Die klippe sal dit uitroep

Toe die Here Jesus destyds op die rug van ‘n donkie in Jerusalem ingekom het, was sommige opgewonde en het lofliedere vir Hom gesing, en ander was vies en het probeer om sy volgelinge stil te maak (Luk. 19:38-39). Jesus se antwoord was dat as die dissipels stilbly, sal die klippe dit uitroep dat Hy die Koning is (vers 40).In die stad Arkansas in die VSA het die inwoners ‘n nuwe monument laat oprig ter nagedagtenis aan die Tien Gebooie. Die doel met die monument was om die mense van die stad te herinner aan die oproep tot heiligheid in die Tien Gebooie en dat ‘n mens verantwoordelik is teenoor God vir die besluite wat jy neem.

Skaars 24 uur nadat die monument opgerig is, het ‘n man met sy motor in die monument vasgejaag terwyl hy uitgeroep het: “Vryheid!” en die monument in stukke gebreek. Die man is intussen gearresteer vir beskadiging van eiendom.

Die ironie van sy poging om die monument te vernietig is een wat deur die eeue heen by die mens bly spook: om vryheid buite Christus te soek en soos die leiers in Jesus se tyd te probeer om dié wat lofliedere sing ter ere van die Koning stil te maak. Die Tien Gebooie maak ‘n appèl op mense wat hulle ongemaklik maak as hulle God verwerp.

Interessant dat sy poging om die boodskap van die Tien Gebooie stil te maak die teenoorgestelde uitwerking gehad het: nou het nie net die stad Arkansas nie, maar die hele wêreld van die monument kennis geneem. In die poging om die inwoners se uitroep na God se Woord stil te maak, roep die klippe van die vernietigde monument in hierdie geval dit letterlik uit – “Geseënd is die Koning…”. Die vernietiging van die Arkansas monument herinner ons dat niemand die roepstem van die Here kan stil maak nie. As mense stilbly, kan Hy selfs die klippe dit laat uitroep.

Jy kan die volledige berig oor die voorval hier lees.