Ons gee ons oor aan die nostalgie tot daar niks oor is nie

Die bekende Afrikaanse sangeres, Laurika Rauch, sing ‘n lied waarin sy dink aan die vervloë dae toe mense mekaar nog met ‘n tiekie kon bel, en nou is die kinders groot en die vriende dood, en ons gee ons oor aan die nostalgie.

Die probleem met die “nostalgiese denke” is dat dit maklik kan ontwikkel in ‘n leef in die verlede mentaliteit wat niks te doen het met ‘n waardering vir die besondere lesse uit die geskiedenis of die mooi dinge van die verlede nie, maar ‘n poging kan wees om tyd te laat stilstaan, sodat jy nie die werklikheid in die gesig hoef te kyk of die verandering rondom jou hoef te verwerk nie.Baie Afrikaners leef in ‘n nostalgiese waan van gister se vervloë drome en verlore ideale. Verandering maak seer, want dit is onbekend. Verandering is dikwels ook net ter wille van verandering. Ons sien dit dikwels in kerke waar verandering bloot ter wille van die lidmaat gedoen word, en nie in reformerende denke of om te verbeter nie of in gehoorsaamheid aan die Woord nie. So ‘n soort verandering is gegrond op ‘n sosialistiese filosofie en nie Skrif nie. Alle verandering is nie noodwendig goed nie, maar verandering is onafwendbaar op alle terreine van ons lewe.

Prof. Danie Goosen het vroeër die week op sosiale media die volgende opmerking gemaak: “Die stand van die ‘konserwatiewe gedagte’ onder Afrikaners is om van te huil. Meeste Afrikaner-konserwatiewes dink nog in kategorieë wat uit vroeëre dekades kom, in plaas daarvan om dit op ‘n tydgenootlike wyse te deurdink en opnuut te begrond”. 

Prof. Goosen wys op die bekende teoloog-filosoof James K.A. Smith van Calvin College in die VSA, wat onlangs in gesprek getree het met Yuval Levin oor die stand van die konserwatiewe denke in die VSA, wat baie ooreenkomste toon met die situasie wat ons tans in Suid-Afrika beleef ten opsigte van die spoed waarteen die samelewing sekulariseer en van die kerk wegdryf.

Hierin wys Levin dat mense van nature ‘n neiging tot nostalgie het, veral om terug te keer na een-of-ander vorm van die 20ste eeu. Of dit nou die “somer van ’69 of ’83 of ’94” is, almal het ‘n goue era in hulle koppe. Die werklikheid is egter: jy kan nie die horlosie terug draai nie! En in die proses om te probeer om die horlosie terug te draai, begin baie mense se “wiele tol” en hulle kom net nie vorentoe nie.

Wat ons tans in Suid-Afrika beleef is ‘n revolusionêre poging om ‘n verandering te bring. Dit gaan nie net oor klasgeld nie, dit gaan oor stabiele samelewingstrukture. Alles moet skielik val: Afrikaans moet val…, klasgeld moet val…, en elke ding waarmee nie saamgestem word nie, moet nou val. Beskaafde kajuitraad en saam ‘n plan beraam, want dit is ons almal se toekoms wat op die spel is, word nie eers as opsie oorweeg nie. In die proses word infrastruktuur wat oor jare heen behoue gebly het en wat ‘n historiese plek in die land het, geoffer, vir ‘n kortsigtige eiegeregtigheid waarin net die individu se belange gediens word ten koste van die gemeenskap.

Stabiele families, stabiele gemeenskappe, stabiele kerke, stabiele individue is die grondslag vir ‘n gesonde samelewing en ekonomie. Jean-Jacques Rousseau het vooruitgang gesoek in ‘n revolusie wat alle sosiale strukture moes laat tuimel, sodat die mens volgens hom kon terugkeer na ‘n “natuurlike staat”, waarbinne die mens sonder voorveronderstellings voor kan begin om ‘n samelewing en samelewingsverbande te vorm.  In die proses was van die offers wat gebring moes word, dié van die verlies aan geskiedenis, kultuur, godsdiens en infrastruktuur.  En wat die mens oor het is ‘n republiek van frakture, aldus Levin. Levin gee waardevolle lesse vir Suid-Afrika, as hulle tog maar net wou luister: “The way to achieve justice and prosperity isn’t to abandon everything you’ve inherited”.

Hoewel ek nie met al die stellings van Levin saamstem nie, dink ek hy gee ‘n belangrike koers vir die VSA, wat ook van toepassing is op Suid-Afrika, waarvan ons gerus kan kennis neem. Levin het ‘n nuwe boek wat binnekort vrygestel gaan word wat handel oor die “Fractured Republic”.

Lees James K.A. Smith se onderhoud met Levin hier:

https://www.cardus.ca/comment/article/4929/openings-in-our-fractured-republic/