Probeer eendag van Pretoria na Johannesburg ry met jou kar in trurat. Jy sal nie ver kom nie. Dit is onwettig, dit is gevaarlik, en selfs al beweeg jy tegnies in die regte rigting, beweeg jy nie werklik vorentoe nie. Geen regsinnige mens pak ’n reis so aan nie.
Tog doen kerke dit soms. Met goeie bedoelings, en dikwels met die woord “vernuwing”, begin ’n gemeente ‘n program of aksie wat soos vooruitgang lyk, maar wat hulle eintlik terugneem na ou patrone. Dit is wat ek bedoel wanneer ek sê: reformasie kan nie in trurat gebeur nie.
Ons het die afgelope naweek op 31 Oktober weer hervormingsdag gevier. Ons het gedink aan die reformasie van die sestiende eeu en hoe dit die kerk van dwaalleer kom suiwer het.
Reformasie in trurat
Reformasie beteken om reg te maak wat skeef geloop het, deur terug te keer na die Woord van God. Dit is nie verandering ter wille van verandering nie, en dit is ook nie om op een plek te bly staan nie. Reformasie het ’n definitiewe rigting en beweging vorentoe. Ons kyk wel agtertoe en leer uit die geskiedenis van die kerk, maar dan net soos ’n motorbestuurder wat in sy spieëltjie kyk: om seker te maak ons is nog op die regte pad, en om terug te kry wat langs die pad verlore geraak het.
Die Reformatore het nie iets nuuts uitgedink nie. Hulle het die kerk teruggeroep na die Skrif en na die belydenis van die vroeë kerk. Daarom kon hulle sê dat die kerk wat gereformeerd is, altyd weer gereformeer moet word (ecclesia reformata semper reformanda), maar dan moet dit gebeur volgens die Woord van God, nie volgens elkeen se eie smaak nie.
Om in trurat te reformeer, is om veranderinge aan te bring wat die kerk terugneem na presies dit waarvan die Reformasie die kerk wou bevry. Dit gebeur wanneer menslike gesag swaarder begin weeg as die Bybel. Dit gebeur wanneer ampsdraers begin heers asof die gemeente hulle eiendom is, eerder as om te dien. Dit gebeur wanneer strukture en prosedures belangriker word as Christus se regering deur sy Woord en Gees.
Daarom is dit nie reformasie wanneer sogenaamde vernuwing lei tot magskonsentrasie, ’n kultus rondom ’n dominee of pastoor, of ’n kerk wat soos ’n besigheid bestuur word terwyl die Woord stilweg na die kantlyn geskuif word nie. Dit kan selfs gebeur met nuwe woorde, nuwe modelle en mooi strategiese planne, maar dit is nie hervorming nie. Dit is vervorming – die ou Rome in ’n nuwe baadjie.
Ons leef in ’n tyd waarin iets as goed beskou word bloot omdat dit nuut is. Wat oud is, word maklik verdink, en wat nuut is, word sonder veel vrae aanvaar. Die kerk kan nie so dink nie. Die kerk pas nie aan by modes en tendense nie, maar word vernuwe in gehoorsaamheid aan die Woord. Romeine leer: “En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is” (Rom. 12:2). Let op die volgorde van Romeine 12:2: Vernuwing begin nie by strukture, geboue of beplanning nie, maar by die gemoed of die verstand wat deur die Woord gevorm word. Daarom moet ons by elke voorstel tot vernuwing eers vra: dien dit Christus en sy kerk, of dien dit mense se idees oor wat die kerk behoort te wees?
Dit beteken egter nie dat alles moet bly soos dit is nie. Die Reformasie het juis die teendeel kom bewys. In die sestiende eeu was die kerk vasgevang in leerstellige dwaling, magsmisbruik en strukture wat Christus se gesag ondermyn het. Reformasie was toe nie ’n gerieflike opsie nie, maar ’n daad van gehoorsaamheid aan God.
Stagnasie is ook nie reformasie nie
Daar is ’n tweede gevaar, en ons moet ook daarteen waak. Dit is stagnasie. Dit gebeur wanneer die kerk vasval in vorme en gewoontes en in stand hou wat oor jare gedoen is, sonder om te vra hoe dit bydra tot geestelike lewe. Van buite kan alles reg lyk. Die vergaderings gaan voort, die rekeninge word betaal, die notules is in orde. Maar die hart van die gemeente klop nie meer vir Christus se koninkryk nie.
Die gemeente in Sardis het die naam gehad dat sy lewe, en tog was sy dood (Op. 3:1). Dit is dus moontlik om lewend te lyk maar geestelik dood te wees. Wanneer ’n gemeente ophou vorentoe beweeg, begin sy agteruitgaan, al het dit die naam “gereformeerd” met trots op die kennisgewingbord.
Dit is maklik om met hierdie punte saam te stem en dit dan op ander gemeentes van toepassing te maak asof dit nie vir ons geld nie. Dit is moeiliker om dit op onsself toe te pas.
Vir die kerkraad beteken dit dat wanneer ’n nuwe plan, model of struktuur op die tafel kom, is die eerste vraag nie of dit sal werk of hoeveel dit gaan kos nie, maar of dit Christus se regering deur sy Woord bevorder. Versterk dit die bediening van die Woord en die sakramente, die opsig en tug, en die versorging van die kudde en die opdrag tot sending? Of verskuif dit die gesag weg van die Woord of na een persoon of ’n klein groepie?
Vir die predikant beteken dit dat die kansel nie ’n platform vir persoonlike voorkeure is nie, maar die plek waar Christus deur sy Woord tot sy gemeente spreek. ’n Dominee wat sy eie invloed deur die kansel wil laat geld, maak die kerk afhanklik van ’n mens. ’n Dominee wat die Woord suiwer bedien, maak die kerk afhanklik van Christus.
Vir die gemeente beteken dit dat Reformasie nie net ’n saak van instandhouding van strukture is nie. Dit begin by elke lidmaat se verhouding tot die Woord. ’n Gemeente wat self die Skrif lees, die erediens getrou bywoon, en die belydenisskrifte ken, sal vinnig agterkom wanneer die kerk in trurat begin ry. Die beste beskerming teen menslike heerskappy in die kerk is ’n gemeente wat die Bybel ken.
Vir ons gewoontes vra dit dat ons eerlik antwoord waarom ons iets doen soos ons dit doen. Is dit omdat die Skrif dit vra, of bloot omdat ons dit nog altyd so gedoen het? Sommige gebruike en gewoontes is ’n kosbare erfenis en moet bewaar word. Ander het mettertyd ‘n gewoonte geraak wat sonder inhoud in stand gehou word in die naam van reformasie.
Reformasie kan ook nie in neutraal bly staan nie
Die kerk moet teen twee uiterstes waak: om alles nuut te wil maak en langs die pad Christus te verloor, of om alles te bewaar ter wille van sentiment en stilweg uit te sterf. Reformasie kan nie in trurat gebeur nie, maar dit kan ook nie in neutraal staan nie.
Ware hervorming beweeg vorentoe in geloofsgehoorsaamheid. Dit sny weg wat onbybels is en bou voort op wat die Skrif reeds bevestig het. Dit gee nie beginsels prys nie, en dit vervang dit ook nie met pragmatisme nie. Dit is nie ’n terugkeer na menslike gesag nie, en ook nie ’n verstokte vashou aan die verlede nie. Dit is ’n beweging nader aan Christus en sy Woord.
Hou dus die oë op die pad, jou hande op die stuurwiel en die Woord as padkaart. Kyk gerus in die spieël, maar maak seker jy ry vorentoe.
Discover more from Tuis by gdssmit.com
Subscribe to get the latest posts sent to your email.

