2020 Bybelvertaling – Hebreeuse name van God

Ek het pas my kopie van die 2020 vertaling (met hoofletters) ontvang. Voor in die Bybel word ‘n oorsig gegee van die bekende Ou-Testamentiese name van God in Hebreeus en die Afrikaanse vertaling daarvan. Met die eerste oogopslag vind die leser dat die Hebreeuse teks van links na regs getik is (wat natuurlik nie korrek is nie). Ek vind voor in die Bybel ‘n los blaadjie met errata, maar daar word nie melding gemaak van die feit dat die Hebreeuse teks verkeerd is nie. Ek het wel bevestiging dat die BSA bewus is van die fout. Ek gee vervolgens die korrekte name hier.

Die transkribering van die woorde hier onder word uitgespreek soos volg:

[e] soos “e” in “seraf”

[ε] soos “e” in “wet”

[Ə] soos “e” in se

[o] soos “oo” in “room”

[ɔ} soos “o” in “lot”

[i] soos “i” in minimum

[x] soos “g” in “gees”

[v] soos “v” in “universiteit” (m.a.w. “w”)

[a:] soos “aa” in “baan”

Hieronder is ‘n lys van die korrekte name:

אֵל – [El]

“God”, en soms “god/afgod” of in die meervoud telkens “afgode”, behalwe waar אֵל [el] ”mag” beteken (bv. Gen. 31:29; Deut. 28:32).

אֱלֹהִים – [’Ĕlōhīm]

“God” en “gode”, behalwe waar אֱלֹהִים as ‘n superlatief* gebruik word (bv. Jona 3:3).

*(GDS) Superlatief verwys na adjektiewe wat in die hoogste vorm gebruik word. In die geval van God se naam kan dit ook verstaan word as ‘n majesteitsmeervoud. Rekening word gehou daarmee dat die uitgang in Hebreeus normaalweg in die status absolutus as ‘n meervoud gelees word, vandaar die vertalingsmoontlikheid “gode”.

אֵל בְּרִית – [El bƏrit]

“die Verbondsgod” of “(die) God van die verbond”.

אֵ֥ל עֹולָֽם – [El ola:m]

“die Ewige God” of “God, die Ewige”.

אֵ֥ל עֶלְיֹֽון – [El εljon]

“die Allerhoogste God” of “God, die Allerhoogste” (Gen. 14:18).

אֵל רֳאִי – [El rɔ’i]

“Die God wat my sien” (Gen. 16:13)

אֵל שַׁדָּ֥י – [El sjad’dai]

“die Almagtige God” of “God, die Almagtige”.

אֲדֹנָי en אָדוֹן – [Ədona:i] en [a:don]

“my/ons Heer” en “die Heer” (Jes. 10:16).

אֲבִ֣יר יַעֲקֹ֔ב – [Əbir ja’Əkob] en [Əbir jisra:’el]

“die Magtige van Jakob” en “die Magtige van Israel”.

יְהוָ֣ה אֲדֹנָי צְבָאֹ֔ות – [jhvh Ədona:i tsƏba:’ot]

“die Here, my Heer, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “HERE, my Heer, Heerser oor alle magte”.

יְהוָ֣ה אֲדֹנָי – [jhvh Ədona:i ]

“my/ons Heer, die HERE”, en as aanspreekvorm “HERE, my/ons Heer”.

הָֽאָדֹון֙ יְהוָ֣ה צְבָאֹ֔ות – [haƏdon jhvh tseba:’ot]

“die HERE, my Heer, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “HERE, my Heer, Heerser oor alle magte” (GDS: Jes. 1:24)

יהוה – [jhvh]

“die HERE”, en as aanspreekvorm “HERE”.

יהוה אֱלֹהִים – [jhvh ’Ĕlōhīm]

“die HERE God”, en as aanspreekvorm “U, HERE God”.

יְהוָה֙‮‬ אֵ֣ל עֶלְיֹ֔ון – [jhvh El εljon]

“die HERE God, die Allerhoogste” (Gen. 14:22).

יְהוָ֣ה צְבָאֹ֔ות – [jhvh tseba:’ot]

“die HERE, Heerser oor alle magte”, en as aanspreekvorm “U HERE, Heerser oor alle magte”.

פַ֤חַד יִצְחָק֙ – [paxad jitsxa:k]

“die Vrees van Isak” (Gen. 31:42)

אֵל נוֹרָא – [El nora:]

“ontsagwekkende God”

Kliek hier vir ‘n drukkersvriendelike weergawe