Die Teologie van die Koninkryk van God in Hebreërs
Die Teologie van die Koninkryk van God in Hebreërs
Prof. Gerrit Smit
Daar word nêrens in die brief verwys na die koninkryk nie, maar Christus word bely as Here en Heerser oor alle geskape dinge. Die Brief verwys egter na die “huis van Christus”. God het vir Hom ‘n volk uitgekies, apart van die ander mense. Hierdie Godsvolk is op weg na die toekoms. Dit is ‘n onderweg-wees deur die woestyn na die weerkoms van Christus. Die besieling moet deur die volk geput word uit die vooruitsig van ‘n toekomstige wêreld, die gelowige se erfenis, sy beloofde Vaderland. Dis ‘n onwankelbare koninkryk, ‘n hemelse Jerusalem. Hierdie hemelse koninkryk is reeds gevestig, maar die mense op aarde kry ten volle deel daaraan met die wederkoms van Christus. Dit word ook genoem die Sabbatsrus vir die volk van God. Dit sal aanbreek met die eindgebeure. Aan hierdie hoop moet vasgehou word want hierdie hoop is gebou op Christus en sy heilswerk. Daar is ook ‘n individuele eindverwagting vir elke gelowige. Die vervulling van die beloftes oor die lewe hierna word beklemtoon. Die hoop en die verwagting moet nie soseer vorentoe laat kyk nie as wel boontoe laat kyk.
Daar word groot klem gelê op die teenswoordige as die tyd van voorbereiding. Die antwoord op die roepstem, die ingaan in die rus nou reeds, toegang tot die troon van God, nou al naderkom aan God, dis die werklikheid. Christus se lyding en oorwinning moet dien as besieling.
Vernuwing moet tot stand kom, en ons moet op sy beloftes van hulp en bystand vertrou. Laat ons met vrymoedigheid na die troon van genade gaan om gehelp te word. Die tabernakel is simbool van die verbygaande aard van dinge. Christus is nou in ‘n tabernakel wat nie met hande gemaak is nie. Hy is Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek en sy offerande was ‘n besonderse een deurdat Hy Homself geoffer het. Hierdie offerande hoef nooit weer herhaal te word nie. Dit gaan in hierdie simbole om handelinge en optredes wat in die teenswoordige plaasvind met die oog op die toekomstige. Christus is dus nou die Verlosser met die oog op die lewe in die ewigheid.
Geloof is die weg waarlangs God se gawes in die mens ingestort word. Geloof vorm die kragverbinding, die in staat stel om te oorwin en te volhard, nie net vir hierdie lewe nie, maar om verder as die sigbare te kyk en te volhard sodat ook die onsigbare in besit gekry kan word. Geloof vorm die grondslag van ons sekerheid oor die dinge wat ons hoop, ‘n oortuiging van die dinge wat ons nie sien nie. Daarom moet geglo word aan die werklikheid van God. Christus is dus die begin en die einde. Hy wek geloof en Hy bewerk die einddoel daarvan. Ons is op weg en Christus is met ons van begin tot einde.