2020 vertaling of 1953 vertaling?
Moet ek die 2020 of 1953 vertaling lees?
prof. Gerrit Smit
Teoreties behoort die twee baie naby aan mekaar te wees, aangesien beide van hulle ‘n brontaalgeoriënteerde vertaling is. Dit beteken dat beide van hulle poog om so letterlik as moontlik aan die grondteks (die Griekse of Hebreeuse teks) te bly.
Daar is egter woorde in die 33/53 vertaling van die Bybel wat nie meer algemeen in die spreektaal voorkom nie, wat in die 2020 vertaling met meer bekende woorde vervang word.
Daar is ook verskille ten opsigte van die grondtekste wat gebruik is: die 33/53 vertaling van die Bybel was gebaseer op die 16de eeuse Griekse teks van Desiderius Erasmus. Die meerderheid geleerdes is egter van mening dat dit nie die beste Griekse teks van die Nuwe Testament is nie. Om dié rede word die 2020 vertaling, wat die Nuwe Testament betref, gebaseer op Griekse tekste wat dateer uit die derde-vyfde eeu na Christus.
Daar is nog geen uitsluitsel of die AP Kerk die 2020-vertaling sal oorweeg nie. Dit is ‘n saak wat tydens ‘n sinode bespreek sal word. Lidmate kan hulself egter baie verryk om voorlopig die 2020-vertaling aan te skaf en self te lees en te oordeel of hulle die vertaling aanvaar of nie. Dit sal die kerk ook help om later ‘n ingeligte besluit oor die vertaling te neem.