Verwys ’Ĕlōhīm altyd na God in die Bybel?

In Psalm 45:6 en 7 vind ons die Hebreeuse woord ’Ĕlōhīm (God/gode).

Wat het die 2020 Afrikaanse Bybelvertaling daarmee gemaak?

Hoe die verse vertaal word

In die Afrikaanse vertalings word die verse waarin die woord ’Ĕlōhīm voorkom, soos volg vertaal:

1953-vertaling

7U troon, o God, is vir ewig en altyd; die septer van u koninkryk is ’n regverdige septer.

8U het geregtigheid lief en haat goddeloosheid. Daarom het, o God, u God U gesalf met vreugde-olie bo u metgeselle.

1983-vertaling

7U troon, verhewe wese, staan vir altyd vas, met u koninklike septer laat u geregtigheid geskied.

8U het die reg lief en u haat die onreg, want, verhewe wese, onder groot vreugde het u God u bo u tydgenote tot koning gesalf.

2020-vertaling (Kleinletter )

7 U troon, o goddelike wese, is vir altyd en ewig, die septer van u heerskappy is ‘n billike septer.

 8 U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom, o goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf — meer as u vriende.

2020-vertaling (Hoofletter)

7 U troon, o Goddelike wese, is vir altyd en ewig, die septer van u heerskappy is ‘n billike septer.

 8 U het geregtigheid lief en u haat goddeloosheid. Daarom, o Goddelike wese, het u God u met olie van vreugde gesalf — meer as u vriende.

 

’Ĕlōhīm vertaal met ”God” in Ps. 45

In ‘n onlangse artikel word die stelling gemaak dat die aanspreekvorm ’Ĕlōhīm 205 kere in die Ou Testament voorkom en in al die gevalle word dit net van toepassing gemaak op die God van Israel. Om dié rede, meen die skrywer, kan die 2020 vertaling nie die woord ’Ĕlōhīm gebruik as aanspreekvorm in Ps. 45:6 en 7 anders vertaal het as “o God” nie.

Hoewel die vertaling “Goddelike wese” na my mening vir ons moontlik nie die beste vertaling in die konteks is nie, omdat ons mos die teks Messiaans verstaan, laat die genoemde artikel die vraag ontstaan of daar bybedoelinge was met die vertaling van die woord ’Ĕlōhīm, veral omdat die afleiding deur sommige lesers gemaak word dat daar geen voorbeelde in die Ou Testament is waar ’Ĕlōhīm anders vertaal word as “God” nie?

 

Word ’Ĕlōhīm net vertaal met ”God” in die Bybel?

Aangesien daar tans weer heelwat kritiek op die 2020 vertaling die rondte doen, moet ons besef dat stellings soos hier bo graag deur opportuniste gebruik word om die hele vertaling af te maak en verdag te laat voorkom.

Op die gebruik van ’Ĕlōhīm in die Ou Testament wil ek vervolgens kortliks reageer deur uit te lig dat, hoewel ek bewus is dat die gemelde artikel na ’Ĕlōhīm in die aanspreekvorm in die Ou Testament gebruik word met verwysing na die God van Israel of “God” (met ‘n hoofletter), dit nie korrek is om daaruit af te lei dat al die gevalle waar ’Ĕlōhīm in die Hebreeuse teks voorkom, dit slegs na God (met ‘n hoofletter) in vertalings kan verwys nie. Daar is talle voorbeelde van die teenoorgestelde in die Hebreeuse Ou Testament.

 

Voorbeelde waar ’Ĕlōhīm nie ”God” is nie

Exodus 12:12 

”En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die HERE “(1953 vertaling)

Hier word wel nie die woord ’Ĕlōhīm aangetref in die absolutus vorm nie maar Ĕlōhei (’Ĕlōhīm in die status constructus, ml. mv. gebruik as genitiefkonstruksie). Dit is egter die stamvorm van die woord ’Ĕlōhīm wat ons hier aantref en word vertaal met “gode”

Eksodus 18:11

”Nou weet ek dat die HERE groter is as al die gode… “(1953 vertaling)

Die woord ’Ĕlōhīm word hier vertaal met gode.

Josua 24:20 

”As julle die HERE verlaat en vreemde gode dien….” (1953 vertaling)

Dit is die stamvorm van die woord ’Ĕlōhīm wat ons hier aantref en word vertaal met “gode”.

Josua 24:23

”Verwyder dan nou die vreemde gode wat onder julle is…” (1953 vertaling)

Dit is die stamvorm van die woord ’Ĕlōhīm wat ons hier aantref en word vertaal met “gode”.

Psalm 82:1

”God staan in die vergadering van die gode; Hy hou gerig te midde van die gode.” (1953 vertaling).

Die woord ’Ĕlōhīm word hier vertaal met gode.

 

Dit is ook nie vreemd om die koning of owerheid ’Ĕlōhīm te noem nie

Exodus 21:6

“…dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring” (1953 vertaling).

Die woord ’Ĕlōhīm word hier vertaal met “owerhede”.

Exodus 22:8 (Hebreeuse teks vers 7)

”As die dief nie uitgevind word nie, moet die eienaar van die huis na die owerhede gaan…” (1953 vertaling)

Die woord ’Ĕlōhīm word weer hier vertaal met “owerhede”.

Exodus 22:9 (Hebreeuse teks vers 8)

”…moet die saak van altwee voor die owerhede kom….” (1953 vertaling)

Die woord ’Ĕlōhīm word weer hier vertaal met “owerhede”.

 

Waarom ek nie oordeel die aanspreekvorm (vokatief) verwys net na God (hoofletter) nie

Ek is van mening dat die argument dat ”o God” (aanpreekvorm) slegs van toepassing is op die Hebreeuse teks en nie bv. die Septuagint-teks van Psalm 45 nie, wat die teks sou wees waarmee die vroeg-Christelike kerk oor die Psalm gedink het. Om die afleiding te maak dat die woord slegs op een manier vertaal word wanneer dit met die aanspreekvorm gepaard gaan, blyk nie konsekwent te wees nie. Na my mening is die argument afhanklik van watter vertaling van die frase ter sprake is. Met ander woorde: Ek dink aan heelwat voorbeelde in die kerkvaders waar θεὸς (Grieks vir God) in die vokatief (aanspreekvorm) ‘n aanspreekvorm vir die gode is. Dit maak my gevolglik huiwerig om af te lei dat ’Ĕlōhīm in die vokatief in alle gevalle God (met ‘n hoofletter) is en of dit nie afhang van die vertaler se interpretasie nie? Ek verstaan egter die gemelde skrywer se argument dat waar die woord ’Ĕlōhīm in die vokatief voorkom, dit “o God” in die 1953 vertaling vertaal is. Maar dan vra ek: sluit dit enige ander vertalingsmoontlikhede uit omdat een vertaling dit anders gedoen het? Dan blyk die argument vir my eerder vertalings-gebaseer te wees, en nie teks-gebaseer nie.

Slotopmerking

Ek stem saam dat, indien ‘n mens Psalm 45 Messiaans verstaan (soos ons mos doen), dit vreemd sou wees om ’Ĕlōhīm hier anders te verstaan as met betrekking tot God. ‘n Mens moet egter bewus wees daarvan dat die 2020 vertaling (met kleinletters) die koning van Israel hier in gedagte het, en dus sou dit onvanpas wees om van van hom as “God” te praat. In die 2020 hooflettervertaling word die woord “Goddelike wese” gevind, wat volgens konsensus by die Werkgroep vir Hoofletters, heenwys na Christus, die Seun van God en dus Messiaans verstaan moet word. Aangesien die woord “Goddelike wese” met ‘n hoofletter vertaal word in die 2020 vertaling met hoofletters, is daar na my mening geen twyfel wie dié Goddelike wese is nie, en vind ons in die voetnoot “f” van hierdie vers ‘n hoofletter waar verwys word na die Koning, en ook ‘n opmerking: Word ook vertaal as ‘God’.

Daar bestaan dus geen twyfel Wie die Goddelike wese op die troon is in Ps. 45:7 en 8 nie.

 

***Die artikel is geredigeer na die publisering van die oorspronklike, nadat dr. Bogaards my gewys het dat ek moontlik verkeerd verstaan het wat hy bedoel. Ek meen ek het verstaan wat bedoel word maar redigeer nietemin om duideliker oor te kom.