Die historiese betroubaarheid van Genesis 1-11: ‘n Gereformeerde perspektief

Hierdie artikel ondersoek die historiese betroubaarheid van Genesis 1-11 vanuit ‘n Gereformeerde perspektief en argumenteer dat hierdie hoofstukke betroubare openbaring van God se dade in tyd en ruimte bied, en nie mites, teologiese simboliek of etiologiese volksverhale is nie. Die ondersoek begin by die literêre aard van die teks, waar die narratiewe formules en die geslagsregisters van Genesis 5 en 10 die vertelling in werklike tydsverloop anker, en verbind dit met die verstaan van Calvyn en Bavinck dat Genesis die begin van die verlossingsgeskiedenis is.

Vervolgens word die onderskeid tussen die Skrif se wie en waarom en die natuurwetenskap se hoe uiteengesit aan die hand van Kuyper se soewereiniteit in eie kring.

Die artikel volg daarna die ontstaan van die moderne paradigmas wat Genesis onder verdenking gebring het, naamlik Lyell se uniformisme, Darwin se evolusieteorie en die histories-kritiese metode van Wellhausen, en toon aan dat die verwerping van ‘n historiese Adam, sondvloed en Babel die argumentasie van Romeine 5, 1 Korintiërs 15, Matteus 24 en Hebreërs 11 van sy grondslag stroop.

Op wetenskaplike vlak word die tweede wet van termodinamika en Behe se onherleibare kompleksiteit aangewend as besware teen die evolusionêre voorveronderstelling van spontane vooruitgang, en word teïstiese evolusionisme as teologies onhoudbaar beoordeel. Ten opsigte van die ouderdom van die aarde word verskeie Skrifgetroue uitlegmoontlikhede erken, met die waarskuwing dat Skrifgesag nie met een uitlegtradisie vereenselwig moet word nie.

Die volledige artikel is beskikbaar by hierdie skakel en ook op op: Academia.edu

Ontologie: dood as poort na die lewe

In die Maart 2026-uitgawe van die AP Kerk se amptelike blad, Die Boodskapper, het ek die hoofartikel geskryf met die titel: Ontologie: Dood as poort van die sigbare- na die onsigbare werklikheid.

In hierdie video, neem ek die hoofgedagtes daarvan en bespreek die vraag verder, deur te gesels oor die moeilike tema wat mense graag vermy, naamlik die dood as poort na die lewe in die Christelike beskouing van die werklikheid.