. Wanneer ’n Israeliet met ’n dooie in aanraking gekom het, moes hy eers weer rein gemaak word, eers weer los gemaak word van die dood en aan die Here toegewy word. Verskillende middels en metodes is hiervoor gebruik. Een daarvan was deur ’n spesiale offer—’n koei—te bring. Nadat dit op die altaar geoffer is, is die as daarvan bymekaargemaak en in water gegooi. Dié water is as reinigingswater gebruik waarin die onreine hom kon was alvorens hy weer in die nabyheid van God durf kom.

Vir vandag se mense is sulke praktyke baie vreemd. Vir die Christendom is daar slegs een manier om vir God aanvaarbaar te wees. Deur te glo in Jesus Christus, in sy liggaam en sy bloed wat vir ons geoffer is op Golgota, is ons rein voor God en wil Hy by ons kom woon. Hy kom in ons lewens in deur sy Heilige Gees en kom woon in sy kerk en in die harte van sy kinders. Sy Gees leer en lei ons om alle afgode en dooie werke te laat staan en met volle oorgawe vir die Here te leef. Hy leer ons om ons te verset teen die kwaad en alles weg te weer wat kan skeiding maak tussen ons en ons God en tussen ons onder mekaar. So leef ons uit God en deur God en tot God, tot sy eer en ons geluksaligheid.