Kommentaar op Bogaards se 5de artikel op die 2020 Bybelvertaling

Sedert die verskyning van my artikel, Babelse verwarring oor die 2020 Bybelvertaling en weer Reaksie op Babelse verwarring oor die 2020 Bybelvertaling, was daar oorweldigende reaksie (sommige positief en sommige negatief) oor Bybelvertalers se betrokkenheid by die 2020 Bybelvertaling. Die kommentaar is van belang vir my as 1) vertaler en deelnemer aan die projek, en 2) een van die verteenwoordigers van die 5 kerke wat betrokke was by die samestelling van die sogenaamde “hooflettervertaling” en 3) as iemand wat sedert die begin van die hooflettervertaling ‘n rol gespeel het. Dit is in die lig van laasgenoemde dat ek graag enkele opmerkings waag.

In persoonlike hoedanigheid

Aangesien ek nie namens my mede-kollegas wat deelgeneem het aan die vertaling en die hoofletterteks praat nie, en geensins in ‘n posisie is om voor te gee asof ek namens enige kerk, gemeente of groep praat nie, lewer ek hier in persoonlike hoedanigheid kommentaar na oordeel en behoefte. Ek wil ook geensins die idee skep dat ek voorspraak maak vir dié vertaling nie. Ek beperk dus my kommentaar tot die hooflettervertaling se hooflettertekste. Meer as dit, is nie my fokus of doel nie.

Ek is bewus dat ek nie vir u al die antwoorde het nie, maar ek meen ek is mede-verantwoordelik om ten minste te help om antwoorde te formuleer vir dominees wat in hulle gemeentes oor hierdie onderwerp uitgevra word, aangesien daar baie min inligting oor die 2020 vertaling beskikbaar is en baie oningeligte opinies die rondte doen. Dit is die bedoeling van my kommentaar.

Soos reeds vroeër gemeld, is ek van plan om hier van tyd-tot-tyd kommentaar te lewer op artikels wat oor die 2020 Bybelvertaling (hoofletter-uitgawe) verskyn. Dit handel oor die tekste, werkswyse, vertaalteorie en vertalingskeuses wat gevolg is in die vertaling van die hooflettertekste in die 2020 Bybelvertaling. Ek probeer ook lig werp op die vraag waarom sekere tekste skynbaar “uitgelaat” is.

Ek wil graag in hierdie deel kommentaar lewer op ‘n artikel van dr. Attie Bogaards oor die 2020 vertaling met hoofletters. Die artikel is getiteld: Artikel 5 vir lidmate oor die 2020-vertaling en kan hier gelees word.

Ek wil begin deur te meld dat ek persoonlik in korrespondensie met dr. Bogaards was. Om dié rede beperk ek my tot algemene feite om lidmate en kollegas te help met antwoorde oor die 2020 vertaling.

Ek wil ook meld dat ek die wyse waarop dr. Bogaards en sekere ander die debat voer, opreg waardeer, en wil geensins die idee skep dat ek dr. Bogaards se bona fides bevraagteken nie. Ek wil graag egter enkele punte wat deur dr. Bogaards aangeraak is, vanuit die vertalers en veral dié wat aan die hooflettervertaling gewerk het, se perspektief belig. Dalk help dit iemand wat beide artikels gelees het met ‘n paar belangrike feite?

Ek haal enkele opmerkings uit die gemelde artikel van dr. Bogaards aan, en gee dan vervolgens kortliks my kommentaar daarop, soos volg…

Geen vertaling is volmaak nie

Op p. 4 van Bogaards se artikel, vind u aanhalings uit my artikel waarna ek hier bo verwys het, en hy gaan voort om enkele probleme met die hooflettervertaling uit te wys.

My kommentaar op bogemelde: Ek glo dat elke Bybelvertaler en eksegeet sal erken dat dié vertaling nie volmaak is nie, en dat daar foute in dié vertaling en voorwoord uitgewys kan word, soos ek ook self hier onder andere gedoen het. Soortgelyke tekortkominge sou trouens ook in die geval van ander vertalings uitgewys kon word.

 

Vertaalopdrag

Dr. Bogaards meld op p. 5: “Die Hoofletter-vertaling het net hoofletters gaan invoeg en het nie verkeerde vertalings reggemaak nie”.

My kommentaar op bogemelde: Die komitee het die opdrag gehad om ‘n hooflettervertaling die lig te laat sien. Die opdrag was: “Dat hoofletters in Ou-Testamentiese tekste wat in die 1933/1953-vertaling met hoofletters geskryf is, so behou word, asook Ou-Testamentiese tekste wat deur skrywers in die Nuwe Testament op Jesus as die Christus van toepassing gemaak word, mits daar konsensus daaroor in die komitee bestaan“.

 

”God” of ”goddelike wese” in Ps. 45:7?

Oor Ps. 45:7 se vertaling van אֱ֭לֹהִים עֹולָ֣ם as “o Goddelike wese” stem ek saam dat ‘n alternatiewe vertaling eerder sou pas. Ek meen dit kon lees: “o ewige God” of “o God van ewigheid” of “o God tot (in) ewigheid”. Dit is wel ook moontlik om die majesteitsmeervoud te vertaal as “goddelike” soos die vertaling hier gedoen het.

Ek gee toe dat dat dit hier uitsluitlik oor “God” gaan, en dus eerder so vertaal kon word. Hou egter in gedagte dat die opdrag van die komitee, soos reeds aangedui, nie was om vertalings van frases in die 2020 vertaling te wysig nie, maar om te fokus op die hoofletters. Ek wil egter daarop wys dat dit nie korrek is dat die hoofletterkomitee die voetnotas in Ps. 45:7-8 misgekyk het en dat die voetnota in botsing kom met die teks nie (vergelyk Bogaards, p. 5). Die leser sal voor in die 2020 vertaling met hoofletters ‘n los bladsy kry met errata wat aandui dat Ps. 45:7 se voetnoot “f” moet wees “Koning” en nie “koning” nie. Dit was ongelukkig ‘n drukfout in die teks wat met errata reggestel moet word en nie die toedoen van die hoofletterkomitee nie. Dieselfde geld in die geval van Ps. 2:2, voetnoot “d” en “e” wat volgens die goedgekeurde vertaling moes lui: “Gesalfde”, “Koning” en “Koning” onderskeidelik (verwys na errata in 2020 hooflettervertaling) en nie deur die komitee “misgekyk” is nie. So ook etlike ander tekste in die errata aangedui.

Lees ook hierdie artikel van my wat spesifiek oor die vertaling van Ps. 45:7-8 handel

Wat van Christus in Maleagi 3:1?

Wat Maleagi 3:1 betref, waarna dr. Bogaards verwys as een van die tekste wat “oorgeslaan” is, was daar nie konsensus dat die teks in vers 1 alleen oor Christus handel nie. In Matt. 11:10; Mark. 1:2; Luk. 1:76; 7:27; Joh. 3:28 word die teks gebruik as heenwysings na Johannes die Doper. Hier is natuurlik ook ‘n treffende ooreenkoms met Moses, wat as tussenganger tussen God en sy volk opgetree het. Die konsensus in die komitee was dat die meerderheid tekste in die Nuwe Testament nie die vers met ‘n hoofletter veronderstel nie, en dus ontstaan die vraag of die res van die vers oor die koms van Johannes handel of die koms van Christus? ‘n Mens moet toegee dat verse 2 en verder oor Christus handel, en om dié rede word “Hy” (‘n hoofletter) voortaan in die teks in die volgende verse van die 2020 hooflettervertaling gebruik.

 

Ten slotte

Ek glo dat dit vir elke Bybelleser belangrik is om antwoorde te kry op vrae oor die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling, en veral om lidmate te help om te besluit of die 2020 vertaling met hoofletters vir hulle persoonlik bruikbaar en aanvaarbaar sou wees. Ek is bewus van mede-gelowiges wat self ook heelwat inweeg op hierdie onderwerp, bv. hierdie artikel waarvan u ook gerus kennis kan neem.

Met die lewer van kommentaar veronderstel ek nie dat die vertaling deur enige kerk of groep as amptelike vertaling aanvaar sal word, of aanvaar moet word nie. Dit veronderstel egter wel dat ons as gelowiges die verantwoordelikheid het om die 2020 vertaling (met hoofletters) te weeg in die lig van God se openbaring aan ons in sy Woord, en die produk wat gelewer is in die 2020 vertaling (met hoofletters) in die lig daarvan te beoordeel.