2020 vertaling met hoofletters: die gebruik van ”Jy” en ”Jou”

Enige leser wat jare lank veral die 1933/53 Bybelvertaling gebruik, sal gou ‘n verskil tussen die bekende teks van dié vertaling en die 2020-vertaling opmerk in terme van die gebruik van die voornaamwoorde ”jy” en ”jou” in plaas van ”u”, veral in die Ou-Testamentiese Messiaanse tekste, maar ook op ander plekke.

Vergelyk bv. die volgende tekste:

Psalm 2:7

”Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer” – 1953 vertaling.

”Hy het vir my gesê: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader” – 1983 vertaling.

”Die Here het vir my gesê: Jy is my Seun, vandag het Ek Jou verwek” – 2020 vertaling hoofletteruitgawe.

 

en Matteus 21:23

”Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U hierdie gesag gegee?” – 1953 vertaling.

”Met watter gesag doen u hierdie dinge? En wie het u hierdie gesag gegee?” – 1983 vertaling.

”Op watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het aan jou hierdie gesag gegee?” – 2020 vertaling hoofletteruitgawe.

 

en Johannes 13:36

”Simon Petrus sê vir Hom: Here, waar gaan U heen?” – 1953 vertaling.

”Simon Petrus vra toe vir Hom: “Here, waarheen gaan U?”” – 1983 vertaling.

”Simon Petrus vra Hom toe: ”Here, waarheen gaan U?”” – 2020 vertaling hoofletteruitgawe.

 

”Jy” en ”Jou” teenoor ”U”

Die leser sal in die 2020 hoofletteruitgawe opmerk dat Ps. 2:7 hoofletters ”Jy” en ”Jou” het, teenoor Matt. 21:23 wat ”jy” en ”jou” (kleinletters) vertaal, en weer teenoor Joh. 13:36 wat ”U” vertaal. Dit gaan in al 3 voorbeelde oor Christus.

Eerstens behoort gemeld te word dat die Werkgroep vir hoofletters in die Ou Testament, wat gewerk het aan die hoofletter-uitgawe van die 2020 vertaling, lank oor dié saak gepraat het, dat die bekende voornaamwoord ”U” gebruik moet word wanneer na Christus in die Ou Testament verwys word. Die besluit van die 2020 vertaling se redaksionele komitee was egter dat volstaan word met die gebruik van die voornaamwoorde soos in die 2020-vertaling (met kleinletters) behalwe waar hoofletters ter sprake is in die hoofletteruitgawe, om te voorkom dat die 2 uitgawes wesenlik van mekaar verskil.

Simmetriese en a-simmetriese verhoudings

Ek verduidelik die motivering vir die verskille in die gebruik van die voornaamwoorde met ‘n skematiese voorstelling.

Daar is verskillende ”vlakke” van gesagsposisies of verhoudings ter sprake wanneer tekste na Christus verwys. Ons kan verwys na ‘n ”simmetriese” verhouding (gelyke verhouding) teenoor ‘n ”a-simmetriese” verhouding (ongelyke verhouding).

In Figuur 1 sien ons ‘n voorstelling van die gelyke verhouding (of simmetriese verhouding) tussen die Vader en die Seun in Psalm 2:7

FIGUUR 1

Omdat hier van ‘n gelyke verhouding ter sprake is tussen die Vader wat die Seun aanspreek, word ”Jy” en ”Jou” in die aanspreekvorme hier en op ander soortgelyke plekke gebruik.

In Figuur 2 sien ons ‘n voorstelling van die on-gelyke verhouding (of a-simmetriese verhouding) tussen die skrifgeleerdes en Christus. In werklikheid weet ons dat die verhouding tussen Christus en die skrifgeleerdes a-simmetries is omdat Hy hulle meerdere is (vergelyk Figuur 3). Maar, na die mening van die skrifgleerdes, is hulle Christus se meerdere, en beskou hulle wel die verhouding tussen hulle en Christus as a-simmetries, maar nie soos in Figuur 3 nie. Hulle meen die verhouding is soos in Figuur 2.

FIGUUR 2

Dit is mos ondenkbaar dat die Fariseërs en Sadduseërs, wat ‘n rede gesoek het om Jesus om die lewe te bring (vgl. Matt. 26:3-4 en ander plekke), Hom sou aanspreek as ”U” (eerbiedsvorm)! Daarom word die voornaamwoorde ”jy” en ”jou” in Matt. 21:23 en talle ander plekke gebruik.

In Figuur 3 sien ons ‘n voorstelling van die on-gelyke verhouding (of a-simmetriese verhouding) tussen die dissipels en Christus. In hierdie geval is Christus as Here en Meester die dissipels se meerdere (vgl. Joh. 13:14) en word ook so deur hulle aanvaar. Om dié rede word die eerbiedige aanspreekvorm ”U” in die 2020 vertaling gebruik.

FIGUUR 3

Samevatting

Of jy saamstem met die gebruik van die voornaamwoorde ”Jy” en ”Jou” in die simmetriese en a-simmetriese verbande in die teks van die 2020-vertaling, of nie – ten minste weet jy nou waarom die verskille in die vertaling bestaan.