Die herwinning van die klassieke Christelike tradisie in die onderwys

Die AP Akademie tree as Vaandelborg vir Kragdag 2025 op wat DV 7-9 Augustus 2025 plaasvind. Hiérdie artikel is ‘n meer uitgebreide bespreking van ‘n artikel met dieselfde titel wat later vanjaar in Kragdag se Nuusblad sal verskyn.

Opsomming: Hierdie artikel ondersoek die herwinning van die klassiek-Christelike tradisie (KCT) binne die moderne onderwysstelsel. Die KCT verbind klassieke filosofie met Christelike teologie en beklemtoon die vorming van die hele mens, naamlik die verstand, hart en siel, deur ’n liefde vir waarheid, goedheid en skoonheid by die student te kweek. Binne hierdie benadering, word onderwys gesien as ‘n roeping, waar die onderwyser of dosent as “paidagogos” die student begelei tot karaktervorming en ontdekking van hul roeping, eerder as net kennis oordrag. Die artikel plaas hierdie benadering in kontras met uitkomsgebaseerde onderwys (UGO), wat leerdergesentreerd is, fokus op meetbare uitkomste, en die illusie bevorder dat alle leerders gelyke resultate kan behaal. Aangesien die UGO-stelsel oorheersend is, word voorgestel dat die gees van die KCT herstel word binne bestaande strukture. Dit behels praktyke soos die gebruik van klassieke tekste, estetiese vorming, en gesprekke oor die betekenis van waarheid, goedheid en skoonheid. Die pedagoog moet self as model van deug optree. Die artikel eindig met die siening dat ware opvoeding die vorming van die siel is, nie net akademiese prestasie behels nie. Onderwys word so ’n daad van geestelike en morele begeleiding tot volwassenheid.

Lees die volledige artikel hier…

‘n Eeue-oue vraag: Waarom doop ons kinders?

Ons leef in ’n tyd waarin Bybelse gebruike en kerklike tradisies dikwels bevraagteken word. Een van hierdie vraagtekens handel oor die doop van kinders. Dit is ‘n vraag wat sedert die beginjare van die Christelike kerk gevra word en wat dikwels in ons tyd herhaal word wanneer mense vra: Moet ‘n persoon nie eers tot geloof kom voordat hulle gedoop word nie?

Lees verder…

Die wêreld het meer sulke pa’s nodig!

Die wêreld benodig goeie pa'sSondag is Vadersdag! Ons moet natuurlik elke dag vaders se rol in die samelewing en in ons gesinne waardeer en koester, nie net op dié spesifieke dag nie, maar vadersdag bied ’n unieke geleentheid om te fokus op hoe belangrik pa’s se rol in gesonde gesinne is. Dit skep ’n geleentheid om dankbaarheid te wys aan elke vader wat dié belangrike rol ernstig opneem.

Lees meer…

Waar kom die gebruik van bidure vandaan?

Die Handelinge-boek noem meermale dat die eerste gelowiges “eendragtig volhard het in die gebed” (Hand. 1:14; vgl. ook 2:42, 4:24, 12:5). Dit was dikwels in die konteks van afwagting, tydens vervolging of wanneer ‘n groot sendingpoging aangewend is. Die gebed was nie net individueel in die binnekamer nie, maar ook gesamentlik as gemeente. Dit het dikwels in huise, soms in die tempel, en later tydens die groot vervolging van die kerk, selfs in ruimtes soos katakombes plaasgevind.

Lees meer…

Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (5): Jean d’Arc

Daar is party name wat net eenvoudig mense se verbeelding aangryp as jy dit hoor. Een so naam is dié van Johanna van Arkel (Engels: Joan of Arc). Hoewel sy in die Middeleeue leef, klink haar lewe byna soos wat die Hebreërskrywer die wêreld se hantering van geloofshelde beskryf in Hebreërs 11:32-40. En daarom verdien sy haar plek in ons reeks oor besondere vroue in die kerkgeskiedenis.

Lees meer…

Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (2) – Ester

Ester se verhaal staan soos ’n vlam van hoop in ‘n donker, ongehoorsame wêreld. Sy tree nie op in ‘n tyd van wonderwerke of profetiese visioene nie. Inteendeel, die boek wat haar naam dra, noem nie eers die Naam van God nie. Maar juis hierin lê die krag van die getuienis van die boek Ester. Ester wys vir ons dat die Heilige Gees nie net werk in dramatiese openbarings nie, maar ook in die stil vasberadenheid van ’n vrou wat gehoorsaam is in tye van krisis.

Lees meer…

Teen die stroom van wanpersepsies: Afrikaners, grond en Bybelse geregtigheid

Foto geneem vanaf: https://www.denisonforum.org/daily-article/trumps-contentious-meeting-with-south-africas-president/

In hierdie week se artikel getiteld: Teen die stroom van wanpersepsies: Afrikaners, grond en Bybelse geregtigheid, fokus ek op ’n onlangse artikel deur Denison Forum in die VSA oor president Donald Trump se ontmoeting met mnr. Ramaphosa, waarin beweer word dat die rede vir die misdaad in Suid-Afrika toegeskryf kan word daaraan dat die helfte van die grond in die land aan wit mense behoort, wat Afrikaners na hierdie mening op onregmatige wyse in die verlede verkry het. Ek verwys na die publikasie, Disputed Land, van Louis Changuion en Bertus Steenkamp en bespreek waarom dit ook nodig is dat ons in hierdie debat moet vra wat die Bybel oor grondbesit leer.

Lees meer…

Afrikaans 100: Taal as gawe van God

Die Taalmonument in Paarl
(Foto geneem vanaf: https://southafrica.co.za/taalmonument-paarl.html)

Op 8 Mei 2025 vier ons die honderdjarige herdenking van Afrikaans as amptelike taal. Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925 het status verleen aan Afrikaans as dié inheemse taal wat binne dekades sou ontwikkel van “kombuistaal” tot wetenskapstaal. Vanjaar se viering bied ‘n geleentheid om stil te staan by die waarde van taal in die lig van die Skrif.

Lees meer…

Die Martelaarskap van Polukarpus: ‘n Boodskap van volharding en oorwinning

Wanneer die geskiedenis van die kerk onder die vergrootglas geplaas word, word dit gou duidelik dat die lydenspad dikwels oor die weg van gelowiges kom. Die apostels en die leiers van die vroeë kerk moes daagliks die kruis opneem, letterlik en figuurlik. Een so ’n merkwaardige figuur is Polukarpus van Smirna – ’n apostoliese vader, leerling van die apostel Johannes, en ’n martelaar wie se getuienis tot vandag toe in die kerk weerklink. In hierdie artikel bespreek ek die martelaarskap van Polukarpus, soos opgeteken in die brief van die gemeente van Smirna, om dit weer aan die kerk van die 21ste eeu voor te hou as voorbeeld van getrouheid te midde van verdrukking.

Lees meer…

Die liturgiese karakter van werkersdag in die sosialistiese revolusie

Werkersdag, of Arbeidersdag, soos dit in baie lande bekend staan, word jaarliks op 1 Mei gevier. In Suid-Afrika en wêreldwyd het dié dag ‘n simboliese betekenis as ‘n huldeblyk aan die stryd van arbeidersbewegings deur die geskiedenis heen. Tog lê daar agter hierdie dag ‘n sterk ideologiese oorsprong wat sy wortels het in sosialistiese denke. Hoewel die dag nie ‘n Christelike karakter het nie, het die kerk wel ‘n profetiese roeping om ook op dié markplein van idees God se Woord te laat hoor. In hierdie artikel bespreek ek die herkoms van die dag, en wys op die huidige liturgiese karakter van werkersdag in die sosialistiese revolusie.

Lees meer…

Wie is die volgende Roomse Pous?

Met die dood van pous Francis die afgelope week, kom heelwat interessante vrae na vore. Een daarvan is: wat gebeur gewoonlik as die pous doodgaan? Hoe besluit die Roomse kerk wie die volgende pous is?

In hierdie artikel word gekyk na die gebruike van die Roomse kerk rondom die verkiesing van die pous, iets wat vir gereformeerdes onbekend is en tog interessant is om van kennis te neem, en wat die gereformeerde belydenis daaroor te sê het.

Lees meer…

Die gebruik van die woord ‘natuur’ in Romeine 1

Die afgelope paar jaar is daar veral van die kant van die Skrifkritiek (en hulle invloed op die kerk) toenemend gesprekke oor die gender-vraagstuk. Die Bybel beskou geslagtelikheid egter slegs as “manlik” en “vroulik”. Die mens word na God se beeld geskape. Dit beteken nie dat God ‘n geslag het nie, maar dat die menslike bestaan in hierdie twee vorme die beeld van God reflekteer in ’n komplementêre verhouding. In Genesis 2 word verder uitgebrei: Eva word uit Adam geskep as sy “helper wat by hom pas” (Genesis 2:18). Hierdie skeppingsorde impliseer ’n doelbewuste en aanvullende verhouding tussen die geslagte.

Die Bybel erken en bevestig die liggaamlike verskille tussen man en vrou as deur God ontwerp (vgl. Levitikus 18 en 20), naamlik bv. moederskap en vaderskap word as deel van God se skepping gesien en hou verband met geslagsverskille. Die verskillende rolle in die huwelik en gesin is juis gebaseer op hierdie verskille (Efesiërs 5:22–33).

Ten spyte van sommige teoloë se argument dat homoseksualiteit ‘n vraagstuk was in die Ou Testament of ten minste in die Grieks-Romeinse kultuur verband gehou het met die wyse waarop die heidene hulle godsdiens gevier het, het Jesus Christus self bevestig dat daar ‘n godgegewe skeppingsorde is: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie…” (Mattheus 19:4)?

In hierdie artikel fokus ek op een van die tekste wat onder skoot is te midde van die gesprek oor geslagtelikheid, naamlik Romeine 1.

Paulus se gebruik van natuur in Romeine 1 funksioneer op drie vlakke:

  1. Openbaringsvlak – Die natuur openbaar God aan almal.
  2. Normatiewe vlak – Die natuur stel ‘n standaard vir menslike gedrag.
  3. Oordeel– Die verwerping van die natuur soos God dit geskape het bring die oordeel van God.

Lees meer…

Moet ons in die letterlike opstanding van Christus glo?

In ’n tyd waar sekularisasie nie net ’n wêreldbeskouing is nie, maar baie mense se manier van dink geword het, word die opstanding van Christus dikwels herinterpreteer as ’n simboliese waarheid of ’n geestelike metafoor. Soos Alan Noble opmerk, is dit nie dat mense aktief teen die idee van ’n opstanding as ‘n wonderwerk gekant is nie, maar dat hulle dit eenvoudig nie as ’n moontlikheid oorweeg nie omdat dit nie met die menslike verstand of die moderne wetenskap wat wil bewys, rym nie. Hierdie sekulêre verbeelding stel ons voor die vraag: Is dit redelik om in die 21ste eeu in die letterlike, liggaamlike opstanding van Jesus Christus te glo?

Lees meer…

Paasfees: Hasies en eiers of ’n rowwe houtkruis?

Ons staan op die vooraand van Paasfees. Die tema van ‘n Bybelskolingsgeleentheid wat ek onlangs aangebied het, was: Paasfees: Hasies en eiers of ’n rowwe houtkruis?

In hierdie artikel verwerk ek die inhoud en vra wat gebeur het van die vroeg-Christelike kerk se viering van Paasfees tot vandag? Gelowiges word verder opgeroep om die Christelike viering van Paasfees te herwin.

Elke jaar met die aanbreek van die Paastyd vul winkels hul rakke met sjokoladehase, gekleurde eiers, en vrolike versierings. Kinders sien uit na die sogenaamde “paaseier-soektog”, en gesinne beplan lekker kuiergeleenthede. Daar is egter ’n groter vraag wat Christene moet vra: is dít Paasfees? Wat vier ons regtig met hierdie fees? En hoe het ons gekom van ’n graf wat oopgebreek is op ’n Sondagoggend tot ’n paashaas wat eiers bring?

Lees meer…

Palmsondag

Vandag vier kerke oor die wêreld Palmsondag. Palmsondag, die laaste Sondag voor Paasfees, verteenwoordig in die geskiedenis van die kerk die aanvang van die heilige week in die Christelike liturgiese kalender. Hoewel die dag tradisioneel meer in die Rooms-Katolieke kerk herdenk word, word dit wel in Protestantse kerke, onder andere in die Lutherse kerk gevier. Hierdie dag herdenk ’n belangrike laaste deel van Christus se aardse bediening, naamlik Sy intog in Jerusalem. Die gebeure van hierdie dag, wat in al vier die Evangelies (Mattheus 21, Markus 11, Lukas 19 en Johannes 12) beskryf word, het plaasgevind teen die agtergrond van politieke spanning, godsdienstige verwagting en die vervulling van Ou-Testamentiese profesieë, spesifiek dié van Sagaria 9:9.

Lees meer…

Wat het van Riebeeck se gelofte en die Dordtse Leerreëls met mekaar te doen?

 Jan van Riebeeck (1652)

Ons vier op 6 April Stigtingsdag, wat die koms van Jan van Riebeeck aan die Kaap van Goeie Hoop herdenk.

In hierdie artikel poog ek om ‘n ander invalshoek op die herdenking van die geleentheid te gee, naamlik die vraag: wat die Dordtse Leerreëls te doen het met die herdenking van van Riebeeck se gelofte?

Lees meer…

Die gee van tiendes in Gereformeerde perspektief

Die onderwerp van tiendes is vir baie gelowiges ’n saak van geloofsoortuiging en finansiële verantwoordelikheid. Sommige gelowiges gee nie graag tiendes nie, en soek allerhande verskonings om die verantwoordelikheid af te skuif.

Lees meer…

Afrikaanse Bybel 90 jaar!

Op Sondag 27 Augustus 1933 is die Afrikaanse Bybel amptelik deur die kerke in gebruik geneem. Ons het op Sondag 23 Augustus 2023 die 90ste herdenking van die Bybel in Afrikaans gevier. Ek is versoek om ‘n oorsig te gee waarom Bybelvertaling vir die kerk belangrik is en hoe die Bybel in Afrikaans tot stand gekom het.

Ek plaas dit ook hier vir wie sou belangstel.

Die Covid inenting en 666


Foto geneem van: goodquestionblog.com

In reaksie op my vorige artikels, is een van die argumente wat ek dikwels teëkom, soortgelyk aan die volgende: “Wat van die waarskuwing in Openbaring 13? Daar staan in vers 16 – 17: “…en hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hul regterhand en op hulle voorhoofde gegee word: sodat niemand kan koop of verkoop nie,…” Is hierdie inenting nie die merk van die dier nie, want mense word reeds verbied om te koop (restaurante, museums, ens)? … Satan gaan mense verlei en hulle gaan die merk gegee word sonder dat hulle weet omdat hulle soos skape agter die massas aanloop.

Continue reading

Selfverdediging in die lig van die Skrif

In hierdie sessie met die professie fokus ek op die voorgestelde wysigings aan die Wet op die beheer van Vuurwapens en veral die voorgestelde wysigings aan afdeling 13 van die wet wat beoog dat selfverdediging as motivering vir die besit van ‘n vuurwapen geskrap moet word. Bybelse beginsels word geweeg teen die werklikheid van die situasie in ons land en die vraag of die kerk by hierdie debatte betrokke moet wees, word aan die orde gestel. Die voorgestelde wysigings raak egter aan ander Bybelse beginsels as net dié van selfverdediging en word kortliks aan die orde gestel.

 

Paasfees – die betekenis van die opstanding van Christus.

Volg hierdie skakel na ‘n artikel wat ek geskryf het oor die betekenis van Paasfees en die opstanding van Christus.

Wat is die gevolg van Christus se oorwinning oor die dood?

Pinksterreeks 2020 – Die onse Vader gebed Deel 2

As gevolg van die COVID-19 inperkings en die feit dat byeenkomste van die kerk nie toegelaat word nie, word die pinksterreeks hierdie jaar opgeneem en aanlyn beskikbaar gestel. Die tema vir die week is: Ons Vader wat in die hemel is leer ons bid oor alles wat ons nodig het. In die tweede deel luister ons vanaand wat is die betekenis van die woorde: Laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde…

Luister gerus na hierdie week se pinksterreeks wat ‘n boodskap van troos en bemoediging inhou vir almal van ons.

Seënwense

Boodskappe van hoop oor COVID-19 inperkings

Ek het onder vlak 5 van die COVID-19 inperkings elke dag ‘n oordenking aangebied, met die doel om te bemoedig in die tyd van inperking. Luister gerus daarna. Dit is hier gelaai. 

The Riot and the Dance film uitgestel weens COVID-19

Vroeër is berig dat The Riot and the Dance ‘n eksklusiewe geleentheid is om God se skepping op ‘n unieke manier te beleef. Ongelukkig is die vertoning wat geskeduleer was vir 15 April 2020 in Pretoria gekanselleer tot verdere kennisgewing weens die totale inperking (“lockdown”) wat geld vanaf 26 Maart 2020-16 April 2020.

Eksklusief: Bekendstelling van “The Riot and the dance: Water”

Die Afrikaanse Protestantse Akademie bied met trots aan:

The RIOT AND THE DANCE: WATER

Hierdie dokumentêr is vervaardig deur dr. Gordon Wilson en bied ‘n Christelike perspektief op BBC Earth se evolusionistiese dokumentêre reeks oor die aarde.

Die AP Akademie het die regte gekoop om die film in Suid-Afrika te vertoon. Die glansgeleentheid vind plaas op 15 April 2020. Die film word aangebied in hoë definisie by die Rockwood Teater in Pretoria.

Kom duik saam met dr. Gordon Wilson in GOD se vloeibare wêreld, in hoë definisie en stereo. Die dokumentêr vat ons deur die waters van die aarde, alles geskep deur een Skepper-Kunstenaar.

Die dokumentêr bied ‘n antwoord vir mense wat dink dat die aarde deur ‘n groot knal ontstaan het.

Kaartjies is beperk, so spring gou.

Bespreek u kaartjies deur Quicket 

of besoek die webwerf https://riotandthedancewater.mailchimpsites.com/ vir meer inligting.

Kyk die lokprent hier:

AP Akademie: The Riot and the Dance Water

Die kerk en die regstelsel: verset teen polities-korrektheid.

Adv. Nadene Badenhorst van Freedom of Religion SA was ‘n gasspreker by die APA se teologiese dag op 27 Januarie 2020. Die tema vir die dag was: Mag die kerk in verset kom? Ek het reeds vroeër my tema, naamlik Bybelse modelle van verset geplaas, waarby adv. Badenhorst se tema aangesluit het. Adv. Badenhorst het gefokus op die bediening en verset teen polities-korrektheid. Hieronder volg haar interessante aanbieding.

 

Iemand vir wie ek omgee het betrokke geraak by ‘n kultus of sekte…

Ek kry vanoggend die volgende vraag van iemand wat moedeloos is omdat iemand vir wie hulle baie omgee betrokke geraak het by ‘n sektegroep en nou alle waarhede van die Bybel bevraagteken. Wat moet ons in so ‘n geval doen?

In die eerste plek moet ons ‘n dwaalleer of sekte beskou as ‘n standpunt wat in stryd is met die Bybel. Ons sal dus onsself moet ingrawe in die Bybelse antwoorde op die sake waarin die sekte dwaal om ‘n behoorlike en aanvaarbare antwoord reg te hê.

Maar dit is ook belangrik om te besef dat ‘n mens iemand wat by ‘n sekte betrokke is baie moeilik oortuig van die dwaalleer: sektes is geneig om hulle volgelinge se kennis oor ‘n onderwerp so te indoktrineer en bestaande waarhede so af te breek, dat die volgelinge mettertyd begin glo dat net hulle reg is. En wanneer hulle teenkanting kry, is dit presies wat hulle verwag want, so glo hulle, “dit is die duiwel wat probeer om hierdie ‘waarheid’ met leuens te vul”. Een van die klassieke kenmerke van ‘n sekte is die werkswyse waarin bestaande kennis gewysig moet word, bv. Christelike feesdae word beskou as heidens, of Christelike simbole word as verdag beskou, of Christelike gebruike word bevraagteken, Bybeltekste of -vertalings word verdag gemaak, ‘n persoon beskou homself as die primêre stigter of leier van die groep, en hou daarvan om na homself te verwys as die “stigter”, of “profeet” of “eerste”.

Prakties is daar ‘n paar dinge wat ons moet en nie moet doen nie:

  • Moenie toelaat dat die persone wat by die sekte betrokke is, met jou redeneer oor Bybelse waarhede nie. Neem die Skrif as enigste norm en bewys jou standpunt uit die Skrif.
  • Behou kontak sover moontlik. Dit bly ‘n mens se ouers/kinders/familie, en al is hulle op ‘n dwaalspoor is die reaksie wat hulle verwag, dié van verwerping. Indien hulle verwerp word, versterk dit hulle idee dat hulle die waarheid beet het, want die wêreld is nou teen hulle.
  • Probeer om nie oor kerklike sake te redeneer nie.
  • Indien die gesprek wel oor kerklike sake handel, stel die waarheid van die Bybel op ‘n kalm manier en moenie uitgelok word om kwaad te word nie. Mense wat betrokke is by sektes hou daarvan om ander uit te lok om hulle humeur te verloor.
  • Wees op hoogte van die feite. Maak bv. seker waarom jy glo wat jy glo.
  • Gebruik die gesprekke as ‘n geleentheid om te bevraagteken wat hy/sy glo. Vra bv. logiese vrae, soos: as julle ‘n probleem het met die datum van hierdie fees, en julle dit nie verstaan nie, dink julle die kerk deur die eeue heen was so onkundig? Is dit nie dalk julle wat nie verstaan nie? As Christus alleen die weg en die waarheid is, maak dit saak as die fees op hierdie of daardie manier gevier word? Hoekom? Hoekom nie?
  • Feitlik alle sektegroepe het een-of-ander messias buiten Christus. Probeer om te bepaal wie dit is, en wys op die feit dat alleen Christus die weg is.
  • Baie mense sluit by sektes aan omdat hulle teleurgestel is in die kerk. Sektes trek mense deur hulle omgee en warmte, maar versmoor mense se gesonde verstand met valse gerustheid en twyfel oor die dinge wat hulle tot dusver as waarheid aanvaar het. Die enigste manier om met dwaalleer te werk is om konsekwent die waarheid voor te hou en te glo dat die Gees met die verstand en die hart werk.
  • Hou aan om vir hulle te bid. Die gebed van ‘n regverdige het groot krag.

Om te vergewe – ook horisontaal

Hoe dikwels hoor ‘n mens nie iemand sê: “ek sal so iemand vergewe, maar wat hy/sy aan my gedoen het, sal ek nooit vergeet nie”? En dit is inderdaad so dat wanneer dit by die onreg kom, het meeste van ons ‘n geheue soos ‘n olifant. Dink net hoe God die dinge wat die mense doen met goeie rede teen hulle behoort te hou. Dink net hoe God ten spyte van ons tekortkominge en nie as gevolg daarvan nie, na ons lewe kyk.  “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” – 1 Joh. 1:9. 

Oorsaak van die sonde

Hoekom is die wêreld so vol sonde? Toe die Here die aarde gemaak het, was alles dan só goed en mooi (Gén. 1:31)? Ja, ook die skepping van die mens was goed en mooi. Die boosheid van die mens kom dus nie uit die skepping nie, maar moet op ‘n ander plek gesoek word. Ons hoef nie te wonder waar al die onreg op die aarde vandaan kom nie. Dit kom uit die mens, ja, uit sy hart. Jakobus leer: Moenie dwaal nie (Jak. 1:16) – sonde kom uit jou hart en as dit vertroetel word, mond dit uit in dade. Die mens het deur sy eie sonde die rein skepping kom besoedel. Die Skrif leer ons in 1 Johannes 1:8-10 dat daar vir ons ‘n uitkomkans is – bely die onreg! Wanneer ons ons sonde bely, is Hy getrou en regverdig om dit te vergewe, leer vers 8.

Ook horisontaal

Sondevergifnis kan egter nie van een kant af kom nie. As God jou vergewe, hoeveel te meer behoort ons nie mede-sondaars (mede-mense) te vergewe nie? Hoeveel twis en liefdeloosheid kan daar nie tussen families wees nie? Gaan maak reg, terwyl jy nog tyd het. Hoeveel ongelukkigheid veroorsaak ons nie deur te vinnig te reageer op Facebook nie? Dink bietjie daaroor. Hoeveel moeilikheid het ons nie al veroorsaak deur ‘n whatsapp boodskap nie? Dink voor jy praat impliseer ook: dink voor jy tik en “send” druk. Wat gesê is, is gesê. Jy sal dit nooit weer kan “ont”sê nie.

Die mens moet waak daarteen om die genade van die Here te wil toe-eien en die vergifnis te wil omhels, sonder om die vergifnis horisontaal uit te deel na die medemens. Soos Christus vergeef het, moet julle ook vergeef. As jy dit regkry om te vergewe, het jy die bewys van God se genade in jou lewe (Heidelbergse Kategismus, Sondag 51, vraag 126). God gee sy genade aan die sondaarmens wat sy lewe aan God verskuldig is. Dit gee jou die krag om vanuit die genade te kan leef in vergifnis.

Voorwaarts pelgrims!

Een van die mees bekende Christelike werke van alle tye, naamlik John Bunyan se “The Pilgrim’s Progress” (geskryf in 1678) kom hierdie Paasfees na die groot skerm. Dit is ‘n animasie-film wat geskik is vir oud en jonk. Die werk handel oor die gelowige se stryd hier op aarde as pelgrim oppad na die hemelhuis. Dit is nie alleen een van die eerste verhale in Engels geskryf nie, maar is ook die eerste Christelike verhaal wat geskryf is uit ‘n Protestantse oogpunt en na die stryd om die nou pad te volg, kyk.

Die verhaal vertel van Christian (die naam sê sommer al reeds wie die persoon is) wat reis van sy huis af na ‘n ver land. Christian wil homself verlos van die juk van sy sonde. Langs die pad ontmoet hy verskillende karakters (onder andere moraliteit) wat hom probeer wys maak dat die weg na verlossing langs een van hierdie idees loop. Uiteindelik leer Christian dat die enigste weg na die beloofde land is deur die geloof.

Kyk gerus die lokprent hieronder.

 

Moet almal in Prokrustes se bed kan pas?

Die heidense Grieke het destyds geglo dat Proskrustes ‘n mitologiese figuur was wat mense gevange geneem het en in sy ysterbed laat pas het: as die persoon te lank is, sny hy die persoon die regte lengte en as die persoon te kort is, word jy gerek om in te pas. Dit word in vandag se samelewing te maklik aanvaar dat almal dieselfde oor alles moet dink.


Ek het die voorreg gehad om onlangs by Acton Universiteit in Grand Rapids, Michigan in die VSA ‘n aantal kursusse by te woon. Een van die aanbiedings wat vir my van besondere waarde was, was een deur Michael Matheson Miller. Ek deel graag ‘n samevatting daarvan.

Die vraag wat Michael Miller gevra het tydens die aanbieding oor ‘n Christelike visie op die persoon, was: wat gemaak as jy as Christen die uniekheid van God se skepping aanvaar en nie glo dat almal in een bed hoef te pas nie?

Hierdie vraag is veral belangrik in die huidige konteks in Suid-Afrika, aangesien die meerderheid se standpunte oor rasseverhoudinge, oor wat ‘n huwelik is, oor grondbesit, eiendomsreg en ander etiese sake nie noodwendig rekening hou met God se Woord nie. Wat as die meerderheid oor ‘n saak besluit maar dit is in stryd met die wil van God? Die meerderheid is tog nie altyd reg nie? Dit is dus belangrik om ‘n gesonde beeld te hê van die mens en sy plek in die skepping. Ons fokus hier op vier beginsels wat Michael Miller in sy aanbieding tydens die VSA konferensie beklemtoon het, wat ons in die huidige konteks in ons land in perspektief moet hou.


Die mens kan onderskei tussen reg en verkeerd

CS Lewis verwys na die dilemma van die moderne mens: die moderne mens het die organe van ‘n gesonde samelewing uitgehaal, maar verwag dat die samelewing gesond moet voortlewe. Om gesond te lewe, moet daar ‘n besef van reg en verkeerd in die samelewing wees en moet almal in die samelewing hulle aan die beginsels van wat reg en verkeerd is, verbind. Daar kan egter net een wyse wees om reg en verkeerd te toets. Volgens die Skrif is die mens gebind aan God se Woord en word reg en verkeerd gemeet aan die gehoorsaamheid al dan nie aan dié Woord.

Waarheid kan nie in alle opsigte gemeet word nie. Hoe weet iemand of ek my vrou liefhet? Kan iemand dit meet? Natuurlik nie! ‘n Mens sou kon sien aan die wyse hoe ek optree teenoor my vrou, maar die waarheid kan nie gemeet word met ‘n meetinstrument nie! Ons twyfel egter nie in wat waarheid is nie, aangesien God in sy Woord aan ons die meetsnoer vir waarheid gegee het. Die mens verstaan emosie, geloof, ervaring en kan sin maak uit voorspoed en teëspoed. Ons mag dus nie bepaal wat reg is, deur te aanvaar wat vir ons gemaklik is of selfs wat die meerderheid se opinie oor ‘n saak is nie. Ons moet bepaal wat reg en verkeerd is deur dit te meet aan die Skrif.


Die mens leef uit sy handewerk

Die mens verstaan die sin in die lewe. Diere verstaan wel hoe om iets te maak, maar hulle verstaan nie “hoekom” nie. ‘n Bewer kan ‘n dam bou. Maar bewers bou nie verskillende damme en verhuur dit aan die ander diere van die dam uit nie. Die mens het die vermoë om met sy intelligensie te kan skep en ‘n bestaan uit sy handewerk te kan maak. Om ‘n bestaan te maak uit jou handewerk en daaruit ‘n ekonomie te bou en in stand te hou, is dus wesenskenmerk van menswees. Daarvoor hoef ons nie jammer te sê of oor skaam te wees nie. God het ons so gemaak.

Die mens kan offers bring ter wille van die groter geheel

Teenoor diere het die mens die vermoë om te kan offer. Ons kan ter wille van ‘n saak, gemeenskap, familie of godsdiens opofferinge maak omdat ons die einddoel van die opoffering verstaan en kan sien dat die opoffering uiteindelik help om ‘n gesonde samelewing te bou wat weer vir ons en ons familie voordele inhou.

Die mens is ‘n morele wese

‘n Hond sê nie: “sjoe sy is baie mooi en ek begeer haar, maar ek sal wag tot ons trou” nie. Die mens is egter ‘n morele wese. Omdat ons weet wat reg en verkeerd is, moet ons kan sê: “ek sal wag tot ons trou”. Om dus eenvoudig aan vleeslike begeertes toe te gee, sonder om te wonder of iets reg of verkeerd is, tree ons soos ‘n redelose diere op. Om irrasioneel op te tree, maak jou nie vry nie. As iemand sy kop aanhoudend teen die muur bly stamp, sal ons mos nie sê: Kyk hoe vry is daardie persoon, nie. Vryheid beteken dus gebondenheid. ‘n Vis kan net vry wees wanneer hy in water is. Om ‘n vis uit die water te haal en op droë grond neer te sit en te sê: “Wees vry, vissie, nou is jy nie meer gebind aan die water nie”, maak nie die vis vry nie, maar neem eerder sy lewe. In dieselfde sin word ons deur die Woord van God gebind tot vryheid. Daarmee word bedoel dat die Woord van God vir ons duidelike grense gee waarvolgens ons moet lewe en solank ons binne die grense beweeg, gee Hy ons die vryheid om sy skepping te geniet en te waardeer. Buite die grense is egter nie vryheid nie, maar die dood.


Slot

Ons moet daarteen waak dat die meerderheid se opinie waarheid en leuen, reg en verkeerd, goed en sleg bepaal. Dan word die samelewing ‘n bed van Proskrustes waarin die individu gesny of gerek word om in die meerderheid se figuurlike bed te pas. Reg en verkeerd is duidelik – al is jy in die minderheid!

Die evangelie volgens die Beatles

Die skrywer, Steve Turner, het ‘n boek geskryf waarin hy die geestelike en godsdienstige invloed van die Beatles bespreek. Die Beatles word beskou as die “band that changed the history of music forever”.

Turner bespreek hoe die Beatles die hedendaagse kultuur en lewe op alle terreine beïnvloed het.

In 1966 het John Lennon ‘n herrie veroorsaak toe hy gesê het: die Beatles is meer populêr as Jesus. Op daardie stadium het sy opmerking belaglik geklink. Die Beatles is ‘n pop-groep en Jesus ‘n geestelike leier en die Verlosser van die mensdom. Maar oor die volgende paar jaar het hierdie gewilde groep geestelike leiers geword vir ‘n generasie wat ‘n uittog uit die kerk gemaak het en op soek was na vastigheid in ‘n wêreld waarin al die sekerheid begin verkrummel het. Continue reading

Waarom laat God toe dat mense swaar kry?

Ek het onlangs weer ‘n artikel geskryf oor die vraag: waarom laat ‘n liefdevolle God toe dat selfs gelowiges swaar kry? Die artikel bied ‘n kort teologiese antwoord op die vraag en is bedoel vir persone wat bietjie dieper na die probleem wil kyk as bloot ‘n “maklike” en “vinnige” antwoord op die probleem. Continue reading

Die klippe sal dit uitroep

Toe die Here Jesus destyds op die rug van ‘n donkie in Jerusalem ingekom het, was sommige opgewonde en het lofliedere vir Hom gesing, en ander was vies en het probeer om sy volgelinge stil te maak (Luk. 19:38-39). Jesus se antwoord was dat as die dissipels stilbly, sal die klippe dit uitroep dat Hy die Koning is (vers 40). Continue reading

Hoe wyd is die deursnee van jou lig?

Ek lees vanoggend ‘n opmerking van Douglas Wilson wat ek graag wil deel en so bietjie wil uitbrei. Wilson verwys na ‘n aanhaling van Thomas Chalmers oor die deursnee van duisternis. Hierin maak Chalmers ‘n interessante opmerking wat ek dink ons meer moet oordink as dit voel of duisternis ons wil oorweldig. Chalmers gebruik die volgende beeldspraak: Hoe groter die deursnee van lig, hoe groter word die deursnee van duisternis. Dit is: hoe meer die lig in ‘n vertrek versprei word, hoe verder moet die duisternis wyk en gevolglik, hoe verder is die donkerte se reikwydte. Treffende vergelyking!

Hoe meer Christene hulle lig laat skyn, hoe verder wyk die duisternis en hoe wyer word die deursnee van die donker.

Die Woord herinner ons in 1 Johannes 1:5 “God is lig, en geen duisternis is in Hom nie”. Een gevolg van die feit dat God lig is, is dat Hy alleen volkome waarheid is. En daarom volg vers 6 met die woorde: “As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel, dan lieg ons en doen nie die waarheid nie”. Continue reading

Die ironie van Vadersdag

Sondag was Vadersdag. Hoe ironies dat die 21ste eeu se mense  graag ‘n spesiale dag vir vaders hou, maar dat die rol van vaders in hulle gesinne as outyds afgemaak word. Continue reading

Apokaliptisisme maak die kerk lam

Ai ons volkie darem! Die snert wat mense so gretig op sosiale media kan versprei maak my lam…

In sy boek, Bad Religion: How we became a nation of heretics, beskryf Ross Douthat in besonderhede wat gebeur het in die geskiedenis van die VSA met die opkoms van die Christendom, veral die Protestantse Christendom sedert die 18de eeu en hoe die Evangelie mettertyd in die hart en die verstand van die volk gesterf het totdat die nasie – nie ateïste is nie, maar goddeloses – mense met ‘n gevoel vir godsdiens en ‘n soeke na reg en verkeerd, maar ‘n hunkering na eie godsdiens en die reg en verkeerd ten opsigte van jou eie voordeel of dié van die “nasie”. In baie opsigte stem wat Douthat van die situasie in die VSA beskryf, vandag ooreen met die trant van sekularisering van Suid-Afrika, en die skokkende vlak van geestelike- en teologiese onderskeidingsvermoë in die deursnee lidmaat se lewe. Continue reading

Opvolg op gesprek: Daar is meer!

Verlede week het ek verwys na ‘n referaat wat ek gelewer het in verband met die sakramentsbeskouing van die reformasie en spesifiek die besondere belydenisskrifte onder die titel: Daar is meer! Indien u dit gemis het, lees dit hier: Daar is meer!

Tydens dieselfde geleentheid het ek die podium gedeel met prof. Danie Goosen, wat ‘n referaat gelewer het met dieselfde titel, met fokus op die gemeenskapsgedagte as antwoord op die liberale modernisme. Continue reading

Verassing. Is dit ‘n beginsel of eie besluit?

In ‘n interressante verwikkeling het die Rooms Katolieke Vatikaan vroeër hierdie week nuwe riglyne vrygestel vir lidmate van dié kerk oor verassing. Continue reading

Is dit in die drinkwater? Nee, in die hart!

Iemand sê onlangs in ‘n gesprek hy kom uit die dae toe “gay” beteken het jy is bly oor iets (soos Shakespeare en ander bekende skrywers dikwels die woord in Engels gebruik het).

Vandag het dit ‘n gelaaide sosiale term geword vir ‘n saak waaroor kerke eerder na die Bybel as na die samelewing behoort te kyk om antwoorde te soek oor die kwessie. Sou mens ‘n paar jaar gelede kon glo dat selfs Afrikaanse Gereformeerde kerke so bohaai sou maak oor ‘n saak waaroor die Bybel duidelik is en ‘n blinde met ‘n stok kan voel dit gaan meer oor sosiale aanvaarding as oor die beginsels van die Bybel in die debatte oor die saak? Een ding is seker en dit is dat dié kwessie vir kerke toenemend ‘n moeilike strydpunt gaan wees. Continue reading

Die maklike pad of die regte pad?

Sokrates se eer of God s’n?

Dit is 399 v.C. Die plek: Athene, Griekeland.

Die filosoof Sokrates word deur die jong manne van die stad beskuldig dat hy die gode minag en dat hy die jong manne aanmoedig om in opstand teen die stad se leierskap te kom.

Toe hy voor die regter gebring word, het die jong manne allerhande leuens oor Sokrates opgemaak en uiteindelik het die regter hom die doodstraf gegee. Hy moes ‘n mengsel van gif drink. Sy volgelinge onder wie die later baie bekende filosoof Plato, het hom gesmeek om die nag voor sy teregstelling uit die stad Athene te vlug, maar sy antwoord was dat hy dit nie kan doen nie, want hy het sy lewe lank sy volgelinge geleer om gehoorsaam te wees aan die gesag van die owerheid en dat dit in stryd met sy beginsels sou wees om nou te vlug. Die volgende dag het hy voor 500 mense in Athene die gif gedrink as vonnis en so het hy aan sy einde gekom. Continue reading

Die gnostici is springlewendig

Ek het so tyd gelede ‘n baie interessante artikel raakgeloop wat deur Michael Horton geskryf is oor die moderne gnostici.

Hierin lys hy die kenmerke van die dwalinge van die gnostici in die tweede tot vierde eeu na Christus en hulle invloed in die vroeg-Christelike kerk. Vervolgens vra hy die vraag of die gnostici uitgesterf het? Hy kom tot die gevolgtrekking dat die moderne herlewingsbewegings (“revivalism”) ‘n vorm van die tweede-vierde eeuse gnostici is wat in ‘n nuwe baadjie ou dwaalleringe voorstaan. Continue reading

Om sout en om lig te wees

Bestaan daar iets soos Christelike wetenskap? Moet wetenskap nie so objektief moontlik beoefen word nie? Dit is die vraag wat dikwels oor die wetenskap en die invloed van voorveronderstellings op ons beoefening daarvan gevra word.

Die afgelope eeu is godsdiens toenemend in die privaat deel van die samelewing ingedwing. Gaan kyk maar op dorpe in ons land na die plek van kerke. Waar kerke vroeër in die middel van die dorp gebou is, word kerke meer-en-meer in die buitewyke van die dorpe en in die stil systraatjies gevind. Wat die spreekwoord “uit die oog, uit die hart” dadelik by my laat opkom. Waar die kerk nie meer ‘n sigbare rol in die samelewing speel nie, word die kerk in die privaat sfeer ingedwing. “Daar in die hoekie kan julle kerk wees. Moet ons net die pla nie”. Dit laat die vraag opkom of die kerk nog iets vir die wêreld te sê het, en indien wel, op watter platform? Want die ongelowige wetenskaplike meen dat Christelike wetenskap ‘n ongesonde voorveronderstelling is en in die pad van objektiewe wetenskapsbeoefening staan.

In sy bekende werk, Exegetical Fallacies, wys Don Carson op die aanname in die nuwe hermeneutiek dat wetenskap sonder voorveronderstellings verstaan kan word, en hoe dit ‘n slaggat vir die verstaan van die Bybel kan word. As God nie as voorveronderstelling tot die wetenskap dien nie, sal iets/iemand anders wel sy plek inneem. Want wetenskap kan nie objektief wees sonder enige voorveronderstellings nie.

Ek is onlangs versoek om ‘n aanbieding voor te berei oor Christelike kuns, -kultuur en -wetenskap waarin slegs belangrike grondslae gelê word oor die Christelike beskouing van die wetenskap. In my soeke kom ek toe af op ‘n gedeelte in Eksodus 35 wat ‘n belangrike perspektief gee op die kuns en kultuur in diens van God. . 

Hoe langer godsdiens as voorveronderstelling uit die wetenskap, kuns en kultuur gehou word, hoe langer sal ‘n post-moderne voorveronderstelling oor die objektiwiteit van wetenskap, kuns en kultuur gehandhaaf word. En soos reeds aangedui, is daar nooit iets soos objektiewe wetenskap nie – dit is ‘n mite!

Gaan na https://gdssmit.files.wordpress.com/2016/09/christelike-kuns-kultuur-en-wetenskap-n-blik-op-ex-35.pdf indien jy belangstel om my perspektief op Eksodus 35 in verband met kuns, kultuur en wetenskap te lees.