Ons moet versigtig wees wanneer ons begrafnisse reël, dat die geleentheid nie oor die persoon wat dood is gaan, eerder as die troos vir die wat agterbly nie. As jy al by ‘n begrafnis was, sou jy seker al beleef het dat party mense aandring dat die kis voor die kansel moet staan, hoe die lewensverhaal van die afgestorwene vertel word, verskillende sprekers aan die woord is wat ‘n afskeidsboodskap bring, soms is daar foto’s wat vertoon word en ‘n “gunsteling liedjie” wat gespeel word, party mense wil by die graf helium-ballonne met briefies loslaat, of wit duiwe of honderde skoenlappers vrylaat, in die kis die oorledene se “gunsteling-dinge” sit, soos sy/haar selfoon, sigarette, ‘n bottel brandewyn, ‘n visstok, of ‘n PlayStation. Gaste word versoek om nie swart aan te trek nie, maar eerder vrolike kleure en sandale, sondrag of kortbroeke. Na die tyd word ‘n piekniek in die park ter viering van die lewe van die afgestorwene beplan. Continue reading
Etiek
Die vere maak die voël – waarom dra ons klere?
Jy trek soggens aan sonder om daaroor te dink. Tog sê jou klere reeds iets oor jou voor jy ’n woord kan praat.
Klere is nie maar net materiaal nie, daar is ‘n teologie in wat jy aantrek.
Naas kos, behoort klere tot die mees basiese menslike behoeftes. Dit beskerm die liggaam, dit bied privaatheid, en dit vorm deel van elke kultuur se sosiale uitdrukking.
In die Bybel word klere egter ook gekoppel aan identiteit, aan roeping, aan eer en soms selfs aan die geestelike toestand van ’n individu of ’n groep. Ons is nie maar net biologiese wesens wat uit koolstof, suurstof en waterstof bestaan nie. Wanneer die mens voor God verskyn, doen ons dit as iemand wat sy rol en plek in God se skeppingsorde op ‘n sigbare manier uitdruk, ook in wat jy aantrek.
In hierdie artikel, bespreek ek die belangrikste Bybelse voorbeelde van klere en toon aan hoe klere ’n teologiese boodskap dra. Dit herinner ons dat selfs eenvoudige uiterlike dinge ’n etiese en geestelike betekenis het wanneer dit onder God se heerskappy staan.
Die bronne van armoede: ’n teologiese perspektief
Armoede is so oud soos die mensdom self, maar dit bly ’n brandpunt in elke tyd en samelewing. Jesus het gesê ons sal die armes altyd by ons hê (Matt. 26:11). Ten spyte hiervan, het elke tyd en elke geslag ‘n verantwoordelikheid om dié wat minderbevoorreg is, te help. Dit is in besonder die roeping van die kerk, wat die barmhartigheid wat Christus aan ons bewys het, ook aan ander moet wys.
Armoede is ‘n groot ekonomiese probleem, en ongelukkig is dit waar baie ekonome en politici vashaak wanneer hulle oor armoede dink en praat. Luister ons na die Bybel, sien ons armoede is ook ’n morele en geestelike krisis wat die hele gemeenskap raak. Elke geslag probeer om armoede te verstaan en te verlig, maar sonder ’n teologiese raamwerk bly die begrip daarvan oppervlakkig en die oplossings tydelik. Die Bybel kyk nie na armoede as bloot ’n sosiale verskynsel nie, maar as iets wat die verhouding tussen God, die mens en sy naaste weerspieël.
Daar is verskillende oorsake van armoede: sommige lê in politieke- en strukturele onreg, ander in persoonlike gebrokenheid en swak keuses. Suid-Afrika het die hoogste werkloosheidsyfer in die wêreld van 42%, waarvan ‘n skokkende 62.2% van die jeug sonder werk is volgens “World of Statistics”. Die land se werkloosheidsyfer word dikwels deur opportuniste as ‘n politieke speelbal gebruik.
Tog moet ons nie vaskyk in die statistieke, sonder om die oorsake te ondersoek en aan te spreek nie. Soos in die tyd van die Bybel en deur al die eeue heen, moet ons ook kategorieë van armoede daarstel om te bepaal wat die omvang van die probleem is. Sommige mense kan nie werk nie, ander wil werk nie, en nog ander het die wil en die vermoë, maar kry nie die geleentheid nie, soms ook weens regstellende aksie. Daar is dié wat werk, maar steeds nie genoeg het nie, en daar is ook dié wat oorvloed het en daarom ’n besondere verantwoordelikheid dra.
Orgaanskenking?
Augustusmaand is orgaanskenkingmaand. Vrae oor die Bybelse standpunt oor die onderwerp word gereeld gevra.
Lees gerus hierdie artikel waarin ek die vraag vanuit ‘n Bybelse oogpunt probeer beantwoord.
Besoek https://odf.org.za/ indien jy meer wil weet van orgaanskenking.
Die wêreld het meer sulke pa’s nodig!
Sondag is Vadersdag! Ons moet natuurlik elke dag vaders se rol in die samelewing en in ons gesinne waardeer en koester, nie net op dié spesifieke dag nie, maar vadersdag bied ’n unieke geleentheid om te fokus op hoe belangrik pa’s se rol in gesonde gesinne is. Dit skep ’n geleentheid om dankbaarheid te wys aan elke vader wat dié belangrike rol ernstig opneem.
Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (4): Macrina
In die geskiedenis van die kerk word belangrike persone soos predikante, teoloë en martelare wat geskryf, gepreek en geleef het om die waarheid te verdedig, gewoonlik onthou. Maar soms is die grootste invloed in hierdie mense se lewens nie diegene wat op ‘n kansel staan nie, maar dié wat agter hulle staan en hulle bemoedig wanneer hulle self ontmoedig word. Dit is dikwels ook vroue wat deur hul lewe, wysheid en geloof volgende geslagte beïnvloed het. Macrina, suster van Basilius die Grote en Gregorius van Nyssa, is só ’n figuur.
Die gebruik van die woord ‘natuur’ in Romeine 1
Die afgelope paar jaar is daar veral van die kant van die Skrifkritiek (en hulle invloed op die kerk) toenemend gesprekke oor die gender-vraagstuk. Die Bybel beskou geslagtelikheid egter slegs as “manlik” en “vroulik”. Die mens word na God se beeld geskape. Dit beteken nie dat God ‘n geslag het nie, maar dat die menslike bestaan in hierdie twee vorme die beeld van God reflekteer in ’n komplementêre verhouding. In Genesis 2 word verder uitgebrei: Eva word uit Adam geskep as sy “helper wat by hom pas” (Genesis 2:18). Hierdie skeppingsorde impliseer ’n doelbewuste en aanvullende verhouding tussen die geslagte.
Die Bybel erken en bevestig die liggaamlike verskille tussen man en vrou as deur God ontwerp (vgl. Levitikus 18 en 20), naamlik bv. moederskap en vaderskap word as deel van God se skepping gesien en hou verband met geslagsverskille. Die verskillende rolle in die huwelik en gesin is juis gebaseer op hierdie verskille (Efesiërs 5:22–33).
Ten spyte van sommige teoloë se argument dat homoseksualiteit ‘n vraagstuk was in die Ou Testament of ten minste in die Grieks-Romeinse kultuur verband gehou het met die wyse waarop die heidene hulle godsdiens gevier het, het Jesus Christus self bevestig dat daar ‘n godgegewe skeppingsorde is: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie…” (Mattheus 19:4)?
In hierdie artikel fokus ek op een van die tekste wat onder skoot is te midde van die gesprek oor geslagtelikheid, naamlik Romeine 1.
Paulus se gebruik van natuur in Romeine 1 funksioneer op drie vlakke:
- Openbaringsvlak – Die natuur openbaar God aan almal.
- Normatiewe vlak – Die natuur stel ‘n standaard vir menslike gedrag.
- Oordeel– Die verwerping van die natuur soos God dit geskape het bring die oordeel van God.
