Die Christen se roeping tot entrepreneurskap

Toe ek by Acton Universiteit in Grand Rapids, Michigan, ingeskryf was, het ek onder andere ‘n kursus bygewoon wat deur Peter Greer van HOPE International aangebied is. Dit het gegaan oor entrepreneurskap. Hy het begin met ‘n slagspreuk: “As jy alleen probeer boer, sal jy nooit deur die droë seisoen kom nie.” Dit vat twee dinge saam wat dikwels in die Christelike nadenke oor werk en entrepreneurskap geskei word. Dit is dat die mens geroep is om te werk en te bou aan die een kant, maar dat die mens dit nie alleen kan doen nie; hy is geroep om dit in gemeenskap met ander te doen.

In Suid-Afrika, waar werkloosheid een van die swaarste laste op gesinne is en deesdae al hoe meer gemeentes se begroting en toekoms raak, het hierdie tema ‘n dringendheid wat aangespreek moet word. Die kerk het eeue lank gedink in terme van liefdadigheid, en liefdadigheid het sy regmatige plek. Die vraag wat ek hier wil stel is: watter plek beklee die skep van waarde, die begin van ‘n besigheid en die verskaffing van werk in die roeping van die Christen en behoort die kerke nie meer daarop te fokus nie?

My argument is dat entrepreneurskap een van die gestaltes is waarin die mens die kultuuropdrag van Genesis 1 en 2 uitleef. Wanneer dit in afhanklikheid van God, in diens van die naaste en binne die gemeenskap van die kerk beoefen word, is dit ‘n vorm van gehoorsaamheid aan die Skrif. Die een wat werk skep is hiervolgens ‘n rentmeester met ‘n roeping, en sy werk raak nie net die waardigheid van die medemens nie, maar dien ook tot die eer van God. Continue reading →

Ontologie: dood as poort na die lewe

In die Maart 2026-uitgawe van die AP Kerk se amptelike blad, Die Boodskapper, het ek die hoofartikel geskryf met die titel: Ontologie: Dood as poort van die sigbare- na die onsigbare werklikheid.

In hierdie video, neem ek die hoofgedagtes daarvan en bespreek die vraag verder, deur te gesels oor die moeilike tema wat mense graag vermy, naamlik die dood as poort na die lewe in die Christelike beskouing van die werklikheid.

Om te sê Jesus is Koning, is die mees politiese uitspraak ooit

Wanneer Christene sê dat “Jesus die Christus” is, maak hulle ’n openbare, politieke verklaring. Hulle maak ‘n verklaring wat die magstrukture van die wêreld direk uitdaag. Die evangelie is nié ’n a-politiese boodskap nie. As ons sê dat alle gesag aan Christus onderwerp is, sê ons indirek dat alle aardse magte aan Hom onderwerp is. Dit beteken dat géén aardse mag vir altyd sal hou nie en dat alle regerings sal verbygaan. Dit is dus ’n politieke aankondiging wat alle aardse gesag onder Christus se heerskappy plaas. Continue reading →

Bybelvertaling deel 3: Die bydrae van John Wycliffe

In hierdie derde deel in die reeks oor Bybelvertaling fokus ons op die belangrike bydrae van John Wycliffe in die 14de eeu en sy Engelse vertaling van die Bybel wat die weg berei het vir Bybelvertaling in die Reformasie.

Deel 1 het gehandel oor die doel en geskiedenis van Bybelvertaling.

Deel 2 het gehandel oor die geskiedenis van die oordrag van die teks van die Nuwe Testament, veral drie tekstipes, naamlik die Westerse teks, Alexandrynse teks en die Bisantynse teks. Ons het ook gefokus op die omstandighede waaronder die vroeë kerk die teks van die Nuwe Testament oorgedra het.

Die herwinning van die klassieke Christelike tradisie in die onderwys

Die AP Akademie tree as Vaandelborg vir Kragdag 2025 op wat DV 7-9 Augustus 2025 plaasvind. Hiérdie artikel is ‘n meer uitgebreide bespreking van ‘n artikel met dieselfde titel wat later vanjaar in Kragdag se Nuusblad sal verskyn.

Opsomming: Hierdie artikel ondersoek die herwinning van die klassiek-Christelike tradisie (KCT) binne die moderne onderwysstelsel. Die KCT verbind klassieke filosofie met Christelike teologie en beklemtoon die vorming van die hele mens, naamlik die verstand, hart en siel, deur ’n liefde vir waarheid, goedheid en skoonheid by die student te kweek. Binne hierdie benadering, word onderwys gesien as ‘n roeping, waar die onderwyser of dosent as “paidagogos” die student begelei tot karaktervorming en ontdekking van hul roeping, eerder as net kennis oordrag. Die artikel plaas hierdie benadering in kontras met uitkomsgebaseerde onderwys (UGO), wat leerdergesentreerd is, fokus op meetbare uitkomste, en die illusie bevorder dat alle leerders gelyke resultate kan behaal. Aangesien die UGO-stelsel oorheersend is, word voorgestel dat die gees van die KCT herstel word binne bestaande strukture. Dit behels praktyke soos die gebruik van klassieke tekste, estetiese vorming, en gesprekke oor die betekenis van waarheid, goedheid en skoonheid. Die pedagoog moet self as model van deug optree. Die artikel eindig met die siening dat ware opvoeding die vorming van die siel is, nie net akademiese prestasie behels nie. Onderwys word so ’n daad van geestelike en morele begeleiding tot volwassenheid.

Lees die volledige artikel hier…