Hierdie artikel ondersoek die historiese betroubaarheid van Genesis 1-11 vanuit ‘n Gereformeerde perspektief en argumenteer dat hierdie hoofstukke betroubare openbaring van God se dade in tyd en ruimte bied, en nie mites, teologiese simboliek of etiologiese volksverhale is nie. Die ondersoek begin by die literêre aard van die teks, waar die narratiewe formules en die geslagsregisters van Genesis 5 en 10 die vertelling in werklike tydsverloop anker, en verbind dit met die verstaan van Calvyn en Bavinck dat Genesis die begin van die verlossingsgeskiedenis is.
Vervolgens word die onderskeid tussen die Skrif se wie en waarom en die natuurwetenskap se hoe uiteengesit aan die hand van Kuyper se soewereiniteit in eie kring.
Die artikel volg daarna die ontstaan van die moderne paradigmas wat Genesis onder verdenking gebring het, naamlik Lyell se uniformisme, Darwin se evolusieteorie en die histories-kritiese metode van Wellhausen, en toon aan dat die verwerping van ‘n historiese Adam, sondvloed en Babel die argumentasie van Romeine 5, 1 Korintiërs 15, Matteus 24 en Hebreërs 11 van sy grondslag stroop.
Op wetenskaplike vlak word die tweede wet van termodinamika en Behe se onherleibare kompleksiteit aangewend as besware teen die evolusionêre voorveronderstelling van spontane vooruitgang, en word teïstiese evolusionisme as teologies onhoudbaar beoordeel. Ten opsigte van die ouderdom van die aarde word verskeie Skrifgetroue uitlegmoontlikhede erken, met die waarskuwing dat Skrifgesag nie met een uitlegtradisie vereenselwig moet word nie.
Die volledige artikel is beskikbaar by hierdie skakel en ook op op: Academia.edu


Die afgelope jare, en veral sedert Covid, het ’n nuwe vorm van “Bybellees” posgevat – op selfone. Kort video’s, vinnige aanhalings en treffende Bybelverse word daagliks gedeel op sosiale media. Sommige is baie goed en aanvaarbaar, maar ‘n mens is dikwels verstom oor die vlakheid van die teologie in ander, wat soms met groot oortuiging en min konteks aangebied word. Hierdie verskynsel, wat ek “TikTok-teologie” wil noem, is ’n moderne hermeneutiese uitdaging. Aan die een kant kan mens dankbaar wees dat die Bybel wel aangehaal word, maar hóé dit aangehaal word, los van die konteks en watter verstaan daaraan gegee word, plaas ‘n groot vraagteken oor Skrifgesag. Om ’n teks buite konteks te lees, was nog altyd ’n vorm van inlees en nie uitleg nie, ongeag die vernuf om mense se aandag te trek.