Moet Jesus se Naam vertaal word as Josua?
deur prof. Gerrit Smit
In sommige kringe het daar ’n hernieude aandrang ontstaan om die Naam van Jesus as “Josua” weer te gee in vertalings, veral met ’n beroep op die Hebreeuse vorm יְהוֹשֻׁעַ (Yehoshua). Hierdie benadering word dikwels aangebied as ’n herstel van sogenaamde “oorspronklike” Bybelse akkuraatheid. Tog berus hierdie argumentasie dikwels op ’n gebrekkige verstaan van taalontwikkeling, transliterasie, en, meer fundamenteel, van die teologiese aard van die Nuwe-Testamentiese openbaring self.
Die Nuwe-Testamentiese getuienis weerspreek reeds die simplistiese onderskeid tussen “Josua” in die Ou Testament en “Jesus” in die Nuwe Testament. Die Griekse teks gebruik immers dieselfde naamvorm, Ἰησοῦς, vir beide figure. Hebreërs 4:8 is hier ’n klassieke voorbeeld: “εἰ γὰρ αὐτοὺς Ἰησοῦς κατέπαυσεν…”. In die King James Version en die 1953 Afrikaanse vertaling word dit tereg as “Josua” weergegee, nie omdat die Griekse teks ’n ander woord gebruik nie, maar omdat die konteks dit vereis. Die teks self maak dus geen formele onderskeid tussen “Josua” en “Jesus” nie. Dit was eenvoudig ’n algemene Joodse naam, soos Jochanan wat in Grieks Johannes geword het.
Die poging om die Naam van Christus in vertalings te dwing na “Josua” berus verder op ’n verwarring tussen transliterasie en oorspronklike vorm. Die naam “Jesus” is nie ’n suiwer Griekse skepping nie, maar ’n transliterasie wat deur beide die Grieks en later die Latyn gevorm is. Die bekende -us uitgang is nie tipies Grieks nie, maar weerspieël Latynse invloed, soos gesien in talle Nuwe-Testamentiese name. Hierdie verskynsel is nie uniek aan Jesus nie. Die Nuwe Testament getuig konsekwent van gelatiniseerde of vergriekste vorme van Semitiese name, soos Barabbas, Petrus, Nikodemus, Silvanus, Paulus, Barnabas, Sebedeus, Markus en Mattheus. Om dus net by Jesus ’n “herstel” te vereis, is inkonsekwent en selektief.
Die kern van die saak lê egter nie in fonetiek of spelling nie, maar in betekenis. Die naam Ἰησοῦς dra dieselfde teologiese inhoud as die Hebreeuse vorm, naamlik “Die HERE red”. Die evangelie rus nie op die presiese klankwaarde van die Naam nie, maar op die Persoon en werk wat daardeur aangedui word. Om die Naam te reduseer tot ’n debat oor lettergrepe of uitspraak, is om die fokus te verskuif van openbaring na filologie.
Daarby moet in gedagte gehou word dat die vroeë kerk, wat self Grieks as omgangstaal gebruik het, sonder gewetensbeswaar die vorm Ἰησοῦς gebruik het. Hierdie gebruik om na Jesus te verwys en nie Josua nie, het deel van die geïnspireerde teks self geword. As die Heilige Gees die Naam in hierdie vorm laat opteken het, is dit teologies problematies om te beweer dat ’n ander vorm meer “reg” of “heilig” sou wees.
Die moderne debat oor “Josua” teenoor “Jesus” openbaar dus nie net ’n linguïstiese misverstand nie, maar ook ’n teologiese verskuiwing. Dit skuif die klem van die inhoud van die openbaring na die vorm daarvan. Die Skrif self doen die teenoorgestelde. Die Naam is belangrik, maar dit is belangrik omdat dit die wese van God se reddende handeling openbaar, nie omdat dit ’n spesifieke klankvorm behou of in ‘n spesifieke taal vasgelê is nie. In daardie sin geld ’n eenvoudige beginsel: die krag van die Naam van Jesus Christus lê nie in sy spelling nie, maar in die inhoud wat Christus daardeur verkondig.
