Toewydingsgeleentheid 2020 vertaling

Die bekendstelling, oftewel toewydingsgeleentheid van die 2020 Bybelvertaling, het gister (29 November 2020) in Bloemfontein plaasgevind. Weens die COVID-19 inperkings was slegs ‘n paar medewerkers wat deelgeneem het aan die vertaling teenwoordig. Dit was nietemin ‘n mooi geleentheid.

Verrigtinge

Tydens die geleentheid is die 2020 vertaling namens die Redaksionele komitee van die 2020 vertaling aan die Bybelgenootskap van Suid-Afrika oorhandig, waarna die 2020 vertaling amptelik aan die medewerkers oorhandig is.

Die Skriflesing was behartig deur myself, en prof. Andries Breytenbach, waarna prof. Bernard Combrink ‘n boodskap gelewer het oor die Woord wat vlees geword het en die Woord wat Skrif geword het en hoe die belydenis van Christus as die opgestane Here en Verlosser die gelowige troos gee te midde van ‘n vyandige wêreld en te midde van die feit dat ons dikwels voel soos vreemdelinge en bywoners op aarde.

Prof. Jorrie Jordaan het die verrigtinge afgesluit. Hier onder kan u die program sien:

Eenmaal in ‘n geslag

Dit gebeur gewoonlik net eenmaal in ‘n geslag dat ‘n nuwe Bybelvertaling die lig sien. Sedert die eerste Bybel in Afrikaans verskyn het in 1933 (die 1953 vertaling was net ‘n redaksionele verwerking van die 1933), het 50 jaar verloop voordat die 1983 vertaling bekend gestel is, en sedert die 1983 vertaling bekendgestel is, het 37 jaar verloop totdat die derde vertaling van die Bybel in Afrikaans die lig gesien het.

Of jy belangstel om die 2020 vertaling te gebruik, is  nie nou ter sake nie. Wat wel ter sake is, is dat dit waarskynlik nie weer in ‘n groot meerderheid van die gelowiges wat tans leef, se lewe sal gebeur dat daar ‘n amptelike Afrikaanse vertaling verskyn nie**.

En om hierdie rede, kan ons almal dankbaar wees dat ons God se Woord in ons moedertaal – Afrikaans – kan lees!

Indien u die opname van die verrigtinge wil sien, kyk hier onder. Ongelukkig is die klank plek-plek nie baie goed nie. Die verrigtinge begin by 21:00 minute.

**Kyk uit vir ‘n artikel wat binnekort verskyn waarin ek verduidelik waarom daar slegs 3 amptelike Afrikaanse Bybelvertalings is.