Die betekenis van “sit aan die regterhand van die Vader”
Prof. G.D.S. Smit
Inleiding
Daar is ‘n gevaar dat die leer oor die hemelvaart van Christus in die prediking van die kerk as ‘n eindpunt beskou word: die opstanding is gevier, die verhaal oor die hemelvaart word vertel, en nou is Christus weg tot die wederkoms. Die hemelvaart is egter nie ‘n afskeid nie, maar ‘n troonsbestyging. Dit is die oomblik waarop die verheerlikte Middelaar die posisie inneem wat Hom van ewigheid af toekom, en vanwaar Hy aktief as Koning en met volmag vabn die Vader regeer oor alle dinge. Die klassieke belydenis is dat Hy sit aan die regterhand van die Vader, en dit verdien meer aandag as wat dit in die hedendaagse kerklike nadenke ontvang.
Die Skriftuurlike grondslag
Die troonbestyging is ‘n verwagting wat dwarsdeur die Bybel beskryf word. Een van die bekendste is Psalm 110:1: “Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ‘n voetbank vir u voete.” Hierdie Psalm word meer dikwels in die Nuwe Testament aangehaal as enige ander Ou-Testamentiese teks, en die rede is voor die hand liggend: dit wys dat die verwagting van die troonbestyging van die Messias reeds lank voor sy koms al in die Ou Testament bestaan het. Met sy koms is die Seun van God, in sy menslike natuur, verhef tot die hoogste plek van gesag in die skepping.
Paulus skryf in Efesiërs 1:20-22 dat God Christus opgewek het en laat sit het “aan sy regterhand in die hemele, bo alle owerheid en mag en krag en heerskappy en elke naam wat genoem word, nie alleen in hierdie wêreld nie, maar ook in die toekomstige.” Die Griekse teks gebruik die woord ‘bedeling’ of ‘eeu’ en nie ‘wêreld’, soos die 1953-vertaling dit vertaal nie. Die troonbestyging is hier uitdruklik kosmies van aard: dit is nie ‘n beperkte of voorlopige gesag nie, maar ‘n heerskappy wat alle gesag, oor alle tye, omvat. Die Hebreërbrief bou hierop voort deur die hemelvaart te verbind met die Hoëpriesterlike werk van Christus: “nadat Hy een slagoffer vir die sondes gebring het, (het Hy) vir altyd gaan sit aan die regterhand van God…” (Heb. 10:12). Die sit aan die regterhand staan hier in kontras met die staande houding van die Levitiese priesters in die destydse tempeldiens, wat dag na dag dieselfde offers gebring het in ‘n staande posisie. Christus sit, omdat sy offer volkome was en sy werk as Hoëpriester voltooi is.
Die betekenis van “sit aan die regterhand van die Vader”
Om te sit aan die regterhand van die Vader is nie ‘n aanduiding van plek nie, maar is ‘n uitdrukking van gesag en rangorde. In die antieke wêreld was die regterhand van ‘n koning die ereposisie by uitnemendheid, die plek van die medewerker van die koning, wat deel het aan die koninklike mag. So ook met die hemelvaart: Christus deel as Middelaar volledig in die regerende mag van die Vader.
Hieruit volg drie implikasies wat vir die kerk van belang is.
Eerstens, Christus regeer aktief oor alle dinge. Die hemelvaart is nie die einde van Christus se werk nie. Psalm 110 beklemtoon die voortgaande onderwerping van die vyande, en Paulus sluit hierby aan in 1 Korinthiërs 15:25: “Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.” Dit beteken dat die geskiedenis nie aan die toeval oorgelaat is nie. Die kerk bely in die Heidelbergse Kategismus (Sondag 19, Vraag 50) dat Christus sy gawes aan die kerk uitstort, ons teen alle vyande beskerm, en alle dinge bestuur tot ons saligheid. Die hemelvaart is dus nie ‘n passiewe heerskappy nie.
Tweedens, die hemelvaart bepaal die kerk se houding teenoor wêreldse magte. As Christus aan die regterhand van die Vader sit, bo elke owerheid en mag en krag en heerskappy, dan is geen wêreldse gesag absoluut nie. Die implikasies hiervan is geweldig groot. Owerhede, ideologieë, ekonomiese stelsels en kulturele norme moet almal voor die gesag van die verheerlikte Christus buig. Die kerk wat werklik glo dat Christus aan die regterhand van die Vader regeer, kan nooit kritiekloos onderdanig wees aan enige wêreldse orde nie, want ons bely dat die ware Koning reeds op die troon sit en anders as aardes magte, regeer Hy vir ewig.
Derdens, die hemelvaart bied grond vir ons gebed. Die Skrif koppel die hemelvaart aan die Hoëpriesterlike voorbidding van Christus (Rom. 8:34). Christus sit nie net as Koning aan God se regterhand nie, maar ook as Priester, en hierdie twee ampte is onskeibaar. Elke gebed wat die kerk bid, gaan deur die Middelaar wat vir ons pleit, aangesien Hy self die menslike natuur deel (Heb. 4:15). Ons bid dus nie in die lug nie, maar tot ‘n Heiland wat by die Vader pleit.
Die eskatologiese betekenis van die hemelvaart
Die hemelvaart is wesenlik eskatologies van aard. Dit dui op ‘n tydperk, naamlik die tyd tussen die hemelvaart en die wederkoms, waartydens Christus regeer totdat sy vyande totaal onderwerp is. Hierdie “totdat” beteken nie dat sy heerskappy ophou by die wederkoms nie; dit beteken dat die wederkoms die voleinding is van ‘n proses wat reeds by die hemelvaart begin het. Die kerk leef dus in die periode van die “laaste dae” – dit is die tyd van Christus se hemelvaart tot sy wederkoms. Die kerk hoef egter nie te wag vir ‘n toekomstige aardse koninkryk sodat Christus kan begin regeer nie; Hy regeer nou reeds, vanuit die hemel aan die regterhand van die Vader. Die sendingwerk van die kerk is dus die uitbreiding van sy heerskappy wat reeds gevestig is, nie die vestiging van ‘n nuwe een nie.
Samevatting
Die hemelvaart roep die kerk dus nie tot passiewe afwagting tot die wederkoms nie. Dit beteken prakties dat die gelowige sy/haar lewe nie inrig vanuit vrees vir wêreldse magte of onsekerheid oor die toekoms nie, maar rondom die vaste werklikheid dat die Koning op die troon sit. In die praktyk vra dit dat ons ons onderwerp aan sy Woord, en ons lojaliteit nie verkoop aan valse ideologieë nie, en ons gebede met vrymoedigheid rig tot Hom wat werklik hoor en intree. In die gemeente beteken dit dat prediking, dissipelskap en sending nie gebou moet word op menslike strategieë nie, maar op die sekerheid van sy heerskappy. En in persoonlike geloof beteken dit dat ons met volharding leef, ook te midde van lyding en onsekerheid, omdat ons weet dat niks buite sy koninklike regering val nie. Die hemelvaart plaas die kerk met albei voete op die aarde, maar met die oë gerig op die troon.

Die herdenking van die 1700ste jaar sedert die Konsilie van Nicéa (325 n.C.), het vanjaar verskeie geleenthede gebied om die kern van die Christelike geloof weer te oordink en te bely.
In ’n wêreld waar geloofsoortuigings al hoe meer benader word asof dit afhang van die mening van die meerderheid, is dit noodsaaklik om as Christene duidelik te formuleer waarom geloof in die letterlike bestaan van die hemel ’n fundamentele waarheid in die Bybelse leer is. Die Bybel bied ’n perspektief op die hemel as ’n werklike plek, wat voorberei word deur Christus self, waar gelowiges in ewige gemeenskap met God sal verkeer. Hierdie waarheid is nie opsioneel vir die geloof nie, want dit anker die eskatologiese verwagting, morele lewe, en troos van die kerk deur die eeue heen in die belydenis van wat die Bybel daaroor leer.