Palmsondag
Die intog van die Koning
deur prof. Gerrit Smit
Palmsondag, die laaste Sondag voor Paasfees, verteenwoordig in die geskiedenis van die kerk die aanvang van die heilige week in die Christelike liturgiese kalender. Hoewel die dag tradisioneel meer in die Rooms-Katolieke kerk herdenk word, word dit wel in Protestantse kerke, onder andere in die Lutherse kerk gevier. Hierdie dag herdenk ’n belangrike laaste deel van Christus se aardse bediening, naamlik Sy intog in Jerusalem. Die gebeure van hierdie dag, wat in al vier die Evangelies (Matteus 21, Markus 11, Lukas 19 en Johannes 12) beskryf word, het plaasgevind teen die agtergrond van politieke spanning, godsdienstige verwagting en die vervulling van Ou-Testamentiese profesieë, spesifiek dié van Sagaria 9:9.
Jerusalem het ten tye van Jesus se intog as ’n sentrum van konflik gedien. Die stad was onder Romeinse bewind, met Pontius Pilatus as goewerneur oor Judea. Hoewel die Romeine die Jode toegelaat het om hul godsdienstige rituele te onderhou, het hulle enige bedreiging teen hul mag met mening onderdruk. Die Paasfees, as een van die belangrikste feeste in die Joodse kalender, het jaarliks duisende pelgrims na Jerusalem gelok. Die Jode het dikwels die geleentheid tydens Paasfees, wanneer baie Jode in Jerusalem is, gebruik om betogings teen die Romeinse owerheid te hou. Hierdie massabetogings het dikwels ’n gevaarlike vonk vir oproer gebied, en daarom het die Romeinse owerhede tydens hierdie tyd die teenwoordigheid van soldate in Jerusulem verskerp.
Terselfdertyd het die Joodse volk onder die juk van Rome gebuig met ’n vurige verlange na verlossing. Baie van hulle het die koms van die Messias verwag – ’n gesalfde koning wat Israel sou bevry van onderdrukking en die Dawidiese koningskap sou herstel. Teen hierdie agtergrond kies Jesus doelbewus om Jerusalem binne te gaan op die rug van ’n donkie, ’n daad wat die Ou-Testamentiese profesie van Sagaria 9:9 letterlik vervul: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ’n oorwinnaar is Hy, nederig en Hy ry op ’n esel, op ‘n jong esel, die vul van ’n eselin”. Hierdie simboliese gebaar was ’n openbare verklaring van Jesus se messiaanse identiteit, maar een wat in skrille kontras gestaan het met die politieke en militêre verwagtinge van die mense van die tyd.
Die reaksie van die skare was hoopvol. Hulle het palmtakke geneem en dit op die pad voor Hom gegooi – ’n gebruik wat in die antieke wêreld oorwinning, vrede en vreugde gesimboliseer het. In die Joodse konteks het palmtakke ’n nasionale simbool geword van hoop en vryheid, veral sedert die Makkabese tydperk. Boonop het die skare hul klere op die grond uitgesprei, ’n gebaar wat aan koninklike eerbewys herinner (vgl. 2 Konings 9:13). Hulle het geroep: “Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” – woorde uit Psalm 118 wat hul hoop op verlossing uitdruk. Die term “Hosanna” beteken letterlik “Red tog nou!” en dien as ’n noodkreet sowel as ’n loflied.
Tog was hierdie vreugdevolle toneel ook deurdrenk van ironie. Die skare het ’n oorwinnaar verwag wat met mag sou kom. In plaas daarvan ontvang hulle ’n Koning wat sagmoedig, nederig en vredeliewend is – op ’n donkie, nie op ’n oorlogsperd nie. Binne dae sou dieselfde skare wat “Hosanna” roep, verander in ’n massa wat “Kruisig Hom!” skree. Hierdie kontras lê die tragedie van menslike misverstand oor Christus se ware sending bloot – ’n Koninkryk nie van hierdie wêreld nie, maar van bo-menslike waarheid, geregtigheid en liefde.
Die viering van Palmsondag as liturgiese fees het reeds in die vierde eeu n.C. in Jerusalem begin posvat. Een van die oudste en mees betroubare bronne wat hiervan getuig, is die pelgrim Egeria se reisverslag uit ongeveer 381 n.C. In haar beskrywing vertel sy van ’n optog op Palmsondag waarin gelowiges van die Olyfberg af Jerusalem binnegetrek het, palmtakke geswaai en gesing het terwyl hulle Jesus se intog simbolies herbeleef het. Hierdie dramatiese heropvoering van die Evangelie het nie net liturgiese betekenis gehad nie, maar ook opvoedkundige waarde – dit het die gelowiges help verstaan dat die pad van Christus na die kruis deur hulle nagevolg moes word.
Die gebruik van palmtakke het later versprei na die Westerse kerk, waar dit deel van die Rooms-Katolieke liturgie geword het teen die 8ste of 9de eeu. In streke waar palmbome skaars was, is plaaslike plante soos wilg- of olyftakke gebruik. Tydens die Middeleeue het die Palmsondagviering verder uitgebrei met dramatiese tonele, insluitende die “Palmesel” – ’n houtbeeld van Jesus op ’n donkie wat deur die strate van dorpe en stede getrek is.
Met die Reformasie is die fokus van die Palmsondagviering in baie Protestante kerke vervang met Skriflesing en prediking, hoewel die simboliese gebruik van takke in sommige tradisies behou is. In die Rooms-Katolieke en Ortodokse kerke het die optogte en die swaai van palmtakke steeds ’n belangrike rol gespeel.
Palmsondag herinner die Kerk aan die spanningsveld tussen mense se verwagtinge van verlossing en die werklikheid van God se plan. Die nederige donkie, die palmtakke, die hosannas en die naderende kruis vorm saam ’n drama van die ware aard van Jesus se heerskappy – een van diensbaarheid, lyding en uiteindelike oorwinning oor sonde en dood. Die viering van hierdie dag is nie maar net ’n tradisie nie, maar ’n uitnodiging om Christus te erken as die ware Koning – nie net in Jerusalem nie, maar oor die hele wêreld.