Die Dooie Seerolle (of Qumranmanuskripte)

Die Dooie Seerolle (of Qumranmanuskripte)

Prof. Gerrit Smit

Iewers tussen 1946 en 1947 het ‘n Bedoeïne skaapwagter in die Judese woestyn, noordwes van die Dooie See, op ‘n grot afgekom waarin hy sewe antieke geskrifte in kleipotte ontdek het. Oor die volgende 10 jaar is 11 grotte ontdek wat almal manuskripte bevat het van ‘n Joodse groep wat hulle by die Dooie See gevestig het iewers tussen 100 voor Christus en 70 voor Christus. Die inhoud van hierdie grotte het bekend geword as die Dooie Seerolle. [Opdatering 10 Februarie 2017 – Argeoloë het vroeg in Februarie 2017 bekend gemaak dat hulle ‘n twaalfde grot by Qumran ontdek het. Die grot het beslis antieke perkamente en papirusse bevat. Ongelukkig was die grot leeg, maar daar is bewyse dat daar manuskripte was. Slegs een perkament is in die grot gevind, maar daar is gereedskap en ander toerusting in die grot gevind wat bewys dat daar in die moderne tyd mense in die grot was. Die perkamente is mees waarskynlik deur diewe gesteel wat antieke ware op die swart mark verkoop vir groot wins. Hierdie optrede is soortgelyk aan wat met die aanvanklike ontdekking van die Qumranmanuskipte gebeur het, toe verskeie manuskripte verdwyn het uit die grotte nadat bekend geword het dat daar ‘n vonds ontdek is. Hierdie manuskripte sal moontlik iewers in die toekoms aan ‘n museum of versamelaar aangebied word, wat hopelik die dokumente aan die lig sal bring.]

Geen argeologiese ontdekking uit die antieke tyd het soveel belangstelling en kontroversie uitgelok soos die Dooie Seerolle nie. Hierdie manuskripte is ‘n skatkis van antieke Joodse geskrifte.
Sommige grotte het meer as een kopie van dieselfde dokument bevat. Daar is in die omgewing van 800 manuskripte in hierdie grotte ontdek.

Aan wie het hierdie dokumente behoort?

Meeste geleerdes in die veld van die argeologie en die antieke tale is dit vandag eens dat hierdie “biblioteek” afkomstig was van ‘n Joodse splintergroep, wat hulself die Esseners genoem het. Daar word aanvaar dat ‘n kerngroep van die Esseners in die woestyn by die Dooie See by Qumran gewoon het. Dit was baie naby aan die plek waar die Dooie Seerolle ontdek was.

Watter dokumente is ontdek?

Geleerdes verwys na 4 soorte dokumente wat by Dooie Seerolle ingesluit is. Een derde van die manuskripte is Bybelse tekste, wat die hele Hebreeuse Bybel (Ou Testament) bevat, behalwe die boek Ester. Van die boeke Jesaja en Psalms is verskeie kopieë gevind. Omtrent een kwart van die manuskripte is geskrifte van die Jode uit hierdie tyd, soos apokriewe boeke (onder andere die Testament van Levi). ‘n Derde groep geskrifte wat by Qumran ontdek was, is dokumente wat te doen het met die standpunte, leerstellinge, gebruike en lidmaatskapvereistes van die Qumrangemeenskap. ‘n Deel van die manuskripte wat ontdek was kon nie geïdentifiseer word nie.

Uit watter tyd dateer hierdie geskrifte?

Baie van die dokumente handel oor gebeure in die geskiedenis van Israel. Daar kan afgelei word dat die Qumrangemeenskap hulle van die Palestynse Jode afgeskei het, omdat hulle leerstellige en etiese verskille met veral die priesters en leviete gehad het. Nie een van die geskrifte kan presies dateer word nie.

Geleerdes gebruik verskeie maniere om te bepaal hoe oud die dokumente is:
a) Historiese verwysings in die manuskripte
b) ‘n Wetenskaplike toets genaamd Paleografie. Paleografie is ‘n hoogs gespesialiseerde wetenskap wat veral datering van tekste doen uit die skriftipes wat in die dokumente voorkom.
c) Koolstof 14 toetse. Omdat Koolstof 14 toetse ‘n redelike hoeveelheid koolstof benodig vir die bepaling van die datum, was dit van die begin af nie baie gewild nie, omdat dele van die antieke geskrifte opgeoffer moet word om koolstof te onttrek vir die uitvoer van die toets.
d) Vandag word verskillende gesofistikeerde toetse op die manuskripte uitgevoer en rekenaars word aangewend om alle teksvariasies te kan ontleed. Sodoende word bepaal dat die tekste van die Qumrangemeenskap tussen 100 voor Christus en 70 na Christus geskryf is. Die datum waarin ‘n teks geskryf is, beteken nie dat dit die enigste tekste is wat in gebruik was nie. Die groep kon dalk al vroeër by die Dooie See gevestig het. Die gemeenskap het na alle waarskynlik ophou bestaan onder die Romeine. Presies wat gebeur het dat die gemeenskap tot niet gegaan het, kan nie vandag met sekerheid gesê word nie.

Wanneer het die Qumrangemeenskap ontstaan?

Nêrens in die Dooie Seerolle word enige datums vermeld nie, maar baie geleerdes aanvaar dat die ontstaan van die gemeenskap verbind kan word aan die veranderinge in die Joodse tempel toe die Makkabeërs die Joodse regering by die Grieke oorgeneem het (168-164 vC). Hulle het die Sadokitiese priesters vervang met priesters wat hulleself aangewys het. Hierdie optrede het die woede van baie Jode ontketen, en ‘n deel van die Jode het hulle afgeskei van die bestaande Joodse gemeenskap en hul eie gemeenskappe gevorm.

In die Qumranmanuskripte word gereeld verwys na hierdie groep se afkeur in die priesterorde van Jerusalem (waar die tempel was), en veral hulle absolute wantroue in die hoëpriester, wat hulle die leraar van Bileam noem. Een van die geskrifte (die Gemeenskapsrol – 1QS) maak melding van die gemeenskap se streng keuringsproses van nuwelinge om seker te maak dat die nuweling nie enige goedkeuring aan die Jerusalem-Jode gee nie.

‘n Ander dokument (4QMMT) wys daarop dat die Qumrangemeenskap van oordeel was dat die ander Jode die Wet van die Here oortree, en spreek hulle hoop uit dat hulle binnekort weer die tempel vir hulleself sou hê.

Wat het die Qumrangemeenskap geleer?

Ons het reeds gesien dat baie geleerdes dit eens is dat die Qumrangemeenskap Esseners was, alhoewel hierdie term nie in die manuskripte voorkom nie. Plinius, ‘n Romeinse skrywer, het geskryf dat die Esseners in die omgewing van Qumran gewoon het. Philo van Aleksandrië praat ook van ‘n soortgelyke groep, wat hy die “Therapeutai” noem. Op grond van een van die manuskripte (4QMMT) van die Qumrangemeenskap kan ons aanvaar dat hulle dalk afstammelinge van die Joodse Sadokiete was, want hulle noem hulleself “die seuns van Sadok”. Die Sadokiete (ook bekend as die Sadduseërs) meen dat hulle die werklike priesters in die tyd van Salomo was. Die Sadokiete het die Hasmonese oorname van die priesterskap ernstig bevraagteken, en het gemeen dat hulle die ou orde soos dit moet wees verteenwoordig het.

Was Jesus ‘n Essener?

Daar word vandag baie deur geleerdes gekonsentreer op (en gespekuleer oor) die vraag of Jesus dalk uit die Esseners afkomstig was, en of die Esseners ‘n invloed gehad het op die Nuwe Testamentiese gemeentes.
Sonder om op te veel detail in te gaan kan ons kortliks ‘n paar opmerkings hieroor maak.
1) Dit is interessant dat daar sekere ooreenkomste tussen die Christene se leer en dié van die Qumrangemeenskap is, soos dat albei glo in die koms van God se Koninkryk en die oordeel van God. Dit is ook interessant dat die Qumrangemeenskap ook mense gedoop het, en dat hulle ook ‘n nagmaal gehad het.
2) Die Qumrangemeenskap het hulleself die “kinders van die lig” genoem, ‘n titel wat Paulus aan die Christene toeken.
3) Maar die Qumrangemeenskap het al bestaan nog voor Jesus op aarde opgetree het. Hulle was ook al aan die verdwyn in die tyd van die eerste Christelike gemeentes.
4) Die Qumrangemeenskap het geglo dat hulle hulle van die wêreld moes afskei, en op hulle eie woon. Jesus het gesê ons moet ‘n lig vir die wêreld wees (Matteus 5).
5) Die Qumrangemeenskap het geglo dat allerhande rituele die mens se geloof versterk. Jesus het gesê dat ons nie so vasgevang moet word in die rituele dat ons God uit die sentrum van ons geloof neem nie.

Bewerings dat Jesus ‘n Essener was, is maar bloot spekulatief en kan nie aanvaar word nie.

Waarin het die Qumransekte geglo?

Die Qumrangemeenskap het geglo dat hulle die enigste oorblyfsel van Israel was, wat getrou gebly het aan die verbond van God met die volk.
Hulle het verder geglo dat die leier van die gemeenskap die Leraar van geregtigheid was, wat hulle die “regte interpretasie van die Wet geleer het”.
Hulle het geglo dat alle aspekte van die mens se lewe aan God gewy moet wees. Die Qumrangemeenskap het verder geglo dat net hulle eie lede deur God uitverkies was. Anders as die ander Jode wat as Joodse gelowiges gebore was, het hulle geglo dat die mens ‘n keuse moet maak of jy deel van hulle godsdiens wil wees. En as jy die keuse gemaak het, moes jy getrou bly aan hierdie keuse tot die dood toe.

Niemand was verplig om deel te hê aan hierdie groep nie, en elkeen wat wou deel wees moes belydenis doen van hulle sonde, en opgelei word in die verstaan van die Wet. Hulle het ook swaar strawwe gehad vir mense wat deel geword het van die groep en dan later afvallig geraak het.
Laaste opmerkings

Daar word vandag deur geleerdes gespekuleer dat daar moontlik nog grotte kan wees in die omgewing van die Dooie See wat soortgelyke manuskripte as dié van die Qumranrolle bevat. Net die tyd sal leer of hierdie teorie korrek is. [Opdatering 10 Februarie 2017 – Daar is in Februarie 2017 ‘n twaalfde grot van Qumran deur argeoloë ontdek].

Ten slotte

Alhoewel daar algemeen aanvaar word dat die Rolle wat in die 11 [Opdatering: 12] grotte by Qumran ontdek is aan dié Joodse sekte behoort, is daar vandag geleerdes wat meen dat dit dalk ‘n biblioteek kon wees wat verskillende groepe se dokumente kon huisves, of dalk die biblioteek van Jerusalem. Miskien kom die manuskripte vanoor die hele Palestina in ‘n poging om dit te versteek van die verwoestende Romeine?