‘n Naam is meer werd as rykdom

Die nuusblaaie en radioberigte gons vandag oor die nuutste “data-lek” in Suid-Afrika. Gister was daar ‘n massiewe kuberlek (“data leak”) van oor die 30-miljoen Suid-Afrikaners se persoonlike inligting, soos ID nommers, bankbesonderhede, werksinligting, maandelikse inkomste en ander persoonlike gegewens wat deur ‘n maatskappy se nalatigheid en swak sekuriteit veroorsaak is.Die voorval word beskryf as die “grootste data-lekkasie in die geskiedenis van Suid-Afrika“. Vanoggend het aan die lig gekom dat selfs die president, sekere ministers en hooggeplaaste politieke figure se persoonlike inligting deur die voorval bekend gemaak is.

Hierdie voorval, hoewel baie onrusbarend, is nie uniek nie. Elke nou-en-dan hoor mens van voorvalle waar mense se persoonlike inligting op die internet bekend gemaak word. In sommige gevalle word mense selfs by skandale betrek omdat hulle optrede op die internet nie gesond was nie.

Dié laaste voorval herinner ons dat ons as Christene nie net verantwoordelik moet optree as ons in die openbaar beweeg nie, maar ook wanneer ons die internet en sosiale media gebruik.

‘n Mens se naam is nie net ‘n aanspreekvorm of ‘n bordjie om jou nek of ‘n geskryf langs ‘n foto in jou paspoort of ID nie. Daar is meer in ‘n naam. Jou naam is wie jy is, jou wese, jou persoonlikheid. Jy kan probeer om jou verlede uit te vee, maar jou naam gaan saam met jou waar jy ookal gaan. Dit is waarom God sy Naam as heilig ag: want sy Naam is wie Hy is; dit verteenwoordig sy Wese. ‘n Mens se naam is verkiesliker as groot rykdom, leer Spreuke 22:1.

Gelukkig het die voorval gister in Suid-Afrika nie ‘n groot skandaal veroorsaak nie, hoewel meeste van ons se persoonlike inligting nou iewers op die wolk rondsweef. Dit herinner ons egter net weer dat ons altyd moet let op wat ons doen, en waarmee ons ons besig hou, want jy weet nooit wanneer so ‘n voorval dalk vir jou ‘n groot verleentheid kan veroorsaak nie. Foute kan jy regmaak, maar ‘n goeie naam moet meer werd wees as rykdom, leer die Woord.