Ons leef in ’n tyd waarin Bybelse gebruike en kerklike tradisies dikwels bevraagteken word. Een van hierdie vraagtekens handel oor die doop van kinders. Dit is ‘n vraag wat sedert die beginjare van die Christelike kerk gevra word en wat dikwels in ons tyd herhaal word wanneer mense vra: Moet ‘n persoon nie eers tot geloof kom voordat hulle gedoop word nie?
Teologie
Die Pinksterfees as teologiese skarnier tussen die Ou- en Nuwe Verbond
Inleiding
Pinkster, soos dit vandag in die kerk gevier word, is nie ’n losstaande gebeurtenis nie. Dit rus op ou wortels. Wat in Handelinge 2 plaasvind, is die vervulling van iets wat lank reeds gevier was. In die Ou Testament was Pinkster bekend as die Oesfees wat op die vyftigste dag na die Joodse Pasga gevier is. Tussen die Pasga en die Pinkster, was 7 weke wat bekend gestaan het as die Fees van die Weke (of Shave’ot). Dit was in hierdie tyd gebruiklik om die eerste deel van die oes as ‘n gawe aan die Here te offer en ‘n tyd van danksegging vir die oes. Maar soos die heilsgeskiedenis ontvou het, het dit méér as net ’n landboufees geword. Dit word ’n teken van die Heilige Gees wat as eerstelinggawe aan die kerk geskenk word, waar letterlik ‘n omkering plaasvind. In plaas van dat die mens aan God offer, offer God sy Seun aan die kruis en stuur Hy sy Heilige Gees as belofte dat die oes lank nie verby is nie, maar dat die ewige seën nog oppad is. In hierdie artikel volg ons die pad van Pinkster vanaf die Ou Testament, deur Israel se feeste, tot by die vroeë kerk se verstaan van die uitstorting van die Gees as die aanbreek van die nuwe verbond.
Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (5): Jean d’Arc
Daar is party name wat net eenvoudig mense se verbeelding aangryp as jy dit hoor. Een so naam is dié van Johanna van Arkel (Engels: Joan of Arc). Hoewel sy in die Middeleeue leef, klink haar lewe byna soos wat die Hebreërskrywer die wêreld se hantering van geloofshelde beskryf in Hebreërs 11:32-40. En daarom verdien sy haar plek in ons reeks oor besondere vroue in die kerkgeskiedenis.
Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (4): Macrina
In die geskiedenis van die kerk word belangrike persone soos predikante, teoloë en martelare wat geskryf, gepreek en geleef het om die waarheid te verdedig, gewoonlik onthou. Maar soms is die grootste invloed in hierdie mense se lewens nie diegene wat op ‘n kansel staan nie, maar dié wat agter hulle staan en hulle bemoedig wanneer hulle self ontmoedig word. Dit is dikwels ook vroue wat deur hul lewe, wysheid en geloof volgende geslagte beïnvloed het. Macrina, suster van Basilius die Grote en Gregorius van Nyssa, is só ’n figuur.
Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (3): Perpetua
Daar is iets wat in ‘n mens geroer word wanneer ’n jong meisie, sonder politieke mag of wapens, maar met vaste oortuiging, voor ’n keiser in ‘n Romeinse arena staan en sê: “Ek is ’n Christen, ek kan nie iets anders wees nie”. Veral as sy haarself nie as ’n slagoffer beskou nie, maar as ’n getuie vir Christus. Perpetua van Kartago was so vrou. Sy was een van die vroeë en mees invloedryke vroulike martelare in die geskiedenis van die kerk.
Besondere vroue in die kerkgeskiedenis (2) – Ester
Ester se verhaal staan soos ’n vlam van hoop in ‘n donker, ongehoorsame wêreld. Sy tree nie op in ‘n tyd van wonderwerke of profetiese visioene nie. Inteendeel, die boek wat haar naam dra, noem nie eers die Naam van God nie. Maar juis hierin lê die krag van die getuienis van die boek Ester. Ester wys vir ons dat die Heilige Gees nie net werk in dramatiese openbarings nie, maar ook in die stil vasberadenheid van ’n vrou wat gehoorsaam is in tye van krisis.
Hemelvaart – Die verheerliking van Christus en die roeping van die Kerk
Wanneer Christene die Hemelvaart van Jesus Christus vier, dink ons aan die triomfantelike oorwinning van die Seun van God wat na die hemel gegaan het om vir ons plek te berei. Hierdie gebeure, soos opgeteken in Handelinge 1, is ’n sleutelgebeurtenis wat die hele Christelike lewe, ons hoop op die toekoms en ons verstaan van sending vorm.
Die Hemelvaart openbaar die verheerliking van Christus. Die Heidelbergse Kategismus vraag en antwoord 49 vat dit mooi saam:
Vraag 49: Watter nut het die hemelvaart van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste dat Hy in die hemel ons Voorspraak by die Vader is (a). Ten tweede dat ons ons menslike natuur in die hemel as ‘n betroubare waarborg het dat Hy, as die Hoof; ook ons, sy lede, na Hom toe sal neem (b). Ten derde dat Hy sy Gees as waarborg na ons toe stuur (c) deur wie se krag ons soek na wat daar bo is, waar Christus is en aan die regterhand van God sit, en nie na wat op die aarde is nie (d).
(a)1 Joh 2:1; Rom 8:34. (b) Joh 14:2; 17:24; 20:17 2:6. (c) Joh 14:16; 16:7; Hand 2:33; 2 Kor 1:22; 5:5 (d) Kol 3:1.
Hy wat voorheen verwerp is, verneder is, gekruisig is, het opgestaan as oorwinnaar en neem sy plek in aan die regterhand van die Vader. Hierdie simboliek, om te sit aan die regterhand van die Vader, is ‘n uitdrukking om Christus se koninklikheid te beklemtoon. Hy is nie beperk tot tyd en plek nie; Hy heers oor alle dinge (Efesiërs 1:20–23).
Teen die stroom van wanpersepsies: Afrikaners, grond en Bybelse geregtigheid

Foto geneem vanaf: https://www.denisonforum.org/daily-article/trumps-contentious-meeting-with-south-africas-president/
In hierdie week se artikel getiteld: Teen die stroom van wanpersepsies: Afrikaners, grond en Bybelse geregtigheid, fokus ek op ’n onlangse artikel deur Denison Forum in die VSA oor president Donald Trump se ontmoeting met mnr. Ramaphosa, waarin beweer word dat die rede vir die misdaad in Suid-Afrika toegeskryf kan word daaraan dat die helfte van die grond in die land aan wit mense behoort, wat Afrikaners na hierdie mening op onregmatige wyse in die verlede verkry het. Ek verwys na die publikasie, Disputed Land, van Louis Changuion en Bertus Steenkamp en bespreek waarom dit ook nodig is dat ons in hierdie debat moet vra wat die Bybel oor grondbesit leer.
Die godsdiens van die Persiërs in die tyd van Ester
Ek en ‘n paar kollegas is tans besig om te werk aan ‘n publikasie oor die boek Ester wat DV moontlik later vanjaar beskikbaar sal wees, wat onder andere kommentaar op die teks van Ester sal insluit en heelwat agtergrondgeskiedenis gee wat die konteks en uitleg van die boek Ester oopbreek.
Een van die sake wat in die studie van die boek Ester sterk na vore kom, is die subtiele rol wat die godsdiens van die Persiërs gespeel het in die besluite van Ahasvéros (Xerxes I), die bevele wat hy uitvaardig en Haman se optrede teenoor die Jode in die vesting Susa, asook die subtiele rol wat Moira (die noodlot) in die leefwêreld van die Persiërs gespeel het teenoor die Joodse verstaan dat alles deur die beskikking van God gebeur.
Aangesien die gemelde publikasie reeds ‘n lywige stuk agtergrond oor die ballingskap, die Persiërs en die verstaan van die gebeure in Ester bevat, bespreek ek in hierdie artikel ‘n aspek wat wel klem kry, maar nie breedvoerig bespreek word nie, naamlik die godsdiens van die Persiërs. Hierdie godsdiens het ‘n prominente rol gespeel in die manier hoe die Persiërs aan die een kant, en die Jode aan die ander kant, na die gebeure wat in die boek bespreek word, gekyk het.
Ek wil hier aan die een kant ‘n voorsmakie gee van wat beoog word met die publikasie, asook die geleentheid gebruik om bietjie wyer oor die onderwerp van die godsdiens van Persië te skryf sodat ons as lesers geprikkel word om die publikasie self te gaan lees. Hierdie agtergrond help die leser van die boeke Ester, Daniël, Nehemia en Esra (boeke wat in die Persiese regeringstydperk afspeel) om ‘n greep te kry op die leefwêreld van die Persiërs in dié tyd. Ester is voorwaar ‘n besondere boek in die Bybel wat die moeite werd is om self deur te werk. Al kom God se Naam nie eenmaal in die Hebreeuse teks van Ester voor nie, kan ‘n gelowige nie anders as om die onsigbare hand van God en sy voorsienigheid in die gebeure in Ester raak te lees nie.
Die geloofsbelydenis van Nicéa – 1700 jaar later
Op 20 Mei 2025 vier die Christelike kerke wêreldwyd die 1700ste herdenking van die Geloofsbelydenis van Nicéa. Hierdie belydenis is een van die belangrikste geloofsverklarings in die geskiedenis van die Christendom. Hierdie viering herinner ons aan die betekenis van belydenisskrifte in die oordrag en belydenis van die suiwer leer. Dit herinner ons ook aan die stryd wat in die kerk deur die eeue heen gewoed het om die waarheid van die Evangelie te beskerm teen dwaalleer.
In hierdie artikel fokus ek op die ontstaan en op die redes waarom die Geloofsbelydenis van Nicéa steeds belangrik is vir die kerk in die 21ste eeu.
Afrikaans 100: Taal as gawe van God

Die Taalmonument in Paarl
(Foto geneem vanaf: https://southafrica.co.za/taalmonument-paarl.html)
Op 8 Mei 2025 vier ons die honderdjarige herdenking van Afrikaans as amptelike taal. Die erkenning van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 1925 het status verleen aan Afrikaans as dié inheemse taal wat binne dekades sou ontwikkel van “kombuistaal” tot wetenskapstaal. Vanjaar se viering bied ‘n geleentheid om stil te staan by die waarde van taal in die lig van die Skrif.
Die gebruik van die woord ‘natuur’ in Romeine 1
Die afgelope paar jaar is daar veral van die kant van die Skrifkritiek (en hulle invloed op die kerk) toenemend gesprekke oor die gender-vraagstuk. Die Bybel beskou geslagtelikheid egter slegs as “manlik” en “vroulik”. Die mens word na God se beeld geskape. Dit beteken nie dat God ‘n geslag het nie, maar dat die menslike bestaan in hierdie twee vorme die beeld van God reflekteer in ’n komplementêre verhouding. In Genesis 2 word verder uitgebrei: Eva word uit Adam geskep as sy “helper wat by hom pas” (Genesis 2:18). Hierdie skeppingsorde impliseer ’n doelbewuste en aanvullende verhouding tussen die geslagte.
Die Bybel erken en bevestig die liggaamlike verskille tussen man en vrou as deur God ontwerp (vgl. Levitikus 18 en 20), naamlik bv. moederskap en vaderskap word as deel van God se skepping gesien en hou verband met geslagsverskille. Die verskillende rolle in die huwelik en gesin is juis gebaseer op hierdie verskille (Efesiërs 5:22–33).
Ten spyte van sommige teoloë se argument dat homoseksualiteit ‘n vraagstuk was in die Ou Testament of ten minste in die Grieks-Romeinse kultuur verband gehou het met die wyse waarop die heidene hulle godsdiens gevier het, het Jesus Christus self bevestig dat daar ‘n godgegewe skeppingsorde is: “Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie…” (Mattheus 19:4)?
In hierdie artikel fokus ek op een van die tekste wat onder skoot is te midde van die gesprek oor geslagtelikheid, naamlik Romeine 1.
Paulus se gebruik van natuur in Romeine 1 funksioneer op drie vlakke:
- Openbaringsvlak – Die natuur openbaar God aan almal.
- Normatiewe vlak – Die natuur stel ‘n standaard vir menslike gedrag.
- Oordeel– Die verwerping van die natuur soos God dit geskape het bring die oordeel van God.
Moet ons in die letterlike opstanding van Christus glo?
In ’n tyd waar sekularisasie nie net ’n wêreldbeskouing is nie, maar baie mense se manier van dink geword het, word die opstanding van Christus dikwels herinterpreteer as ’n simboliese waarheid of ’n geestelike metafoor. Soos Alan Noble opmerk, is dit nie dat mense aktief teen die idee van ’n opstanding as ‘n wonderwerk gekant is nie, maar dat hulle dit eenvoudig nie as ’n moontlikheid oorweeg nie omdat dit nie met die menslike verstand of die moderne wetenskap wat wil bewys, rym nie. Hierdie sekulêre verbeelding stel ons voor die vraag: Is dit redelik om in die 21ste eeu in die letterlike, liggaamlike opstanding van Jesus Christus te glo?
Die Groot Versoendag en sy vervulling in Christus
Ons vier komende naweek Paasfees. Die hoogtepunt van die viering van Paasfees in die Ou Testament was die viering van die Groot Versoendag. Die Groot Versoendag (Hebreeus: Yom Kippur) is die belangrikste dag in die Ou-Testamentiese Joodse kalender. Op hierdie dag verootmoedig die volk hulleself deur te vas en deur onthouding van sekere kosse.
Maar watter betekenis het die Groot Versoendag vir die kerk in die Nuwe Testament en hoe is dit in Christus vervul?
Die gee van tiendes in Gereformeerde perspektief
Die onderwerp van tiendes is vir baie gelowiges ’n saak van geloofsoortuiging en finansiële verantwoordelikheid. Sommige gelowiges gee nie graag tiendes nie, en soek allerhande verskonings om die verantwoordelikheid af te skuif.
Die Teologie van die tafelfees in Lukas
In die kerklike jaar nader ons Paasfees. Paasfees herinner aan twee belangrike tafelfeeste.
– Die tafelfees van die Pasga in die Ou Testament
– Die tafelfees van die Nagmaal in die Nuwe Testament
Tafelfeeste is egter ‘n prominente tema in die Bybel, en kom veral in die evangeliebeskrywing volgens Lukas sterk na vore.
Die Evangelie volgens Lukas bied ‘n unieke venster op die bediening van Jesus, veral in terme van sy interaksies met mense aan tafel. Meer as enige ander evangelis, wys Lukas hoe maaltye ‘n sentrale rol speel in Jesus se bediening, nie bloot as sosiale gebeure nie, maar as teologiese momente waarin die aard van die koninkryk van God geopenbaar word. Die tafelfees word in Lukas aangewend as ’n simbool van gasvryheid, verwelkoming in die koninkryk, en die nuwe gemeenskap wat Jesus vorm rondom sy eie persoon. In hierdie artikel bespreek ek hoe Lukas, deur Jesus se tafelfeespraktyke, ‘n visie van God se koninkryk verkondig—een waarin uitsluiting omgekeer word, sondaars en armes raakgesien word, en sosiale en godsdienstige grense oorskry word.
Die kerk het veel te danke aan die teologie van Cyprianus
Cyprianus was een van die kerkvaders uit Karthago, Noord-Afrika. Dit is vandag geleë in Tunisië. Naas Chrysostomos (347-407 n.C.) en Augustinus (354-430 n.C.), het Cyprianus een van die grootste invloede op die kerkhervormers, onder andere Johannes Calvyn en Martin Bucer, uitgeoefen.
In hierdie artikel bespreek ek die rol wat Cyprianus gespeel het in die formulering van die teologie oor die volharding van die heiliges in die tyd nadat die vervolging van die vroeg-Christelike kerk gestaak is.
Paasfees – die betekenis van die opstanding van Christus.
Ontmoet die lewende Christus
Paasfees is voor die deur en duisende mense is besig om reg te maak om die “lang naweek” te gaan uitspan. Baie van hulle vra nie eens meer die vraag wat vier ons dié naweek nie?
Teologie vs. Godsdienswetenskap
Vir dié van julle wat belangstel (in besonder die predikante en teoloë): ek het vanoggend ‘n referaat gelewer oor die Nuwe-Testamentiese wetenskap ten opsigte van die moderne Teologiese vakdissiplines.
Die moderne neiging is om “Teologie” te vervang met “Godsdienswetenskap” by Teologiese Fakulteite (ook hier in Suid-Afrika). Vanuit die geskiedenis kan ons duidelik sien dat daar ‘n filosofiese verskil bestaan tussen die twee, waar die kerklike voorgangers deur die eeue heen ten gunste van Teologie in die plek van Godsdienswetenskap geredeneer het. In die referaat sit ek uiteen watter aksente ‘n rol speel in die twee benaderings en bespreek die vraag: is Teologie ‘n wetenskap of kuns?
Die referaat is hier beskikbaar: Teologie vs. Godsdienswetenskap