Ons sal ook opstaan

Soos Christus sal ons ook opstaan

prof. Gerrit Smit

Lees: Kol. 2:20-3:17

Paulus verklaar dat, indien die dooies nie opstaan nie, alles wat ons oor die Evangelie glo en hoop, nutteloos sou wees. Die gesag van die Evangelie sou ook ineenstort.

Calvyn: Dit is ‘n saak wat moeilik is om te glo dat wanneer ons liggame deur verrotting verteer is, hulle uiteindelik weer op hulle tyd sal opstaan. Die Skrif voorsien twee hulpmiddels met die oog daarop dat die geloof so ‘n groot hindernis te bowe kan kom: die een in die ooreenkoms van Christus se opstanding en die ander in die almag van God (Inst. III.25.3, 24-27).

Christus het opgestaan

Lees: Kol. 3:1-3

Ons moet deur die uitverkiesing leer dat ons, nadat ons Christus en sy weldade deelagtig geword het, hoër moet mik as die aardse mens. Ons moet weet dat Christus met hemelse heerlikheid geklee is, dat Hy die Hoof is en die eersteling uit die dode. Dit is moontlik dat Christus uit die dood kon opstaan, al is daar vandag selfs teoloë wat die waarheid daarvan bevraagteken. Die opstanding lyk vir die mens na ‘n wetenskaplik-onverklaarbare verskynsel, maar vir God is dit nie onmoontlik nie.

Ons sal ook opstaan

Lees: Kol. 3:4

Dat die mens saam met Christus sal opstaan, is moeilik om te glo. Daarom is daar twee hulpmiddels in die Skrif om dit aan die mens verstaanbaar te maak. Die eerste is dat Christus uit die dood opgewek is. As dit vir God moontlik was om Christus op te wek, sal dit vir Hom moontlik wees om ons ook op te wek, al het die sterflike liggaam reeds verrot. Die tweede rede is geleë in God se almag. Is dit vir God moontlik om  dooies op te wek? Natuurlik is dit, anders is Hy nie God nie. As mense twyfel aan die opstanding van die gelowige in die hiernamaals, laat die beeld van die opstanding van Christus jou oortuig.

Om oor na te dink: Waarom moes Christus volkome mens wees? Waarom moes Hy volkome God wees?

Die feit van die opstanding

Lees: Hand. 1:15-26

Oor verskillende Bybelse sake het gelowiges deur die eeue heen al driftig van mekaar verskil: die doop, die nagmaal, ampte, Bybelvertalings en so kan ons aangaan. Maar oor een saak bestaan daar onder ware gelowiges geen meningsverskil nie: Christus het werklik liggaamlik opgestaan.

Calvyn: Hy is opgewek om self die opstanding en die lewe te wees…dit moet vir ons ‘n vaste basis wees om ons gemoedere te onderskraag – mits die baie lang uitstel ons nie verveel of treurig maak nie (Inst. III.25.3, 66-68).

Hulle was getuies

Lees: Hand. 1:21-22

In die soeke na ‘n plaasvervanger vir Judas Iskariot as apostel, word die voorwaarde gestel dat dit iemand moes wees wat kan getuig van die opstanding van Jesus Christus saam met die ander apostels. Petrus en die ander apostels tree nie op na goeddunke nie, maar vra na die wil van God. Hulle was almal getuies gewees van die wonderwerk van die opstanding van Christus. Na die dood van Jakobus (Hand. 12:2) word daar nie weer ‘n plaasvervanger gekies nie, want die apostel-amp moes gepaard gaan met die getuienis oor die opstanding – dit moes dus ‘n ooggetuie wees. Die woord “getuie” in vers 22 het ‘n dubbele betekenis: aan die een kant die van ‘n ooggetuie. Aan die ander kant wys die woord ook op iemand wat met ywer die opstanding van Christus sal verkondig – dus ‘n ware gelowige. Die feit van die opstanding lê in die getuienis van mense. Maar dit lê natuurlik ook in die getuienis van die Heilige Gees. Almal sal dit nie glo nie, want almal kan dit nie glo nie. As die mens nie uitverkies is nie, kan hy/sy nie tot geloof kom nie en is dit voorts onmoontlik om in die opstanding te glo, al word dit deur die getuienis van die apostels bevestig.

Om oor na te dink: As Jesus Christus werklik uit die dood opgestaan het, is Hy wie die Skrif sê Hy is. Sommiges sal eerder die opstanding ontken as om daardie realiteit van die oproep tot bekering te aanvaar.

Die opstanding – ‘n wonderdaad van die Almagtige

Lees: Filip. 3:1-21

Soms het mense se verwerping van die opstanding niks te doen met die getuienis daarvoor of daarteen nie maar eerder met ons tyd se bewustelike en onbewustelike verwerping van die bonatuurlike. Baie mense is deur jare van modernistiese- en rasionalistiese denke gekondisioneer om te glo dat die bo-natuurlike nie bestaan nie en dat wonderwerke daarom nie kan plaasvind nie. Hieraan hou hulle net so vas as die “fundamentalisme” waarvan hulle Christene beskuldig. So ‘n persoon se argument sou dalk soos volg lui: Omdat wonderwerke nie kan plaasvind (ek het so besluit) is dit nie moontlik dat Jesus opgestaan het nie. ‘n Sirkelredenasie op sy beste!

Calvyn: En dit is nie iets wat so moeilik is om te glo nie as ons maar net na behore op die wonders sou let wat in alle wêreldstreke voor ons oë opdoem. Verder moet ons onthou dat niemand waarlik van sy toekomstige weeropstanding oortuig is tensy hy in bewondering daaroor meegesleur word en die heerlikheid daarvoor aan God se krag gee nie (Inst. III.25.4, 13-18).

Lees: Filip. 3:20-21

Die gelowige sal liggaamlik opstaan, maar daardie liggaam sal ‘n verheerlikte liggaam wees – vry van siekte, verganklikheid en sonde. Die vraag ontstaan: wat dan van die martelare wat deur die vuur verbrand is, wat deur leeus opgevreet is en dié gelowiges wat lank terug gesterf het en wie se liggame reeds vergaan het? ‘n Antwoord wat die kritiese denker ten volle tevrede sou stel en die verstand wat deur die sonde verduister is sou oortuig, het ons nie. Maar soos ons reeds geleer het: niks is vir die Almagtige God onmoontlik nie. Presies hoe dit sal gebeur, bly ‘n raaisel, maar ons kan in die geloof uitsien na dié dag want God het beloof dat dit sal kom.

Om oor na te dink: Wat dink u: hoe moet ons die opstanding van die liggaam op die laaste dag verstaan? Is dit letterlik of simbolies bedoel? Dink u gelowiges sal mekaar in die hemel kan herken?