Die aarde is vol sonde

Die verworpenes sluit die oë vir hulle verdorwe natuur

prof. Gerrit Smit

Lees: Jak. 1:13-17

Hoekom is die wêreld so vol sonde? Toe die Here die aarde gemaak het, was alles dan goed en mooi (Gén. 1:31)? Om te verhoed dat die mens moet dink dat die verdorwenheid uit die skepping self afkomstig is, leer God in sy Woord dat die skepping óók goed was aan die begin (Gén. 1:21). Die mens het deur sy eie sonde die rein skepping kom besoedel. Daarom hoef ons nie te wonder waar al die onreg vandaan kom nie. Dit kom uit die mens, ja, uit sy hart.

Calvyn: Ons moet liewer die oorsaak vir die verdoemenis in die bedorwe natuur van die mensdom waarneem omdat dit nader aan ons is, as om die verborge en heeltemal onbegryplike oorsaak daarvan in die predestinasie van God te soek (Inst. III.23.8,39-43).

Die mens verontskuldig homself

Lees: Jak. 1:13-18

Volgens Calvyn is dit nie alleen God se toelating dat sommige mense verlore gaan nie, maar God se wil. Die rede? Almal verdien God se straf. Wanneer die mens versoek word, is hy geneig om die skuld op iemand anders te wil laai. Die mens het dit alreeds in die Paradys gedoen. Die uiterste vorm hiervan is wanneer die mens die skuld vir sy onreg op God wil pak. God is nie die outeur van die sonde nie – die mens is (vers 14).

Sluit nie jou oë vir die onreg nie – bely dit!

Lees: Jak. 1:16-18; 1 Joh. 1:8-10

Die Skrif leer ons in 1 Johannes 1:8-10 dat daar vir ons ‘n uitkomkans is – bely die onreg! Wanneer ons ons sonde bely, is Hy getrou en regverdig is om dit te vergewe (vers 8). Jakobus leer: Moenie dwaal nie (Jak. 1:16) – sonde kom uit jou hart en as dit vertroetel word, mond dit uit in dade.

Om oor na te dink: Wie se skuld is dit as ons sonde doen? Wie behoort gestraf te word? Wat ‘n genade om te hoor: As jy jou sonde bely, is jy vergewe! Vra jouself: watter sonde het ek nog nie bely nie?