Om jou in te ent, is ‘n liefdesdaad

Daar is tans baie berigte wat die rondte doen oor die Covid-19 inenting: sommige is daarvoor, ander daarteen en elkeen het sy of haar mening daaroor en baie maak of hulle alles weet terwyl ons nie alles weet nie en meestal in die donker soek na die beste antwoord. Sommige kan sommer baie opgewerk raak oor die kwessie en jy durf nie met hulle daaroor debatteer nie! Dit is nogal jammer dat daar nie eenstemmigheid is onder gelowiges oor hierdie saak nie. Die Bybel gee ook nie vir ons ‘n direkte antwoord op die vraag of mens jou moet laat inent of nie? Maar die Bybel gee tog vir ons duidelike beginsels oor die mens se verhouding teenoor die natuur, teenoor ander mense en teenoor God en hoe ons wetenskapsbeoefening moet lyk.

Daar het onlangs ‘n paar artikels verskyn wat kwessies soos risikobepaling voor jy die inenting neem1, dat die mediese wetenskap ook vanuit ‘n filosofiese vertrekpunt werk2, dat daar ook denkskole onder medici is3, die biopolitieke aard van die omgewing waarin ons leef4, en die onderdrukkende aard van staatisme5 uitlig. Ek wil elkeen aanraai om dié insiggewende artikels te lees. Elkeen van ons beleef die onderdrukking van die staat met veral die hantering van die Covid-19 pandemie en die inperkings die afgelope 16 maande in ons eie lewe.

Ek wil tog hieronder aantoon dat Christene ingeënt kan word sonder gewetensbesware. Ek dink nie die artikels hierbo genoem, gee hierdie perspektief as ‘n opsie nie en ek reken die meerderheid wat sou aanklank vind by die artikels genoem, is mense wat teen inentings gekant is en daarvoor gee die artikels genoeg skietgoed.

Sommige argumente, soos natuurlike kudde-immuniteit behoort ook uit ‘n ander hoek bekyk te word. Ek gee in ‘n paar punte my mening waarom ek oordeel dat dit nie alleen verantwoordelik is om die inenting te neem as Christen nie, maar ook ‘n daad van naasteliefde is. Ek is van oortuiging dat, hoewel gesonde debat oor die etiek van die inenting aangemoedig moet word, ons versigtig moet wees dat die kerk en teoloë nie oorkom as “anti-wetenskap” en “anti-inenting” nie. Dit was nooit in die gees van die Christendom om “anti-vaksinering” te verkondig nie. Ek is besorg dat baie Afrikaners anti-vaksine sentimente steun omdat hulle nie die staat vertrou nie, en ‘n goeie saak skipbreuk ly oor verkeerde redes.

So, hier volg ‘n paar redes waarom ek glo dit is verantwoordelik om ingeënt te word:

  • Maande na die eerste entstof toegedien is, is die meeste sterftes onder diegene wat nie ingeënt is nie

Terwyl ons hier in Suid-Afrika nog stik aan CO2-gasse agter die maskers, het baie lande weer normaal begin oopmaak sonder maskers, sosiale afstand en inperkings. Byna al die nuwe sterftes weens Covid-19 in die VSA is onder mense wat nie ingeënt is nie6. Die statistieke sê dus: inperkings en maskers keer nie die virus nie, die inenting keer die virus. In gesprek met iemand maak dié persoon die opmerking: Ag, ons dra mos maskers, waarom moet ek my laat inent? En my antwoord is: ek dra nou ‘n masker want ek wil voorkom dat ek die virus kry en dit vir jou gee, maar oor ‘n paar maande as almal ‘n geleentheid gehad het om ingeënt te word, gaan ek nie meer ‘n masker dra nie en so gaan die meeste ander ook nie. Ek is heeltemal gekant daarteen dat inentings verpligtend moet wees, en glo dat elkeen die keuse moet hê om ingeënt te wees of nie. Maar, net soos wat ek iemand die keuse wil gun om ‘n besluit daaroor te neem, kan ek nie toelaat dat my gewete gebind word deur iemand wat besluit het om nie die inenting te ontvang nie, en ons die res van ons lewe met ‘n masker moet loop om die oningeëntes te beskerm nie. As iemand nie ingeënt wil wees nie, het hulle die risiko bepaal en ‘n besluit geneem – ek gun dit. Ek wil dan tog die volgende praktiese vrae stel: Wat gaan ons doen as die meerderheid van ‘n gemeente nie ingeënt is nie, en iemand kry die virus – weer die kerk sluit? Dit kan tog nie lewenslank so aanhou nie? Wat van leraars wat besoeke doen by ouer mense wat nie geënt is nie of andersom? Is dit regverdig om van ‘n werkgewer te verwag om vir die res van ons lewens elke keer as iemand in kontak was met Covid, die persoon verlof te gee om te self-isoleer? Is dit verantwoordelik om die siekte soos ‘n dobbelsteen te gooi?

 

  • Kudde-immuniteit 

Daar is tot op datum (04/08/2021) ongeveer 2 470 000 gevalle van Covid-19 in SA aangemeld7. Kudde-immuniteit word bereik wanneer genoeg mense in ‘n land die virus gehad het of wanneer genoeg mense blootstelling aan die virus gehad het deur ‘n inenting te ontvang, en teen-liggaampies teen die virus ontwikkel het. Die teiken vir kudde-immuniteit is rondom 60% van die bevolking. Minder as 5% van die land se mense het reeds Covid-19 gehad, waarvan ongeveer 73 000 mense aan die virus gesterf het. As jy die somme gaan maak, is ons dus nog ongeveer 15 jaar weg van natuurlike kudde-immuniteit as niemand hulle laat inent nie. Ek dink persoonlik dit is onverantwoordelik om lidmate aan te moedig om eerder te mik na natuurlike kudde-immuniteit en eerder nie ingeënt te word nie.  Dit beteken dat ons nog potensieel 15 jaar in die mees verwoestende inperkings van die geskiedenis van ons land kan sit, wat nie alleen die land se ekonomie totaal sal verwoes nie, maar ook mense in totale armoede sal dompel, mediese dienste tot ‘n stilstand sal bring en miljoene lewens sal kos. Kyk wat het 16 maande se inperkings ons land al gekos! Dink wat kan net nog een jaar aan ons doen? Die koste van natuurlike kudde-immuniteit moet nie alleen aan die ekonomie gemeet word nie, maar ook verder bereken word in lewensverlies wat dit sal veroorsaak totdat ons by die merk kom. Omdat kudde-immuniteit jare gaan neem om te bereik en die verwoesting wat dit meebring onberekenbaar is, is inenting die logiese en doeltreffende wyse om by te dra tot die bereiking van kudde-immuniteit in die kortse moontlike tyd.

 

  • Die risiko is klein

Een van die opmerkings wat ek die meeste hoor as argument waarom iemand nie ingeënt wil word nie, is dat “hulle gehoor het van mense wat die inenting ontvang het en kort daarna dood is aan Covid”. Entstowwe leer jou immuunstelsel hoe om jou liggaam te beskerm teen ’n siekte waaraan dit nog nie voorheen blootgestel was nie. Wanneer jou liggaam dan die siekte opdoen, weet dit hoe om daarteen te veg, jou risiko vir ernstige simptome is laer, en jy sal vinniger herstel as sonder ’n inenting 7. Omdat dit tyd neem vir jou liggaam om die teenliggampies te ontwikkel, kan jy nie dadelik ophou om ‘n masker te dra nie en jy kan nog steeds Covid kry en dit oordra. Die verwagting is egter dat, sodra almal kans gehad het om ingeënt te word, ons nie meer maskers hoef te dra in die openbaar nie en die wat ingeënt is of immuniteit opgebou het, die siekte net lig sal kry as hulle blootgestel word daaraan.

Die eerste masssa inentings is al sedert Mei vanjaar aan die gang, en meeste mense wys binne ure as hulle enige komplikasies weens die inenting het. Natuurlik is daar ‘n risiko. Daar is mense wat siek word van die inenting, maar verreweg die meerderheid word nie siek nie. Die inenting bevat ook nie die lewendige virus nie, so daar is geen kans dat iemand Covid kan kry of kan oordra as gevolg van die inenting nie. Indien iemand reeds die virus onder lede het maar nog nie simptome toon nie, kan dit moontlik verklaar waarom party mense siek geword het van Covid na die inenting. Hoewel daar mense is wat komplikasies kry van die inenting, is daar al biljoene mense wêreldwyd wat ingeënt is en ‘n klein persentasie met komplikasies. Die uitslag oortref die risiko beduidend. Ek is bewus van meer mense wat nier- of lewerversaking gekry het weens die verkeerde gebruik van ivermektien as wat ek weet van mense wat dood is na die inenting.

 

  • Die Bybel gee ons ‘n opdrag om ons naaste lief te hê soos onsself

Die Bybel is nie anti-wetenskap nie. Inteendeel, gee God vir die mens die opdrag in Genesis 1:28 om die aarde te bewerk, te bewoon en daaroor te heers. Daar is geen verbod in die Bybel om nie na dokters te gaan vir hulp of mediese dienste te gebruik nie. Om nie van die wetenskap gebruik te maak nie, is dus nie Bybels verdedigbaar nie, maar eerder onkundig en dit sou dieselfde wees as om nie na die weerberig te kyk nie, maar vir God te vra om dit aan jou te openbaar, of nie ‘n ingenieur se raad te gebruik as jy bou nie, maar God te vertrou dat jou gebou sal staan, allerhande ongesonde kos te eet, maar God vertrou vir ‘n lang lewe. Dit beteken nie dat ons God nie vertrou nie. As Nehemia en sy volk agteroor gesit en op die Here gewag het vir uitkoms van die vyand, was hulle vernietig. Maar in sy geloof dat God vir hulle stry, het Nehemia manne op die mure van Jerusalem geplaas om die stad te bewaak, elkeen met sy swaard aan sy heupe gegord en die res van die manne gereed met hulle spiese, skilde en boë (Neh. 4:16-18). Daar is talle voorbeelde in die Bybel waardeur aangetoon kan word dat God werk deur die wat self verantwoordelikheid neem en verantwoordelik optree.

Die Here Jesus leer ons dat liefde vir God en ons naaste die samevatting van die Wet is (Matt. 22:37-40). Liefde soek nie sy eie belang nie (1 Kor. 13:5). In hierdie opsig vra liefde: wat kan ek doen om my naaste lief te hê soos myself? In uitvoering van die opdrag om onsself en ons naaste lief te hê, sou ons ook in hierdie opsig kon sê dat dit liefde bewys aan myself, my gemeente, my gesin en elkeen wat my pad kruis om hulle nie willens en wetens in gevaar te stel deur moedswillig die virus te versprei nie. Dit behels ook dat ons alles moet doen wat ons kan, om die virus te stop sodat dit nie verdere leed aan ons naaste berokken nie.

“Om jou te laat inent kan dus beskou word as ‘n liefdesdaad aan die naaste

om sodoende lewens te beskerm en die verlies aan lewensmiddele te beperk”

 

  • Samevatting

Meeste van ons wil graag weer normaal voortgaan met ons lewe, nie meer gemasker wees nie, minder geliefdes begrawe en die koninkryk van God in ‘n vol kerk en normale gemeenskap sonder beperkings dien.

Inperkings het gekom en ons lewens ontwrig, familie en vriende is aan die dood afgestaan, onskuldige mense het gely deur hulle werk te verloor, kerke is maande aaneen gesluit en het self ook swaar finansiële verliese gely, om nie eens te praat van die verliese aan lidmate wat gesterf het, of van die wat nou “YouTube kerk” hou en bes moontlik sal wil voortgaan daarmee nie. Die kerk het groot werk om weer te bou na Covid.

Meeste van ons wil graag weer ‘n broer of suster in nood in die hospitaal gaan besoek en weer in vryheid reis sonder om geteister te word oor die tyd van die dag wat ons op die pad is of die redes waarom jy reis verduidelik. As ons in ‘n tydkapsule kon klim en teruggaan na pre-2020, sou ons baie dinge anders wou doen, maar die werklikheid is: die wêreld lyk nou anders as ‘n jaar-en-‘n-half terug en ons moet besef dat die virus nie vanself gaan verdwyn nie.

Die werklikheid is dus: as ons ontslae wil raak van inperkings, en weer iets van normaliteit post-Covid wil beleef, is inentings ‘n Bybels-geregverdigde manier vir Christene om ons samewerking te gee dat ons die virus kan wen.

Die kultuuropdrag wat God die mens gegee het, impliseer dat ons alles wat God in die skepping tot ons beskikking gestel het, sal kultiveer en die middele in die skepping sal gebruik vir versorging, ook op mediese gebied. Die inenting teen Covid kan beskou word as ‘n uitvloeisel van die mens se kultuuropdrag en ‘n wyse waarop ons oor die gevalle skepping heers. Die mediese wetenskap het ver ontwikkel die afgelope dekades en deur middel van rekenaartegnologie kan die mediese wetenskap vandag gevolgtrekkings binne dae maak wat vroeër jare sou neem. Dit hoef ons dus nie te verbaas dat die Covid inenting binne ‘n jaar ontwikkel kon word nie. Die wantroue wat geskep word in die mediese wetenskap deur mense wat om verkeerde redes teen inentings is, sny natuurlik na alle kante. Behoort jy dan medisyne te drink as jy siek is, of geopereer te word as jy ‘n hartprobleem het? Om te praat van “gekondisioneerde wetenskaplikes” wat ons nie moet vertrou nie, raak ook die chroniese medikasie wat mense gebruik en dieselfde farmaseutiese maatskappy wat die inenting vervaardig, het ook hulle embleem op die griepmedisyne in jou noodtassie.

Ons leef in die troos dat God sy algemene genade aan die mensdom gee sodat ons oor die skepping kan heers, en ook mettertyd oor die virus kan heers, en daarom is ek dankbaar dat selfs ongelowiges in God se Raad gebruik kan word om God se kinders en sy kerk te dien – ook met die ontwikkeling van entstowwe.

“Ek is dus oortuig dat ‘n besluit om jou te laat inent, as ‘n liefdesdaad beskou kan word”. 

Verwysings:

  1. https://apk.co.za/blog/2021/07/30/minderheidsverslag-oor-vaksines/
  2. https://apk.co.za/blog/2021/07/30/minderheidsverslag-die-induktiewe-aard-van-wetenskaplike-ondersoek-1/ 
  3. https://apk.co.za/blog/2021/07/30/minderheidsverslag-die-induktiewe-aard-van-wetenskaplike-ondersoek-2/
  4. https://apk.co.za/blog/2021/07/30/minderheidsverslag-die-biopolitieke-aard-van-die-omgewing-wat-ons-betree/
  5. https://apk.co.za/blog/2021/07/30/minderheidsverslag-die-onderdrukkende-aard-van-staatisme/
  6. https://apnews.com/article/coronavirus-pandemic-health-941fcf43d9731c76c16e7354f5d5e187
  7. https://www.medihelp.co.za/af/koronavirus/covid-19-inenting

2 thoughts on “Om jou in te ent, is ‘n liefdesdaad

Comments are closed.