Reaksie op ”Babelse verwarring oor die 2020 Bybelvertaling”

(Geredigeer op 29 Oktober 2020)

Sedert die publikasie van my mening getiteld: ”Babelse verwarring oor die 2020 Bybelvertaling”, het ek behoorlik deurgeloop onder die kritiek en kommentaar van links en regs. Dankie vir almal wat boodskappe van dank en ondersteuning gestuur het. Die belangstelling in die onderwerp wys dat daar broeders en susters is wat erns maak met die saak. Die reaksie van sommige bevestig ook hoe nodig dit is dat ons mekaar opskerp in die beginsels van Bybelvertaling, want daar is ongelukkig baie wanopvattings oor die onderwerp in omloop. Ek glo dit is en bly nodig om gesonde debat oor die 2020 vertaling (BDV) te voer.

Ek wil graag reageer op een van die opmerkings (wat ek beskou as opbouende kritiek) wat onder my aandag gekom het, en ek doen dit omdat ek die grootste respek en waardering het vir ds. Slabbert le Cornu en die wyse waarop hy verskil van my standpunt oor die gebruik van die Statevertaling in die 1933/53 Bybelvertaling. Ek ken ds. Slabbert al sedert 1995 en daarom weet ek dat hy die opmerkings gemaak het omdat hy self diep dink oor dié sake. Omdat ek ds. Slabbert ken as iemand wat opreg is en die Here lief het, voel ek dat ek aan hom ‘n antwoord verskuldig is op sy versoek om te reageer op sy vraag.

Ds. Slabbert se kommentaar kan hier gelees word. 

Ek reageer graag soos volg:

Ds. Slabbert, ek is terloops deur ‘n kollega gewys op u kommentaar op my artikel oor die 2020 vertaling. Ek neem vrymoedigheid om in kort hierop te reageer.

Eerstens, baie dankie vir die opmerkings oor die saak. En die gesindheid waarmee u die kritiek uitspreek. Ek ken u as iemand wat erns maak met die Woord en die Here opreg lief het.

Ek is dankbaar dat ek in die posisie is dat ek saam met u ook hard gewerk het aan die vertaling van die Statevertaling se kanttekeninge van Nederlands na Afrikaans en daarom kan ek die geleentheid gebruik om my opinie te lug in die lig van die feit dat ek betrokke was by beide die vertaling van die BDV én die Statevertaling se kanttekeninge na Afrikaans.

U is ook bewus daarvan dat ek ‘n voorstander is van ‘n vertaling in Afrikaans gebaseer op die Bisantynse meerderheidsteks en ek hoop dat dit ook nog eendag in die toekoms sal realiseer.

Vir beide die Statevertaling (SV) en die 1933/53 vertaling het ek die hoogste respek en het al dikwels vir mense wat my daaroor vra, gesê: ek is opgewonde oor die Statevertaling se kanttekeninge wat DV verskyn in Afrikaans want dit gaan ‘n kosbare skat vir die nageslag wees. Om dié rede hoef ons nie haastig te wees om te besluit of ons die 2020-vertaling aanvaar of nie. Maar ek is ook dankbaar vir die besluit dat die 2020-vertaling ‘n “hoofletter-uitgawe” kon kry, want anders sou ek nie graag die vertaling wou oorweeg nie. Ek soek saam met u na die beste vertaling vir die nageslag en bid dat die Here die Statevertaling se kanttekeninge, die 1933/53 vertaling asook die BDV sal gebruik in sy diens en tot uitbreiding van sy koninkryk.

Ek reageer kortliks op die volgende en sal graag later in meer besonderhede wil ingaan:

“Ons moet onthou dat hierdie vertaling (1933/53-slc) grootliks gebaseer was op die Nederlandse Statevertaling en nie uitsluitlik op die Hebreeuse en Griekse manuskripte van die Ou- en Nuwe Testament nie.” Ek besef dat die woord “grootliks” dalk verwarring skep, dankie daarvoor. Die opmerking is gemaak omdat ek daardeur onder andere wou onderstreep dat daar talle “Nederlandismes” in die 1933/53 vertaling voorkom, wat dikwels moeilik lees en na my mening op die vertaling van die Statevertaling (SV) gebaseer is. Ek gee ook verdere uiteensetting hiervan ondertoe.

Waarop ek aanvanklik in die artikel gereageer het, is die óf-óf scenario wat deur sekere boodskappe op sosiale media veronderstel word, waarna ek ook verwys het, terwyl ek al meermale gepleit het vir ‘n én-én benadering. Dit gaan dus primêr hier nie oor die SV en 1933/53 vertaling en die verband of verskille nie. Daarom sal ek nie graag op die saak wil fokus nie.

Ek het beklemtoon dat ek betrokke was by die hoofletter-uitgawe van die BDV, soos reeds gemeld, en ek beklemtoon hier dat ek ook self voorbehoude oor die 2020 vertaling het: ek het nog nie alles gesien nie, en wil ook eers self weeg en toets voor ‘n aanbeveling of waarskuwing gewaag word. Dit was ook nie die doel van die aanvanklike artikel nie.

Ek beveel dus aan dat almal wat opreg is en die Here liefhet, u suggestie aanvaar om self die BDV (met en sonder hoofletters) te lees sodat ingeligte besluite geneem kan word. As iemand meen ek het deur my mening “Babelse verwarring oor die 2020 Bybelvertaling” by voorbaat standpunt ingeneem dat die 2020 vertaling kritiekloos aanvaar moet word, maak hulle ‘n groot fout. Waarop ek egter wou fokus in my kommentaar, was om die mening dat die BDV met hoofletters ‘n “kompromie” is, te bevraagteken – en ek meen dit is nie waar dat dit ‘n kompromie is nie.

Ek wil graag meld, dat, omdat ek betrokke was by beide Statevertaling kanttekeninge en BDV, ek wel onder die indruk gekom het dat die 1933/53 vertaling dikwels nie die letterlike Griekse- of Hebreeuse teks gevolg het nie, maar die Statevertaling se teks. Daarmee erken ek ook dat daar heelwat verskille tussen die SV en die 1933/53 vertaling is: sodanig dat die SV soms ‘n beter vertaling van die grondteks is en die 1933/53 vertaling weer soms ‘n beter vertaling van die grondteks is.

Met hierdie agtergrond het ek die woorde “grootliks” gebaseer op die SV en “nie uitsluitlik die Griekse en Hebreeuse teks nie” bedoel. Ek nooi u om aan te toon waarom gesê sou kon word dat die SV nie “grootliks” ‘n rol gespeel het in die teks van dié vertaling nie. U maak ook tereg die opmerking dat dit nie ‘n probleem sou wees as ander vertalings geraadpleeg word wanneer ‘n teks vertaal word nie – ek stem volkome saam – ek het trouens die feit gemeld dat ek dink dit juis gebeur het met die 1933/53 vertaling.

U verwys na die inleiding voor in die Bybel:

Na my mening is die opmerking voor in die vertaling, naamlik: “DIE BYBEL, dit is die ganse Heilige Skrif wat al die kanonieke boeke van die Ou en Nuwe Testament bevat, oorgesit uit DIE OORSPRONKLIKE TALE….” eerlik bedoel om die feit dat die grondteks (oorspronlike tale) die bron van die vertaling was te beklemtoon, soos dit trouens ook in die Statevertaling gedoen is. Dink u nie die feit dat dieselfde aanhaling voor in die 1933/53 vertaling staan én in die SV (en woord-vir-woord ooreenkom), ook ‘n bewys kan wees dat die 1933/53 vertaling die SV gebruik het as verstekvertaling nie? Selfs al sou ons daaroor kon verskil, kanselleer dit nie die feit dat vertaalwerk moeisame werk is nie, en soms wil Grieks of Hebreeus net nie Afrikaans praat soos ons dit verstaan nie. Dan moet ‘n alternatief gesoek word. Die SV was myns insiens die alternatief en daarom volg die 1933/53 vertaling die Griekse/Hebreeuse teks letterlik, en waar daarvan afgewyk word, vind ons in baie gevalle die SV se weergawe (hoewel ek besef daar is ook verskille en die argument ook anderkant toe kan geld). Daar is talle voorbeelde hiervan en ek sal per geleentheid ingaan daarop. Ek is van mening dat dit soms gedoen is omdat die Statevertaling makliker verstaanbaar was in sekere gevalle en meer bekend aan die leser van destyds wat meer vertroud was met die Nederlandse vertaling, en soms omdat die Griekse/Hebreeuse teks meer as een vertalingsmoontlikheid gehad het.

Ek het nie hierdeur bedoel om die bona fides van die OAV vertalers te bevraagteken nie, maar om daardeur begrip te vra vir die feit dat geen vertaling ‘n finale uitgawe veronderstel nie, en daar selfs op die 1933/53 vertaling verbeteringe oorweeg kan word. Selfs die bekende prof. EP Groenewald het gemeen dat enige vertaling van die Bybel elke 30 tot 40 jaar opnuut vertaal behoort te word.

Samevattend dus: wat ek met “grootliks” bedoel het, was dat ek bewus is daarvan dat vertalings soos Latynse, Franse en ander vertalings onder meer geraadpleeg was in die 1933/53 vertaling – met reg (daaroor verskil ek nie met u nie), en met “uitsluitlik” het ek bedoel dat nie al die tekste in die 1933/53 vertaling ‘n direkte weergawe van die grondteks is nie, maar dat dit dikwels die weergawe van die SV en in ander gevalle ‘n weergawe van kanttekeninge in die Statevertaling vertaal het.

Ek is die eerste een wat sal erken dat dit soms nodig is om verskillende vertalings te raadpleeg voor iets in Afrikaans vertaal word, omdat ‘n mens dikwels nie direk van een taal in ‘n ander taal kan vertaal nie. Sê bietjie: “Boontjie kry sy loontjie” in direkte Engels en bewys die punt.

Ek sien uit om u kommentaar op die BDV te volg, en waardeer die positiewe gesindheid waarin u hierdie saak op die tafel plaas. Kom ons bid saam oor die saak, en ek aanvaar u oproep dat ons goeie gesprekke oor die BDV voer, want soos u tereg opmerk wil ons graag ‘n betroubare getroue vertaling gebruik in ons eie taal vir ons kerke, vir ons volks- en taalgenote.

Broedergroete
Gerrit Smit