Begrafnisse in die gereformeerde tradisie

Ons moet versigtig wees wanneer ons begrafnisse reël, dat die geleentheid nie oor die persoon wat dood is gaan, eerder as die troos vir die wat agterbly nie. As jy al by ‘n begrafnis was, sou jy seker al beleef het dat party mense aandring dat die kis voor die kansel moet staan, hoe die lewensverhaal van die afgestorwene vertel word, verskillende sprekers aan die woord is wat ‘n afskeidsboodskap bring, soms is daar foto’s wat vertoon word en ‘n “gunsteling liedjie” wat gespeel word, party mense wil by die graf helium-ballonne met briefies loslaat, of wit duiwe of honderde skoenlappers vrylaat, in die kis die oorledene se “gunsteling-dinge” sit, soos sy/haar selfoon, sigarette, ‘n bottel brandewyn, ‘n visstok, of ‘n PlayStation. Gaste word versoek om nie swart aan te trek nie, maar eerder vrolike kleure en sandale, sondrag of kortbroeke. Na die tyd word ‘n piekniek in die park ter viering van die lewe van die afgestorwene beplan.

Van hierdie idees is nader aan hoe Hollywood begrafnis hou as aan die manier hoe die kerk deur die eeue oor die dood en begrafnisse gedink het.  Natuurlik behoort ‘n begrafnis nie somber en sonder hoop te wees nie. Die Bybel leer ons op verskeie plekke, soos in 1 Korinthiërs 15,  dat die dood maar net ‘n poort is na die lewe, en dat ons as Christene juis by die graf kan juig omdat Christus lewe en ons met Hom sal lewe.

Ons verstaan ook dat mense op ‘n persoonlike manier wil sê: ons het hom/haar liefgehad, en ons gaan hom/haar mis. ‘n Mens verstaan die seer. Tog moet ons ook in ons oomblikke van hartseer vra: wat leer die Skrif ons oor die dood, en wat help om ons te troos? Die Bybel leer ons dat die dood nie ‘n Hollywood-einde is met ballonne wat hemel toe vlieg en ‘n laaste boodskap uit die graf nie, maar die loon van die sonde en ons groot vyand, wat Christus oorwin het. Daarom hoef ‘n begrafnis nie die laaste partytjie te wees waar ons ‘n groot vertoning opsit nie, maar ‘n geleentheid waar die Woord oopgemaak word, waar ons sing van God se trou, waar ons bid vir die gebrokenes en die liggaam met hoop op die opstanding aan die aarde toevertrou. ‘n Skriftuurlike begrafnis hoef nie koud of hard te wees nie, maar ons moet in besonder waak dat die familie en vriende nie met bygeloof huis toe gaan nie, maar met die troos dat hulle aan Christus behoort, in lewe en in sterwe, soos Heidelbergse Kategismus Sondag 1 ons so treffend leer.

Die manier hoe gereformeerde kerke begrafnisse hanteer, kom al vir eeue en word veral sedert die Sinode van Dordrecht vanaf 1619 so gedoen. In 1618-1619 het predikante en ouderlinge van reg oor Europa in Dordrecht in Nederland bymekaargekom. Hulle doel was om orde te bring na jare se twis tussen gereformeerdes onderling en stryd teen die Roomse kerk wat die Reformasie wou teenwerk met die kontra-reformasie en vervolging van gereformeedes. En interressant genoeg, was een van die sake waaroor hulle by hierdie Sinode gepraat het, hoe ‘n Christelike begrafnis moet lyk.

Die oorspronklike teks van Artikel 65 van die Dordtse Kerkorde lui so in oud-Nederlands:

Daer de Lijck-Predicatien niet en zijn salmense niet instellen : Eñ daerse nu alreede zijn aen ghenomen sal neersticheydt gedaen werden om de selve met de ghevoeghlijcxste middelen af te doen.

In gewone Afrikaans kan ons die bostaande so verduidelik: Ons moenie vir die lyke preek nie, en waar die gebruik om vir die lyke te preek, reeds posgevat het, moet ons ons bes doen om dit af te skaf. 

‘n Begrafnis word op versoek van die familie gereël en word nie as ‘n erediens hanteer nie. Dit word as ‘n familie-geleentheid beskou waaroor die ouderlinge slegs toesig het so ver as wat die Woord verkondig word, dat dit suiwer gedoen word. Die kerkraad leen hulle gebou en fasiliteite vir die geleentheid aan die familie en het dus slegs beheer oor die mate waartoe die gemeente se eiendom benut word, sodat die gemeente nie skade ly deur die gebruik daarvan nie.

Maar die beginsel van ‘n Christelike begrafnis bly egter, soos in alles wat ons doen, dat God geëer moet word, dat die Woord sentraal moet wees en dat ons Christelike hoop ons troos moet wees.

Daar is ‘n belangrike rede waarom gereformeerde kerke so oor ‘n begrafnis dink.  In die Rooms-Katolieke kringe van daardie tyd was ‘n begrafnis gehou deur eers ‘n mis (nagmaal) vir die siel van die oorledene by te woon. Daar is letterlik vir die dooie gebid, wierook is gebrand, en die oorledene is in die middelpunt van die erediens geplaas. Die boodskap van die Roomse kerk was dat ons deur ons gebede nog iets vir die dooie kan doen om vinniger uit die vagevuur te kom.

Die Reformasie het hier ‘n streep getrek en die volgende standpunte ingeneem:

  • Christus alleen. Ons kan nie vir dooies bid of boodskappe laat wat hulle vir oulaas kan hoor nie. Hulle is veilig by Christus of hulle is weens hul verwerping van Christus, nie by Hom nie.
  • Die wat agterbly moet die Evangelie hoor. Prediker 7:2 sê dit is beter om na ‘n klaaghuis te gaan as na ‘n fees, want die lewendes moet dit ter harte neem. ‘n Begrafnisdiens is dus bedoel vir die wat agterbly en nie vir die een wat gesterf het nie.
  • Moenie mense verheerlik nie. As die hele diens gaan oor hoe wonderlik die oom of tannie was, waar pas Christus in? Die gevaar is dat die oorledene aanbid word, nie God nie.

Hoe moet ‘n Christelike begrafnisdiens in praktyk lyk?

Hoewel ‘n begrafnisdiens nie ‘n erediens is nie, behoort die middelpunt daarvan die verkondiging van die Woord te wees. Die hoofdoel is om die treurendes te troos. Ons enigste troos in lewe en sterwe is dat ons aan Christus behoort.

Die vraag by die graf mag nie wees: was hy/sy goed genoeg vir die hemel nie, maar het hy/sy aan Christus behoort?

‘n Begrafnisdiens is verder bedoel om die lewendes te waarsku. Elke oop graf is vir my en jou ‘n sigbare preek. Ons is almal bestem om te sterwe en die graf herinner jou dat jy nog in genadetyd leef.

Christene treur ook by die graf, maar ons treur nie soos mense sonder hoop nie (1 Thess. 4:13). Ons kan die afgestorwene eerbiedwaardig behandel, sonder om die dood in die middelpunt te plaas. Ons kom juis by die begrafnisdiens bymekaar om te hoor dat Christus die dood oorwin het, ook ter wille van die geliefde wat gesterf het.


Discover more from Tuis by gdssmit.com

Subscribe to get the latest posts sent to your email.