Dit gaan oor Christus

Christus die spieël van die verkiesing

prof. Gerrit Smit

Lees: 1 Petr.2:1-10

Wat is die doel van die uitverkiesing anders as om ons die saligheid en die onsterflikheid te laat verkry?

Calvyn: Hoe jy dit (die uitverkiesing) ook al draai en ondersoek, jy sal agterkom dat die laaste doel daarvan nogtans nie verder strek (as die onsterflikheid) nie. Daarom word daar gesê dat God diegene wat Hy as sy kinders aangeneem het, nie in hulleself uitverkies het nie maar in Christus (Inst. III.24.5, 9-13).

Christus is die lewende steen

Lees: 1 Petr. 2:4

Dit lyk of ons hier ‘n paradoks het – ‘n steen lewe mos nie! Die beeldspraak word egter gebruik om die tema van verkiesing en verwerping duidelik te stel. Petrus noem die ontvangers van die brief God se uitverkorenes (1:1) en en ‘n uitverkore geslag (2:9). Christus word deur sekere mense verwerp maar Hy is deur God verkies om ons die weldade van die koninkryk deelagtig te maak. Mense wat Christus verwerp het, en steeds verwerp, word gekontrasteer met dié wat Hom aanvaar (vers 7).

Hy is kosbaar

Lees: 1 Petr. 2:7

Mens sou die Griekse teks hier kon vertaal met: “Vir julle wat aanhou om te glo…”. Die woord kosbaar beteken hier eintlik “respek” of “eer” en die “Hom” van die teks slaan op God self. Die gelowiges word deur God gerespekteer omdat hulle deel het aan Christus, wat vir God kosbaar is. As Christus God se eer ontvang het, deel die gelowiges in dieselfde eer. Die beeld van Ps. 118:22 roep die antieke boubedryf voor die gees. Stene moes almal dieselfde grootte wees om die gebou eenvormig te kry. Die stene wat nie gepas het nie, is op ‘n hoop gegooi. Die bouers word figuurlik beskryf as dié wat Christus verwerp. Maar God is die argitek en Hy maak Hom die belangrikste steen. Ons moet sy kosbaarheid nie verag nie.

Om oor na te dink: Hoekom sou Christus hier ‘n staan genoem word wat verwerp word? Kan u aan voorbeelde dink waarin dit letterlik met Hom gebeur het?