Organisatoriese gesondheid en produktiwiteit (deel 3)

Organisatoriese gesondheid en produktiwiteit in die kerk

prof. GDS Smit[1]

Januarie 2025

1. Inleiding

Organisatoriese gesondheid is ’n kritiese aspek van enige instelling, hetsy sekulêre organisasies of die kerk. Patrick Lencioni, ’n kenner op die gebied van leierskap en organisatoriese kultuur, beklemtoon dat organisatoriese gesondheid die grootste mededingende voordeel is wat enige organisasie kan hê.

Vanuit ’n Bybelse perspektief word hierdie beginsel versterk deur Skrifgedeeltes soos Kolossense 3:23-24, wat gelowiges oproep om alle werk tot eer van God te doen. Vir ’n gemeente is organisatoriese gesondheid van kardinale belang, aangesien dit nie net geestelike groei bevorder nie, maar ook produktiwiteit in die uitvoering van die kerk se opdrag verhoog.

 

2. Die Konsep van organisatoriese gesondheid

Lencioni definieer organisatoriese gesondheid aan die hand van vier kernboublokke: samewerking en spanbou, duidelikheid van visie, effektiewe kommunikasie, en volgehoue implementering.

Hierdie beginsels kan direk in die kerklike omgewing toegepas word:

  • Samewerking en spanbou: Die Bybel beskryf die kerk as ’n liggaam met baie lede wat in harmonie moet funksioneer (1 Korintiërs 12:12-27). Net soos ’n gesonde liggaam saamwerk om te funksioneer, moet die verskillende ampte en bedieninge van ’n gemeente in eenheid werk om ’n gemeenskaplike doel te bereik.
  • Duidelikheid van visie: Dit beklemtoon die noodsaaklikheid van ’n duidelike visie wat deur leraars en kerkrade geformuleer en gekommunikeer word.
  • Effektiewe kommunikasie: Effektiewe kommunikasie verseker dat daar geen verwarring of wanbegrip in die gemeente is nie.
  • Volgehoue implementering: Die Skrif beklemtoon volharding en getrouheid, soos gesien in Galasiërs 6:9 wat ons aanmoedig om nie moeg te word om goed te doen nie.

 

3. Die rol van leraars in organisatoriese gesondheid van die kerk

Leraars speel ’n sentrale rol in die bevordering van organisatoriese gesondheid in die kerk. Hulle verantwoordelikheid strek verder as die verkondiging van die Woord; hulle moet ook leiding neem in organisasie van die gemeente, raad gee oor finansies en hulp gee met die administrasie.

  • Diensbare leierskap: Markus 10:45 wys daarop dat Jesus gekom het om te dien, nie om gedien te word nie. Leraars moet hierdie voorbeeld volg deur die gemeente te bemoedig, hul belange bo hul eie te stel, en met omgee te lei.
  • Konflikhantering: Matteus 18:15-17 bied ’n duidelike model vir konflikhantering in die kerk. Leraars moet ’n omgewing skep waar konflik op ’n konstruktiewe manier aangespreek kan word.
  • Visie en missie: Dit is die plig van leraars om ’n duidelike visie vir die gemeente te help formuleer en dit voortdurend te kommunikeer. Dit help om ’n gevoel van doelgerigtheid onder gemeentelede te skep.

 

4. Produktiwiteit as vrugbaarheid

Vanuit ’n Bybelse perspektief word produktiwiteit as vrugbaarheid gesien. Johannes 15:5 leer dat gelowiges in Christus moet bly om vrug te dra. Hierdie vrug is nie beperk tot geestelike groei nie, maar sluit ook ander vrugte in.

  • Minder uitbranding deur balans en rus: Genesis 2:2-3 en Matteus 11:28-30 herinner ons aan die belangrikheid van rus. Leraars moet seker maak dat hulle en die gemeentelede hul werks-lewensbalans handhaaf.
  • Betrokkenheid deur samewerking: Psalm 133:1 beklemtoon die skoonheid van eenheid. Gesonde verhoudings in die gemeente moedig samewerking aan en verhoog produktiwiteit.
  • Kweek ‘n kultuur van innovasie: Produktiwiteit kan verbeter word deur ’n omgewing te skep waar kreatiewe idees aangemoedig word. Die Skrif wys op die waarde van wysheid en vindingrykheid. Innovasie binne die gemeente help om uitdagings op ’n vars manier te benader en nuwe maniere te vind om die evangelie effektief te deel.
  • Gebruik van hulpmiddels: Tegnologie kan aangewend word om administratiewe take te outomatiseer en tyd te spaar, sodat meer fokus op geestelike take geplaas kan word. Byvoorbeeld, digitale platforms vir kommunikasie en skedulering kan gemeentes help om meer georganiseerd en produktief te wees.
  • Persoonlike ontwikkeling: Leraars en gemeentelede moet aangemoedig word om voortdurend te leer en hul vaardighede te verbeter. Spreuke 1:5 wys daarop dat wyse mense luister en leer en sodoende leierskap verwerf. Deur opleiding en geestelike groei te prioritiseer, word die gemeente toegerus om meer effektief te dien.

 

5. Die rol van tegnologie in gemeentes

Moderne tegnologie bied unieke geleenthede om organisatoriese gesondheid te bevorder en produktiwiteit te verbeter. Gemeentes kan spesifiek die internet en kunsmatige intelligensie (KI) benut op die volgende maniere:

  • Aanlyn kommunikasie: Gemeentes kan digitale platforms soos YouTube, Zoom, Microsoft Teams of WhatsApp gebruik om gereelde vergaderings en Bybelstudies aan te bied. Dit maak dit makliker om lede betrokke te hou, selfs al is hulle fisies afwesig.
  • KI vir administrasie: KI-gebaseerde gereedskap kan gebruik word om roosters, kommunikasie, en lidmaatdatabasisse te bestuur. Byvoorbeeld, KI en aanlyn samewerkingsgereedskap kan geprogrammeerde boodskappe uitstuur om lidmate aan gebeure of spesiale dienste te herinner.
  • Tegnologie vir dissipelskap: Aanlyn Bybelstudies, geestelike hulpbronne en toepassings maak dit moontlik vir lidmate om op hul eie tyd geestelik te groei. Gemeentes kan platforms soos YouVersion gebruik om skrifgedeeltes en weeklikse temas te deel.
  • Data-ontleding: Gemeentes kan KI gebruik om lidmate se betrokkenheid en behoeftes beter te verstaan. Byvoorbeeld, data kan ontleed word om patrone in lidmate se deelname te identifiseer en om areas te sien waar meer ondersteuning nodig is.
  • Sosiale media: Gemeentes kan sosiale media gebruik om die evangelie verder uit te dra. Platforms soos Facebook en YouTube bied toegang tot ’n wyer gehoor en skep geleenthede om die evangelie digitaal te deel.

 

6. Die krag van “plodding”: geduldige volharding in ’n kultuur van kits oplossings

Produktiwiteit word nie bepaal deur die groot uitsette nie maar deur die volharding in uitsette. In ’n wêreld wat vinnige resultate en onmiddellike sukses idealiseer, beklemtoon Douglas Wilson in hoofstuk 12 van Ploductivity: A Practical Theology of Work & Wealth die waarde van “plodding.” Hierdie konsep verwys na doelgerigte, volgehoue inspanning oor tyd—’n teenmiddel teen die kultuur se obsessie met spoed en onmiddellike bevrediging.

6.1     Wat beteken “plodding”?

Wilson gebruik die term “plodding” om sy voorstel vir produktiwiteit te beskrywe en in Afrikaans sal die woord “slakkepas” waarskynlik ‘n beter woord wees en minder misverstand as “ploetery” veroorsaak? Dit gaan dus oor ’n tipe slakkepas produktiwiteit en oor die geheim van skilpad wat vir hasie wen.

Wilson beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons ons werk en ons lewens sien as in volle vereniging met God in Christus. In hierdie verhouding rus ons in God, terwyl ons terselfdertyd in sy krag werk.

Wilson wys hoe hierdie benadering ’n unieke vrugbaarheid aan ons werk gee, iets wat andersins nie moontlik sou wees nie. Die beeld van die vrugbare wynstok uit Johannes 15 illustreer dit pragtig. Net soos die lewende en welgevallige offer van Romeine 12:1-2, wys Wilson daarop dat as ons lewende offers aan God is, elke alledaagse ding – soos die motor waarin ons ry, die bed waarin ons slaap, die preek wat ons maak of die tafel wat ons herstel – altare word waardeur die geur van ons offerande na God opstyg. Só dra ons vrug in alles wat ons doen en behaag Hom in alles (Kol. 1:10). Dit is duidelik dat daar ’n diep en onafskeidbare verband is tussen ons werk en ons verhouding met God..

“Plodding” gaan nie oor dramatiese prestasies of kitsoplossings nie, maar oor klein, getroue stappe wat oor tyd tot betekenisvolle resultate lei.

Dit sluit in:

  • Daaglikse getrouheid in klein take.
  • Langtermynverbintenis tot roeping en verantwoordelikhede.
  • Geduldige afwagting op God se tydsberekening.

Wilson gebruik die voorbeeld van ’n landbouer wat geduldig saai en plant, al weet hy dat die oes nie onmiddellik sal kom nie. Hierdie beginsel is universeel toepaslik, of dit nou in ons werk, gesin, of geestelike lewe is.

6.2     Die waarde van “plodding” in die leraar se werk

In die sekulêre werkplek word sukses dikwels meetbaar gemaak deur vinnige winste of indrukwekkende resultate. Die gevaar is dat leraars verwag dit moet ook in die kerk gebeur dat sukses oornag kom en resultate indrukwekkend lyk. Tog waarsku Wilson dat hierdie fokus op spoed ons blind kan maak vir die waarde van volharding. “Plodding” in werk beteken om klein, konsekwente stappe te neem wat uiteindelik lei tot blywende en substansiële sukses.

Byvoorbeeld:

  • Dag-tot-dag doelwitte: Deur elke dag klein take getrou af te handel, bou jy oor tyd ’n rekord van sukses. ’n 150 woorde aan ’n artikel; ’n paar bladsye uit ’n boek. Teen die einde van die jaar (42 dae vakansie en Sondae uitgesluit) het leraar 40 000 woorde geskryf. Dit is min of meer gelyk aan 25 artikels/jaar. Maal dit met aantal leraars en resultaat is dat die kerkverband die kapasiteit het om ’n enorme 2200 artikels per jaar te publiseer op die internet. Dink as dit opgeneem kon word en op YouTube geplaas word? Dink aan die evangelisasiewaarde!
  • Verfynde vaardighede: Konsekwente oefening en werk aan jou vaardighede lei tot meesterskap, wat nie oornag bereik word nie.
  • Langdurige impak: Deur met integriteit en volharding te werk, maak jy ’n blywende indruk op jou hoorders, gemeente en die gemeenskap.

6.3     Die teenmiddel teen onmiddellikheid

Ons leef in ’n samelewing wat alles vinnig wil hê—van kitskos tot kitsoplossings. Hierdie ingesteldheid kan frustrasie en uitbranding veroorsaak wanneer dinge nie volgens ons tydsraamwerke gebeur nie.

“Plodding” bied ’n alternatiewe visie:

  • Aanvaarding van stadige vordering: Erken dat blywende verandering tyd verg.
  • Waarde van nederigheid: Wees nederig genoeg om klein stappe te neem en vertrou dat God in beheer is van die resultate.
  • Tydlose waarheid: Die beloftes van God bly waar, selfs al lyk dit of vervulling lank neem.

 

7. Samevatting

Organisatoriese gesondheid is nie net ’n strategiese voordeel nie, maar ’n geestelike opdrag. Wanneer leraars Bybelse beginsels soos eenheid, diensbaarheid, en rentmeesterskap toepas, bevorder dit nie net produktiwiteit nie, maar versterk dit ook die geestelike groei van die gemeente.

Die krag van “plodding” lê in sy eenvoud en diepte. Dit herinner ons dat volharding, eerder as vinnige sukses, die sleutel is tot blywende impak. Deur getrou te wees in klein dinge, bou ons ’n lewe van betekenis wat tot God se eer is. Soos Wilson beklemtoon, is dit nie die dramatiese hoogtepunte wat ons lewens definieer nie, maar die daaglikse keuses om met geduld en integriteit te werk. Die krag van “plodding” is beskikbaar vir elkeen wat bereid is om stadig, maar doelgerig produktief wil wees tot eer van God.

Aan die einde van die dag se verrigtinge, word elkeen huis toe gestuur met 3 vrae:

  1. Dink ek Bybels oor my tyd en word dit so aangewend?
  2. Dink ek Bybels oor gereedskap of i) gebruik ek dit as verskoning of ii) dit lei my in versoeking?
  3. Hoe lyk jou geestelike nalatenskap? Gebruik ek my tyd en gereedskap na die beste van my vermoë tot eer van God? Wat kan ek meer doen om meer effektief te wees, konsekwent te wees in die uitsette wat ek lewer en ‘n bydrae te lewer dat my arbeid en nalatenskap nie tevergeefs was as ek die dag sterwe nie?

 

Geraadpleegde werke

  • Carson, D.A. Christ and Culture Revisited. Eerdmans, 2008.
  • Challies, Tim. 2015. Do More Better: A Practical Guide to Productivity. Cruciform Press.
  • Gangel, Kenneth O. 2015. “Leadership and Biblical Principles.” Christian Leadership Journal.
  • Kaywood, David. 2024. A Biblical Overview of Productivity. The Gospel Coalition. Toegang verkry op 19 Desember 2024.
  • Keller, Timothy. 2012. Every Good Endeavor: Connecting Your Work to God’s Work. Dutton.
  • Lencioni, Patrick. 2012. The Advantage: Why Organizational Health Trumps Everything Else in Business. Jossey-Bass.
  • Lencioni, Patrick. 2002. The Five Dysfunctions of a Team: A Leadership Fable. Jossey-Bass.
  • Pew Research Center. “Religion and the Workplace: Trends in Faith and Leadership.” Beskikbaar by: pewresearch.org
  • Theology of Work Project. “Biblical Principles of Work and Leadership.” Beskikbaar by: theologyofwork.org
  • Wilson, Douglas. 2014. Ploductivity: A Practical Theology of Work & Wealth. Canon Press. Kindle uitgawe.

[1] Referaat drie gelewer tydens die Teologiese dag van die AP Akademie, 27 Januarie 2025.