Baie druk hulle ore toe

Die Woord spreek almal nie aan nie

prof. Gerrit Smit

Lees: Eség. 33:1-11

Eségiël 33:11 word dikwels deur die teenstanders van die uitverkiesing gebruik om aan te voer dat die Bybel leer God het geen behae in die dood van die sondaar nie, maar dat hy hom bekeer en leef.

Calvyn: As ons Eség.33:11 na die hele mensdom mag uitbrei, waarom spoor Hy dan nie baie meer mense aan om hulle te bekeer terwyl hulle gemoedere baie buigsamer is om Hom te gehoorsaam as dié van hulle wat hulle al meer en meer teen sy daaglikse uitnodigings verhard nie? (Inst. III.24.15, 8-12).

Nie alle mense nie

Lees: Eség. 33:11

In Eségiël 33 word die profeet as brandwag oor die huis van Israel aangestel. God veronderstel dus dat Eségiël met die vermaning na Israel gaan wat binne God se verbond is. Vers 11 word dikwels met geweld verdraai as God se wil waaraan die profeet ons herinner, teenoor sy ewige raad gestel word waarvan hy die uitverkorenes van die verworpenes geskei het. Dit gaan in hierdie gedeelte nie oor alle mense nie, maar die mense wat reeds binne die verbond met God leef en self lou geraak het in hulle liefde vir God.

Die wat uitverkies is

Die profeet wil hierdie mense wat binne God se verbond is en hulle bekeer, die hoop op vergiffenis skenk. Dit kom dus daarop neer dat hierdie gedeelte ons wil leer dat mens nie moet twyfel dat God in staat is om die sonde te vergewe as ‘n sondaar tot bekering kom nie. Hy wil dus eerder die mens se berou as sy dood hê. Die ervaring leer egter dat die sondaars nie God se stem wil gehoorsaam nie. Dit bly onverskoonbaar as hulle wel die roepstem hoor, maar nie gehoorsaam nie. Die profeet leer die gelowiges hier dat God se genade so groot is dat Hy nie die dood van een van sy kinders begeer nie, maar dat hulle tot inkeer moet kom en lewe.

Om oor na te dink: Wat leer hierdie gedeelte in Eség. 33 ons oor ons sending- en evangelisasieopdrag?