Hoe om koelkop te bly tydens COVID-19 inperking

Teen hierdie tyd is almal in rep-en-roer nadat die regering ‘n algehele grendelstatus (“lockdown”) afgekondig wat afskop om middernag op 26 Maart 2020 en eindig om middernag 16 April 2020 (vir nou in elk geval).  Behalwe vir die risiko van die virus, is daar ook die risiko van moontlike sosiale onrus wat kan ontwikkel in die volgende 21 dae en daarom is dit nodig dat ons kalm bly en nugter dink.

Ons is in die laaste ure voor die inperking begin en baie mense wonder hoe om weke van afsondering te hanteer en waarmee om besig te bly? Volgens kenners is roetine die beste manier om isolasie te hanteer. Hou by ‘n daaglikse roetine: staan dieselfde tyd op, maak jou bed op, hou jou huis skoon, was die skottelgoed, sit nog steeds jou grimering aan al gaan jy nie uit vir kos of mediese redes nie. Moenie in jou nagklere rondloop die hele dag nie. Stel vir jouself doelwitte en hou sover moontlik daarby. Lees ‘n boek, verf jou kamer, speel speletjies.

Baie van ons werk vir die eerste keer van die huis af en dit help baie as jy by kantoorure bly en jou werk in daardie tyd afhandel.

Isolasie kan mense geestelik beïnvloed en baie mense kan dit nie hanteer nie. Daarom verloor baie mense tydens isolasie hulle sin vir werklikheid en tree selfs irrasioneel op. Hou kop, bly kalm, hou by ‘n roetine. Gebruik die tyd om jou te verdiep in die Bybel en bid dat die Here vir ons uitkoms gee. Jy sal dit oorleef deur die krag van die Gees. Daar is talle voorbeelde in die kerkgeskiedenis van Christene wat kristye omskep het in geleenthede tot eer van God.

Wanneer natuurrampe en virusse ons tref!

Die laaste paar weke is COVID-19 byna die enigste nuus wat mens hoor en sien. Dit verdwerg selfs fase 4 beurtkrag wat vandeesweek ingestel is, so al asof die beurtkrag ons net so terloops verontrief. En hoewel ons maar lig moet loop vir hierdie gogga, bring dit ‘n belangrike saak onder ons aandag: wat antwoord Christene wanneer natuurrampe en virusse ons tref?

Die afgelope jare het verskriklike natuurrampe die wêreld getref:

  • ‘n Groot Tsunami in Asië in 2004
  • Katrina in 2005
  • Sikloon Myanmar in 2008
  • Die aardbewing in Haiti in 2010
  • Tsunami in Sri Lanka en Indië in 2011
  • Geweldige brande in Australië in 2019
  • COVID-19 in 2020

Wanneer natuurrampe ons tref, vra mense gewoonlik vrae: waarom het dit gebeur? Wat kan ek doen? Het God dit veroorsaak? Waarom laat Hy dit dan toe?

God het al in die geskiedenis rampe oor die mensdom gebring: die vloed oor die aarde in Gén. 6; die verwoesting van Sodom en Gomorra (Gén. 18-19); droogtes, plae en peste en ‘n groot aardbewing in die tyd van Amos (Amos 4:6-12). Sommige rampe word deur die mens veroorsaak (Chernobyl, Bhopal, veldbrande). Rampe tref egter ook onskuldiges. Kyk bv. na Job 1:8-22; 2 Kor. 11:23-27.

Dus kan ons sê dat hoewel God natuurrampe en siektes kan gebruik om mense te straf, of om te roep tot bekering, dat God ook hierdie dinge toelaat. Die skepping is nie volmaak nie. As gevolg van die sonde is daar baie onreg en lyding en siekte op aarde. Die Here Jesus leer ons in Matteus 6:19-21 dat ons nie so geheg moet raak aan hierdie wêreld en al sy lekker dinge dat ons skatte bymekaar maak op aarde, wat verniel kan word en waar diewe kan inbreek en dit steel nie, maar dat ons skatte bymekaar moet maak in die hemel, omdat ‘n mens geneig is om jou hart te hou waar jou skatte is.

COVID-19 help ons om nie die wêreld te aantreklik te vind nie, en ons te herinner dat daar iets beter is, omdat hierdie wêreld nie ons woning is nie (Heb. 13:14 – Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.)

Baie mense van ons tyd dink dat hulle sonder God kan klaarkom. God laat dikwels hierdie soort rampe toe, om ons te verplig om na te dink oor die waarde van die lewe, hoe swak en verganklik ons is en dat ons nie tot alles in staat is deur ons eie krag nie, maar God wel nodig het.

Laat ons egter elke geleentheid aangryp om aan mekaar goed te doen – hierdie soort rampe gee ons die geleentheid om nie alleen aan onsself te laat dink nie, maar ook aan ons medemens. Laat ons bid en op God vertrou dat Hy alles ten goede laat meewerk op grond van sy liefde vir sy kinders. En laat ons die geleentheid benut om na te dink hoe nietig die mens is en hoe dikwels hierdie wêreld ons verlei om skatte hier op aarde bymekaar te maak. Die ou mense het nie verniet gesê: die doodskleed het nie sakke nie. 

Die kerk en die regstelsel: verset teen polities-korrektheid.

Adv. Nadene Badenhorst van Freedom of Religion SA was ‘n gasspreker by die APA se teologiese dag op 27 Januarie 2020. Die tema vir die dag was: Mag die kerk in verset kom? Ek het reeds vroeër my tema, naamlik Bybelse modelle van verset geplaas, waarby adv. Badenhorst se tema aangesluit het. Adv. Badenhorst het gefokus op die bediening en verset teen polities-korrektheid. Hieronder volg haar interessante aanbieding.

 

Die dood van liberale multikulturalisme

Steve Turley in studio.pngDr. Steve Turley, Amerikaanse konserwatiewe kommentator en professor aan Eastern University, Pennsylvania het gister in sy nuutste video kommentaar gelewer oor die grondonteiening sonder vergoeding fiasko in Suid-Afrika wat elkeen gerus kan kyk.

Die ironie van die hele debakel volgens Turley is dat president Donald Trump deur die liberales afgemaak word as ‘n leuenaar omdat hy gevra het dat daar ondersoek gedoen moet word oor die situasie in Suid-Afrika rondom onteiening van grond en die moord op blanke boere, maar dat die liberales self erken dat onteiening sonder vergoeding toegepas moet word. Hieroor word Trump geroskam dat hy “wit meerderwaardigheid” verkondig.

Volgens Turley sou die redenasie van die liberale media daarop neerkom dat Trump ‘n rassis is omdat hy teen rassisme is?! Dit teken vir Turley die dood van liberale multikulturalisme omdat hulle opgehou het om liberaal (vry) te wees en omdat hulle liberale wêreldbeskouing reeds gesterf het. Hulle het dit self doodgemaak! Tans kom liberales se retoriek presies neer op dit waarvan hulle die konserwatiewes beskuldig: dat hulle vryheid van spraak vernietig en aanvoer dit is noodsaaklik om demokrasie te beskerm.

Turley se kommentaar lewer ‘n perspektief op die Suid-Afrikaanse Orwellianisme wat vernietig met die verskoning dat dit bou.

Lees gerus weer George Orwell se “Animal Farm” as jy dit op skool laas gelees het, en as jy nog nie het nie, waar was jy al die tyd? Jy kan die boek hier kry by Amazon of die DVD by Takealot. Laat jou kinders dit lees of skenk dit as sinvolle verjaarsdaggeskenke. Het ons al vergeet van die bekende waarskuwing van Orwell van wat gebeur as sosialisme oorneem: All animals are equal, but some are more equal than others?

Kyk gerus Turley se kommentaar hier: https://youtu.be/zrJByfuPcZQ

‘n Naam is meer werd as rykdom

Die nuusblaaie en radioberigte gons vandag oor die nuutste “data-lek” in Suid-Afrika. Gister was daar ‘n massiewe kuberlek (“data leak”) van oor die 30-miljoen Suid-Afrikaners se persoonlike inligting, soos ID nommers, bankbesonderhede, werksinligting, maandelikse inkomste en ander persoonlike gegewens wat deur ‘n maatskappy se nalatigheid en swak sekuriteit veroorsaak is. Continue reading

Sout van die aarde op onverwagse plekke

Na die uitspraak van die hooggeregshof oor godsdiens in skole gister, is ons land nog een stappie verder van die Bybel en een stappie nader aan die suiwer sekulêre  samelewing wat graag gekoester word in ons land.

Terwyl donker Afrika se lig dowwer brand, is daar ‘n stad wat bo op ‘n berg lê wie se lig skyn op plekke waar mens dit die minste sou verwag.

Continue reading

Christene vandag wéér in die beskuldigde bank

Voor ons Here Jesus se kruisiging was Hy in die beskuldigde bank voor die geestelike leiers van die tyd (die hoëpriester), en later voor die staat (Pilatus). Die uiteinde was dat Hy onskuldig skuldig gemaak is. En in sy voetspore volg sy dissipels die afgelope 2000 jaar. Continue reading

Ons gee ons oor aan die nostalgie tot daar niks oor is nie

Die bekende Afrikaanse sangeres, Laurika Rauch, sing ‘n lied waarin sy dink aan die vervloë dae toe mense mekaar nog met ‘n tiekie kon bel, en nou is die kinders groot en die vriende dood, en ons gee ons oor aan die nostalgie.

Die probleem met die “nostalgiese denke” is dat dit maklik kan ontwikkel in ‘n leef in die verlede mentaliteit wat niks te doen het met ‘n waardering vir die besondere lesse uit die geskiedenis of die mooi dinge van die verlede nie, maar ‘n poging kan wees om tyd te laat stilstaan, sodat jy nie die werklikheid in die gesig hoef te kyk of die verandering rondom jou hoef te verwerk nie. Continue reading

Pastoor in moeilikheid oor uitspraak teen gays

Die naweek was sosiale media aan die gons oor Steven Anderson van die VSA wat Suid-Afrika wil besoek oor twee weke. Volgens die beswaardes het hy ‘n omstrede siening oor gays. “Die Bybel praat nie van gays nie, maar van Sodomiete” is sy standpunt. Hieroor was daar sprake dat die Suid-Afrikaanse regering poog om sy visum terug te trek om hom te verhoed om die land te besoek. Intussen het die regering ontken dat hulle so iets beplan. (opdatering: op 13/09 het die departement van Binnelandse Sake aangekondig dat Anderson wel belet gaan word om die land binne te kom). Continue reading